ADVERTISEMENT:

 

 
 

Anton van Zyl (middel) en sy twee seuns, Jaco (links) en Elardus, in die sneeu bo-op Kilimanjaro.

Limpopo “avonturiers” durf Afrika se hoogste berg aan

Date: 11 January 2020 By: Anton van Zyl

‘n Groepie “avonturiers” van Limpopo het besluit om die nuwe dekade op ‘n unieke wyse te groet. Hulle het deel gevorm van ‘n span klimmers wat die berg Kilimanjaro, Afrika se hoogste punt, uitgeklim het en op 1 Januarie 2020 die oggend se eerste sonstrale vanaf ‘n hoogte van bykans 6 000 meter bo seevlak kon ervaar.

Anton en Adri van Zyl, asook hul twee seuns, Jaco en Elardus, was deel van ‘n groep van 11 Suid-Afrikaners wat op 26 Desember vertrek het na Tanzanië. Tot hul verbasing het hulle op Nairobi-lughawe, waar hulle ‘n aansluitingsvlug na Kilimanjaro moes kry, nog ‘n avonturier van Limpopo ontmoet. Rovha Kharivhe is ‘n tandarts van Thohoyandou wat ook besluit het om die uitdaging aan te durf. Die ander lede van die span was van Kaapstad en Durban. Twee van hulle woon en werk egter in die buiteland.

Die groep het besluit om die sewe-dag Machame roete te volg, wat ‘n gewilde keuse is omdat dit die klimmers ‘n geleentheid bied om gewoond te raak aan die lugdruk. Kilimanjaro se hoogste piek is 5 895 meter bo seevlak, en op sulke hoogtes begin die suurstof min raak, wat asemhaling moeilik maak. Dit kan lewensgevaarlik wees, wat dit belangrik maak dat die klimmers geleidelik moet akklimatiseer.

Op 27 Desember het die span van Machame-hek vertrek, op ‘n hoogte van 1 800 meter bo seevlak. Dit is reeds hoog, inaggenome dat die Soutpansberg se hoogste piek, Lajuma, slegs 1 747 meter hoog is.

Die eerste deel van die roete het deur natuurlike reënwoud gestrek. Die woud het sy naam gestand gedoen en binne die eerste uur moes die klimmers skarrel om reënjasse uit te kry om hulle teen die gietende reën te beskut. Die pad deur die woud het al hoër en hoër gekronkel tot by die Machame-kamp, 2 835 meter bo seevlak.

Die berg Kilimanjaro het die afgelope klompie jare ontwikkel tot een van Tanzanië se grootste werkverskaffers. Gedurende Desember het etlike duisende toeriste die berg besoek en dosyne spanne het die piek bestyg. Elk van die spanne word vergesel deur ten minste drie opgeleide gidse. Hierbenewens is daar portiere, sjefs en ander helpers wat sorg dat alle take verrig word, soos tente opslaan en die kampterreine netjies maak. Selfs draagbare toilette word vir die klimmers teen die berg op gedra.

Dag twee se roete was korter, maar die klim was heelwat steiler. Die landskap het ook vinnig begin verander na klipperige terrein met fynbos. Die oornagpunt was by Shira-kamp, 3 750 meter bo seevlak. Die temperatuur het ook begin daal, met die wind wat koue lug vanaf die berg gebring het.

Die volgende oggend het die groep die roete na Lava Tower-kamp aangedurf. Dié kamp is 4 600 meter bo seevlak, wat vir baie van die stappers reeds ‘n uitdaging was en probleme soos kopseer en naarheid meegebring het. Die strategie van die langer roetes is om “hoog te stap en laag te slaap”. Na ‘n vinnige blaaskans by Lava Tower is die groep af na Barranco-kamp waar hulle oornag het. Barranco-kamp is 3 985 meter bo seevlak, wat steeds die longe laat stry het vir genoeg suurstof.

Die vierde oggend se klim het die senuwees van die minder ervare klimmers na behore getoets. Die span moes teen die berugte Barranco-muur uitklim, wat ‘n uitdagende roete teen ‘n oënskynlike loodregte krans uit is. Op dele van die roete kan slegs een klimmer op ‘n slag verbyskuur, wat vir lang oponthoude gesorg het met die groot getal toeriste.

Vir Adri van Zyl was dit ‘n besonderse prestasie om dié deel van die roete te kon voltooi. Adri het Kilimanjaro aangedurf om mense bewus te maak van Meervoudige Sklerose (MS). Meervoudige Sklerose is ‘n siekte waarvoor daar tans geen kuur is nie en wat lyers se mobiliteit aantas. Die liggaam se immuniteitstelsel raak verward en val dan dele van die brein aan wat die seine na die verskillende liggaamsdele onderbreek. In die laaste dekade het daar egter heelwat medikasie en behandelings beskikbaar geword wat die siekte beheer en hoop bied vir MS-pasiënte.

Een van die grootste uitdagings vir MS-pasiënte is om vertroue in hul balans te herwin. Die siekte veroorsaak letsels op die brein wat jare later nog probleme veroorsaak. Adri, wat self ‘n MS-lyer is, het met geringe hulp van die gidse Barranco-muur uitgeklim en heel gepas die “kissing wall” kon soengroet.

Van Barranco se hoogste punt is die klimmers voort na Karanga-kamp, waar hulle oornag het. Karanga is geleë op ‘n hoogte van 4 041 meter bo seevlak en neffens die berg se hoogste piek. Die temperatuur het deur die nag reeds tot onder vriespunt geval en die klimmers het ‘n voorsmakie begin kry van wat op hulle wag.

Dag vyf is sekerlik die grootste uitdaging, omdat dit bykans 36 uur se klim en stap inlui. Dit begin met ‘n staptog van sowat vyf uur tot by Barafu-kamp. Dié kamp, wat ook as basiskamp dien vir die finale aanslag op die berg, is 4 681 meter bo seevlak. Hier aangekom kan die stappers middagete geniet en bietjie uitrus en voorberei vir die finale klim, wat teen sowat 23:00 begin. Dit is egter moeilik om te slaap, aangesien die weersomstandighede uiters guur is, met rukwinde wat die temperatuur laat val tot ver onder vriespunt.

Gewapen met kopliggies en soveel warm klere as moontlik, het die eerste groep net ná 23:00 die steil roete na die kruin van die berg aangedurf. Die plan was om met sonsopkoms bo te wees. Die weersomstandighede het egter al slegter geword, met die kwik wat verder gedaal het. Die sterk wind het die aanvoelbaarheidstemperatuur tot naby -20 grade geneem, wat die klimmers tot die uiterste beproef het.

Op ‘n hoogte van sowat 5 400 meter moes Adri omdraai. Dit het net te moeilik begin raak en sy het besef dat die stadige pas sou beteken dat sy nog etlike ure blootgestel sou wees aan die uiterse koue. Anton het voortgegaan en kort voor Stella Point (die tweede hoogste punt) het sy twee seuns by hom aangesluit. Rovha het ook deel gevorm van dié groep.

Die laaste deel van die roete was vanaf Stella Point tot by Uhuru. Dit is ‘n afstand van sekerlik nie meer as 400 meter nie, maar dit neem bykans ‘n uur om te voltooi. Teen daardie tyd het die son egter reeds sy kop uitgesteek en die weer het handomkeer verander. Die groepie Suid-Afrikaners kon in ‘n opgewekte luim op ‘n sneeutapyt stap tot by die bordjie wat sê: “Congratulations, you are now at Uhuru peak, Tanzania, Africa’s highest peak.”

Nog was dit het einde niet en die groep moes die roete terug na Barafu aandurf. Hier het Adri en die ander lede van die groep vir hulle gewag. Na ‘n vinnige middagete is die roete van sowat vier uur aangedurf wat hulle geneem het tot by Mweka-kamp, net bokant 3 100 meter bo seevlak. ‘n Uitgeputte groep klimmers kon die aand vroeg gaan slaap en uitrus vir die laaste skof die volgende dag tot by Mweka-hek, waar die ekspedisie geëindig het.

Die groep Suid-Afrikaners was vol lof vir die behandeling wat hulle ontvang het in Tanzanië en veral vir die werksywer en professionaliteit van die gidse en portiere. “Die kameraderie tussen die groep Suid-Afrikaners het my baie gehelp,” het Rovha Kharivhe na afloop van die ekspedisie gesê. Hy was veral beïndruk met die ondersteuningspan. “Mens kan nie anders as om hul werksetiek te bewonder nie. As ons eie gemeenskappe net so gemotiveerd was, sou Suid-Afrika ‘n veel beter plek wees om in te bly, veral wat betref die ekonomie,” sê Rovha.

 

 
 
 

Viewed: 1306

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Ses van die Suid-Afrikaners afgeneem by Uhuru-piek aan die bopunt van die berg Kilimanjaro. Voor hurk Dovha Kharivhe (links) en Gary Murphy. Agter, van links af, is Ryan Sandwith, Elardus van Zyl, Jaco van Zyl en Anton van Zyl.

Die Suid-Afrikaanse span afgeneem saam met van die toergidse.

Zaid Khumalo (links) en Adri van Zyl neem 'n blaaskans met die berg Kilimanjaro in die agtergrond. Regs agter is Elardus van Zyl en langs hom een van die gidse, Monday.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT