ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Awa du Toit (34). Foto verskaf.

Jong man sterf na fratsongeluk

Date: 10 January 2020 By: Andries van Zyl

Huldeblyke van oral is die afgelope week op sosiale media versprei vir die 34-jarige Awa du Toit van Louis Trichardt wat op 6 Januarie oorlede is.

Wat bedoel was as ‘n welkome wegbreek Desember vakansie vir Awa en sy vrou Denise het in tragedie geëindig. Die egpaar het op 30 Desember 2019 besoek afgelê by die Rush Greenstone trampolienpark in Johannesburg. Na ‘n tru-bolmakiesie in die sponsput het Awa op sy nek geval en sy sesde en sewende nekwerwels gebreek. Die verskuiwing het ‘n algehele dislokasie veroorsaak wat die rugmurg in geheel afgesny het.

Awa is ná sy besering opgeneem in die spinale eenheid van die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg. Na ‘n moedige stryd van sewe dae het die erge graad van die besering egter die oorhand gekry en is hy Maandag om 05:30 in die teenwoordigheid van sy vrou, sy suster Elmula en sy pa Gerrit du Toit, en dié se vrou Yolandi, oorlede.

Awa (Abraham Carel) is op 15 Januarie 1985 in Evander gebore van ouers Gerrit en Susel du Toit. Hy was sedert die ouderdom van vyf jaar woonagtig op Louis Trichardt waar hy by Laerskool Soutpansberg skoolgegaan het. Hy het ook skoolgegaan in Pretoria en Langebaan, maar gematrikuleer in Louis Trichardt.

Ná skool het Awa ‘n diploma in hotelbestuur voltooi en begin werk by die Wildplaas Lodge. Daarna was hy betrokke by ‘n kwekery en toe by skrootmetaal herwinning. Ten tye van sy dood was hy werksaam by Nedtex Scrapmetals. Hy is op 3 Oktober 2010 met Denise getroud. Daar is geen kinders uit die huwelik gebore nie.

“Ons wil die personeel van die Spinale Eenheid in die Charlotte Maxeke Hospitaal bedank vir hulle toegewyde, bekwame en besorgde diens,” het die familie gesê. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die gemeenskap, vriende en familie vir hulle ondersteuning, bemoediging en veral gebede. “In ‘n tyd wat ons in ‘n mistige donkerte gevlieg het, was elke gebed ‘n lig langs die landing strook, wat getrou ‘n baken was wat ons weer tot op vaste grond gelei het,” het die familie gesê.

Wyle Awa word Vrydag, 10 Januarie, om 11:00 vanuit die AGS-gemeente in Louis Trichardt begrawe.

 

 
 
 

Viewed: 3251

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT