Een van Dave van Graan se doelwitte was om soveel moontlik van dié klipmannetjies op te spoor. Daar is blykbaar 27 van die klipmannetjies deur ‘n kunstenaar opgerig en nêrens anders nie. Tot vandag toe is die werklike oorsprong en doel van die “beelde” steeds in geheimsinnigheid gehul. Dave kon 16 van die mannetjies opspoor. Sy byskrif by hierdie foto wat hy op Facebook geplaas het, het gelees dat hy baie dae soos hierdie mannetjie tydens sy staptog gevoel het. Foto verskaf.

Lastige leeus knip Dave se stap kort

Date: 22 February 2020 By: Andries van Zyl

Viewed: 1089

Leeus het ‘n stokkie gesteek voor avonturier Dave van Graan van Louis Trichardt se planne om man-alleen deur die uiters dorre Kaokoveld in die noorde van Namibië te stap – ‘n afstand van sowat 800 km.

Die Zoutpansberger kon darem weer Dinsdagaand met Dave per WhatsApp kontak maak, maar die nuus was nie goed nie. “Vanoggend toe hoor ek dat ek nie verder moet stap nie, want daar is nou ‘n groot toeloop van leeus in die area van Sesfontein tot verby Palmwag. Hulle trek nou agter die beeste en bokke van die lokale boere aan, omdat hul gewone prooi weggetrek het berge toe. Hulle het ook al ‘n kind gevang. Ek het vandag als probeer, maar niemand kan my help met vervoer nie. Ek moet nou teen wil en dank my staptog kort sny,” het Dave gesê.

Dave en sy Bart Mobile “Merk 2”, ‘n tweewielwaentjie waarop hy al sy proviand saamsleep, het op 22 Januarie begin stap vanaf die Hippo Pools kampeerterrein naby die Ruacana valle. Hy was van plan om tot by Kamanjab (wat “klipperige plek” beteken) te stap. Hy is baie hartseer dat hy Dinsdag, sowat 200 km kort en ses dae agter skedule, sy staptog moes stop. “Ja, dis ongelukkig so. Ek is baie teleurgesteld, ma wat kan ek doen. Die hele avontuur moet eintlik nog mooi insink en die feit dat ek so skielik moes stop is amper ‘n skok vir my sisteem,” het Dave gesê.

Dave het letterlik die wind (en leeus) van voor begin gekry vanaf die Himba nedersetting Puros, waar hy op 12 Februarie aangekom het. In daardie stadium het sterk woestynwinde in die dag en bitter koue nagte al bietjie hul tol begin eis op Dave, en dit nadat hy gedink het die ergste deel van sy stap oor die gevaarlike Van Zyls Pas was agter die rug. Met sy aankoms op Puros het hy reeds vir drie dae op pap en kondensmelk oorleef, want daar was niks kos op Orupembe nie. “Die woestyn is ‘n belewenis om te stap. Dit is vir seker nie ‘n plek wat mens moet onderskat nie. Die polisie van Orupembe het vir my water gestuur saam met toeriste. Hulle sê dis makliker om water te stuur as om my lyk en naasbestaandes te soek. Te veel papierwerk,” het Dave toe laat weet.

Dave moes twee dae in die gemeenskaplike Himba kamp op Puros bly vir sy eie veiligheid, nadat toeriste hom meegedeel het dat hulle groot leeuspore en woestynolifante in die omgewing van die Hoarisibrivier opgemerk het, ‘n rivier wat hy sou moes kruis. Dave het toe reeds ‘n besoek ontvang van die olifante terwyl hy in die woestyn oornag het, wat vir ‘n paar benoude oomblikke gesorg het. Tog was Dave steeds optimisties dat hy sy staptog sou kon voortsit tot by Kamanjab. “My volgende teiken is Sesfontein, wat 108 km van Puros is. Ek hoop om dit in drie dae te bereik, maar ek weet daar is moeilike gedeeltes op die roete. Veral die dik sand van die Gania-vlaktes. Gelukkig is daar darem ‘n plek of twee waar ek water kan kry,” het Dave verlede week laat weet.

Dit het uiteindelik vir Dave 29 stapure geneem om vanaf Puros tot in Sesfontein te kom. “Ek het gister non-stop vir 12 ure gestap en oor die 45 km gedoen vir die dag net om by Sesfontein uit te kom. Dit was baie erg. Hitte, stof, warm woestynwind, dik sand en nog ‘n klomp baie steil heuwels op en af. Ek was haastig omdat die lokale mense my gewaarsku het om nie in die woestyn te slaap nie, want daar is nou baie leeus hier,” het Dave Dinsdag gesê. Maar dit was toe wel die leeus wat Dave in sy spore gestop het. “Ek is nou so fiks en nou moet ek stop,” het Dave gesê.

Alhoewel Dave sy staptog nie kon voltooi nie, was hy baie dankbaar dat hy darem die Kaokoveld en ‘n gedeelte van Damaraland klaar gestap het. Dit was nog altyd vir hom ‘n droom gewees om dié gedeelte van Namibië te stap. “Van my eerste besoek aan die Kaokoveld, sy mense en diere in die laat negentigs het die area my gefassineer. Ek het nie toe daaraan gedink om hier te loop nie, maar ek wou altyd terugkom. Ek het daarna verskeie kere die gebied besoek, maar altyd gevoel dat ek iets mis. Dis net asof ek nie naby genoeg aan die werklikheid kon kom nie. Ek wou meer weet en ervaar,” het Dave gesê.

Weens die onherbergsame en genadelose terrein het Dave egter nooit oorweeg om die Kaokoveld te stap nie. Ná sy epiese staptog deur die Caprivi vanaf Ruacana tot by die Victoria Valle in Zimbabwe verlede jaar het Dave egter besef hy het die vermoë om die woestyn te stap. “Ek het besluit dat ek nie meer baie tyd oor het om die Kaokoland te doen nie. ‘Time waits for no man’ en ek het besluit om dit te doen. Ek was dalk ‘n bietjie arrogant, maar die besluit is gemaak en ek sal moet staan of val by my besluit,” het Dave gesê.

Op ‘n vraag oor waarom hy homself so druk en in gevaar stel, het Dave gesê hy weet nie regtig wat die antwoord is nie. “Baie mense het my gevra ‘marra why?’ ... Die antwoord is dalk om uit die veilige kokon uit te kom en nader aan die natuur te leef. Dalk raak ek maar net simpel op my oudag en is ek dalk bang ek het nie genoeg geleef nie. Ek moet soveel moontlik probeer ervaar as wat moontlik is. Ek het twee sêgoed. ‘Live on the edge, otherwise you take up too much space’ en die ander een is ‘We all die, but we do not all live’,” het Dave gesê.

Dave het gesê hy beplan reeds sy volgende staptog, moontlik langs die Skedelkus van die Dood in Namibië af. Vir die onmiddellike beplan hy om eerskomende Maandag vanaf Namibië na Louis Trichardt terug te keer na vroulief Jacqui. “Sy is ‘n staatmaker en planmaker. Sy het my al verskeie kere uit die verknorsing gehelp op my staptogte,” het Dave gesê.

 

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos... 

Dave trap langs ‘n spoor van een van die woestynolifante wat sy kamp een aand verlede week besoek het. Dié besoek het hom ‘n paar benoude oomblikke in die middel van niks en nêrens besorg. Foto verskaf.

Van die “creepy crawlies” wat Dave tydens sy stap deur die dorre Kaokoveld teengekom het. Dit sou egter die groter gediertes wees wat ‘n stokkie voor sy staptog gesteek het. Foto verskaf.

Plaaslike avonturier Dave van Graan (62) moes noodgedwonge sy staptog deur die Kaokoveld in die noorde van Namibië oor ‘n afstand van ongeveer 800 km opskort weens probleme met rondloperleeus. Foto verskaf.