ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle André Krüger (70). Foto verskaf.

Nog ‘n groot boom van die Soutpansberg val

Date: 06 March 2020 By: Andries van Zyl

Nog ‘n groot boom, nie net in bosbou geledere nie maar ook in die Soutpansberg-gemeenskap as geheel, het geval met die nuus van die skielike dood van die alombekende André Krüger op 25 Februarie. Hy sou op 30 Maart sy 71ste verjaarsdag gevier het.

“Hierdie nuus het baie onverwags op ons afgekom. Ons is nog in die rouproses van my skoondogter wat op 2 Februarie in ‘n motorfietsongeluk oorlede is ... binne drie weke het ons twee groot geliefdes verloor,” het André se vrou, Heléne, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Krüger was ‘n bosbouer in murg en been, met ‘n loopbaan wat oor etlike dekades gestrek het sedert hy as leerling bosbouer in 1969 begin het. Nadat hy sy studies in 1970/71 voltooi by Saasveld Bosboukollege in George, het hy onder andere gewerk in De Hoek, New Agatha, Lotzaba (Tzaneen), Duiwelskloof, Transkei, Ciskei, Babanango, Pelgrimsrus, Sabie en Louis Trichardt.

André en Heléne het sowat vyf jaar gelede na Barberton verhuis ná sy aftrede. Hy het daarna by Steven Lumber Mills (Louis Trichardt) tydelik uitgehelp en is later 'n permanente pos aangebied.

“Dit is waar hy sy laaste hoofstuk afgesluit het,” het Heléne gesê. Sy het in Barberton agtergebly waar haar werk was, met André wat by Mondi se saagmeule (Witvlag) gebly het. Heléne het gesê die lang afstand was maar moeilik gewees. Sy huis by die ou Mondi saagmeule (Shefeera) was ook waar medewerkers hom gekry het, op die oggend van 25 Februarie nadat onraad vermoed is. Alles dui daarop dat hy aan ‘n hartaanval gesterf het.

“Geestelik en fisies was hy fiks gewees. Hy het 'n passie vir sy werk in bosbou gehad, asook brandbestryding, die ZFA (Zoutpansberg Fire Association) en Working on Fire wat ek en hy saam begin het by Shefeera Timbers,” het Heléne gesê.

As mens, het Heléne gesê, was André ‘n baie goeie man, pa en oupa gewees. “Hy was ‘n familieman en geliefd onder sy vriende en medewerkers. Hy het 'n passie vir boeke gehad en baie gelees in sy vrye tyd en dit geniet om sy kennis uit te brei. Hierdie kennis het hy mildelik gedeel met enige iemand,” het Heléne gesê.

Die egpaar sou op André se verjaarsdag einde Maart hulle 21ste huweliksherdenking vier. “Ons het van die begin af mekaar se kinders as ons eie aanvaar. Dit sê vir jou baie van watter tipe mens hy was,” het Heléne gesê.

Veral die boere gemeenskap sal André beslis mis. “Hy was bekend vir sy hulp wat hy gegee het, soos vir die gemeenskap in die Witvlag- en Levubu-omgewing. Hy het hulle gehelp met voorbereiding vir die vuurseisoen en brandbestryding. Hy het altyd gesê die een hand was die ander hand – jy moet mekaar help,” het Heléne gesê.  

‘n Roudiens vir wyle André is op 28 Februarie vanuit die Afrikaanse Protestantse Kerk in Louis Trichardt gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Heléne, sy dogters Lida (in Kanada), Zani (in Engeland) en Andrea (in Duitsland), Heléne se kinders Eduard, Jandré, Joleen, hul eggenote en 15 kleinkinders. 

Heléne bedank almal vir hulle ondersteuning, oproepe en boodskappe aan die familie in hierdie moeilike tyd.

 
 
 

Viewed: 1967

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT