ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ds. Hannes Lee van die Gereformeerde Kerk op Musina wys hoe diep het die water in sy pastorie-erf opgedam na ‘n vinnig 60 mm reën verlede Vrydag in dié grensdorp uitgesak het. Sedertdien is goeie neerslae oor die hele streek gerapporteer. Foto verskaf.

Dit het gesous!

Date: 14 February 2020 By: Andries van Zyl

Dit sous behoorlik in die Soutpansberg en veral boere juig met dankbare harte.

Wydverspreide goeie reënneerslae sak sedert die naweek oor die hele Soutpansberg uit. Teen Dinsdagmiddag is neerslae van 250 mm plus op plase in die Levubu-omgewing gerapporteer en het talle riviere, insluitend die Levuburivier, en spruite weer begin vloei. In dieselfde periode het plase in die Witvlag-omgewing sowat 200 mm plus reën gemeet wat paaie in die omgewing in ‘n modderige gemors verander het. Daarbenewens is neerslae van 90 mm plus in die Waterpoort-omgewing en tussen 120 mm en 180 mm in die Vivo-omgewing gemeet. Selfs die normaalweg droë Musina het goeie reën gekry. Dit is voorafgegaan met ‘n vinnig 60 mm verlede Vrydag in dié grensdorp. Gelukkig was daar geen gevalle van vloedskade tot dusver gewees nie, alhoewel die bestuur van die Kruger Nasionale Wildtuin Dinsdagmiddag aangekondig het dat hulle verskeie grondpaaie en fasiliteite gaan sluit weens die swaar reën van die afgelope week. Dit was veral paaie en fasiliteite in die noorde van die wildtuin met die hek by Punda Maria wat teen Dinsdagoggend oorstroom was.

“Die groot vraag altyd is: Is die droogte gebreek? Ek persoonlik dink ons het verligting gekry van die droogte ja, maar ons moet nog ‘n goeie seisoen se reën kry voordat die droogte gebreek is,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie gesê. Hy was egter baie dankbaar vir die water wat reeds geval het. “Kyk, hierdie jaar het dit nie te sleg gereën nie. Die ouens met die weiding kan glad nie kla nie,” het Havinga gesê.

Wat verwelkom is van die reën die afgelope paar dae (en weke), is die feit dat daar deurlopend goeie opvolgreën was. “Dit het kort-kort gereën, selfs agter die berg – Musina, Waterpoort en selfs Alldays se kant toe. As jy met daardie ouens praat sê hulle hul weiding is nie ‘n probleem op hierdie oomblik nie … Musina spesifiek weet ek het goed reën gehad nou in die week. Vivo, Alldays het ook goeie reën gehad … Dit is elke keer as hulle dink dit begin nou te droog raak, dat hulle bietjie reën kry,” het Havinga gesê.

Havinga is optimisties dat die goeie reën tans hulle deur die winter kan trek. “As ons van Maartmaand af nog reën kan kry, dan behoort ons baie goed deur die winter te kan gaan met weiding,” het hy gesê.

Wat oesverwagtinge betref, was Havinga skepties om ‘n voorspelling te maak. “Ek weet regtig nie hoe die oeste gaan lyk nie. Dit is ‘n raaiskoot en ek kan myself nie daaroor uitlaat nie, want ons gaan nou eers begin oes. As ‘n mens eers in die seisoen is, dan kan ‘n mens sê of die oeste op of af is,” het Havinga gesê.

Vir liefhebbers van avokado’s, wat nou al tot R30 vir een ingevoerde avo in die supermark betaal, sal dit goeie nuus wees as daar ‘n goeie oes is. “Die avo’s het bietjie pakslae gekry met daardie erge hitte in November- en Desembermaand se kant met bome wat hul vrugte afgespeen het. Selfs die neute [makadamia] het swaar gekry. My bome het net so baie neute afgespeen met daardie uitermatige warm weer wat ons gehad het … dit was warm in die verkeerde tyd gewees wat gemaak het dat hulle afspeen,” het Havinga gesê.

Soos genoem is daar geen berig ontvang van enige ernstige vloedskade in die Soutpansberg nie. Dié situasie kan egter enige tyd verander. “By my op Levubu het ek al 261 mm gehad sedert verlede Donderdag. Die gevaar is dat as ek nou skielik 100 mm moet kry, dan gaan die water loop! Ek het my meter uitgegooi en dit het so bietjie begin opdroog want dit het nie baie gereën deur die aand nie. Toe val daar skielik net so 5 mm, maar dit het gelyk of dit 50 mm gereën het soos die water loop want die grond is nat,” het Havinga Dinsdagoggend gesê. Die voorspelling is dat die nat weer na die naweek toe sal begin opklaar.

“Ek is baie bly oor die water wat geval het. Die grond is deurnat wat ons boorgate gaan aanvul. Ons het dit bitter nodig gehad. Hier was boorgate op Levubu wat begin probleme gee het,” het Havinga gesê.

 
 
 

Viewed: 973

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Landerye lê onder water op die plaas van Gerhard du Plessis in die Waterpoort-omgewing na die week se goeie reën. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT