ADVERTISEMENT:

 

 
 

Kerke in Louis Trichardt het die afgelope week maatreëls ingestel om die verspreiding van die coronavirus te beperk. Die maatreëls wissel van gedwonge kleiner groepe by eredienste tot die afstel van dienste tot ná die Paasnaweek.

Kerke maak gereed vir coronavirus

Date: 19 March 2020 By: Anton van Zyl

Verskillende kerke se gemeentes in Louis Trichardt het die afgelope week maatreëls ingestel om die verspreiding van die coronavirus te beperk. Die maatreëls wissel van gedwonge kleiner groepe by eredienste tot die afstel van dienste tot ná die Paasnaweek.

Die NG Kerk Moedergemeente het Dinsdag ‘n buitengewone kerkraadsvergadering gehou om die kwessie te bespreek. “Die kerkraad het besluit om alle eredienste in die kerkgebou tot en met ná Paasnaweek af te stel,” het ds. Jan Pretorius in ‘n brief aan die gemeente gesê wat uitgestuur is ná afloop van die vergadering.

Moedergemeente beplan om tegnologie te gebruik om die gemeente in die interim te bedien. Dit sluit in om dienste via die Youtube videokanaal uit te saai asook Whatsapp-groepe te gebruik om inligting te versprei. Die gemeente het ook ‘n beroep op lidmate gedoen om kleingroep-aktiwiteite soos Bybelstudiegroepe vir eers af te stel. Selfs begrafnisdienste en troues word geraak en die gemeente doen ‘n beroep op lidmate om reëlings aan te pas en gaste (in die geval van troues) te beperk.

Ds. Pretorius het ook ‘n beroep op lidmate gedoen om werkers soos huisbediendes en tuinwerkers in ag te neem in hierdie tydperk. Hierdie werkers moet dikwels van openbare vervoer gebruik maak en indien dié dienste ingeperk word, raak dit hulle direk. “Ons versoek lidmate om in hierdie tyd veral ook te let op die welstand van hulle werknemers en om voort te gaan met die betaling van lone, selfs al kan die werkers nie kom werk nie,” sê ds. Pretorius.

Ds. Innes Nagel van die Gereformeerde Kerk se gemeente op Louis Trichardt het op sy beurt gesê dat, veral gedurende vakansietye, daar nie ‘n groot getal kerkgangers by eredienste verwag word nie, maar daar sal nogtans ekstra voorsorgmaatreëls getref word. Hierdie maatreëls sluit in dat die diakens by die deure sal wees met sanitêre handwasmiddels. Kerkgangers sal gevra word om verspreid in die kerk te sit en die teedrink- en kuiersessies ná die diens word afgestel. Die diakens sal ook handskoene gebruik wanneer hulle kollektegeld hanteer.

“Lidmate ouer as 65 jaar en gesinne met kinders jonger as vier jaar, asook mense met onderliggende gesondheidsprobleme, sal gevra word om eerder nie eredienste by te woon nie,” het ds. Nagel gesê.  Diegene sal steeds bedien word en preke sal op sosiale media beskikbaar gemaak word. Indien nodig, sê ds. Nagel, sal tegnologie gebruik word om direkte uitsendings vanaf die pastorie moontlik te maak.

Pastoor Sampie van Niekerk van die plaaslike Agapé-gemeente het gesê dat hulle eerste stap is om die eredienste te vermeerder en sodoende die gemeente in kleiner groepies te verdeel. Sondagoggende word twee dienste aangebied, maar daar sal addisioneel ‘n aanddiens aangebied word. Pastoor Van Niekerk het gesê dat hulle die situasie monitor en dalk verdere aanpassings sal maak. “In ‘n tyd soos hierdie het mense samehorigheid nodig en moet hulle mekaar bemoedig,” het pastoor Van Niekerk gesê.

Die Agapé-gemeente het lidmate aangemoedig om direkte kontak te vermy en alles nodig te doen om die verspreiding van die virus te voorkom. Bejaardes wat voel hulle moet eerder nie dienste bywoon nie sal steeds bedien word. “Ons is gerat om, indien nodig, lewendige uitsendings te doen,” het pastoor Van Niekerk gesê.

Verskeie van die ander gemeentes op die dorp het aangedui dat eredienste steeds voortgaan, maar dat maatreëls getref sal word om die verspreiding van die virus te voorkom. Die meeste van die gemeentes het nie meer as 100 lidmate wat dienste op Sondae bywoon nie.

Wat die groter kerke in die Vhembe-streek betref, het die meeste die afgelope week aangekondig dat eredienste vir eers gestaak word. Volgens die United African Apostolic Church (UAAC) se aartsbiskop David Mureri gaan hulle gehoor gee aan die regering se beroep dat direkte kontak tussen mense sover moontlik vermy word. Eredienste sal op digitale platforms soos sosiale media gebeeldsend word. Hy het lidmate aangemoedig om nie hande te skud nie en nie in groepe byeen te kom nie.

Die land se grootste kerk, die Zion Christian Church (ZCC), het ook aangekondig dat die jaarlikse Paassaamtrek by Moria uitgestel is. Volgens die kerk se woordvoerder, eerw. Emmanuel Motolla, sal die ZCC later ‘n aankondiging maak oor wanneer dit sal plaasvind. Die besluit is geneem ná afloop van ‘n vergadering verlede Vrydag tussen die kerk se leier, Dr Barnabas Lekganyane, en ‘n afvaardiging van die nasionale regering, gelei deur die Minister van Gesondheid, Zweli Mkhize.

Al die leraars met wie ons gesels het, het egter beklemtoon dat die pandemie hanteer word aan die hand van Bybelse riglyne. Pastoor van Niekerk het ‘n aanhaling uit ‘n brief van die kerkleier Martin Luther aangestuur wat in die middel 1300’s gemaak is. Dit was tydens die Swart Dood, ‘n plaag wat die lewens van tussen 75 en 200 miljoen mense geëis het.

“I shall ask God mercifully to protect us. Then I shall fumigate, help purify the air, administer medicine and take it. I shall avoid places and persons where my presence is not needed in order not to become contaminated and thus perchance inflict and pollute others and so cause their death as a result of my negligence. If God should wish to take me, He will surely find me, and I have done what He has expected of me and so I am not responsible for either my own death or the death of others. If my neighbour needs me, however, I shall not avoid place or person but will go freely as stated above. See this is such a God-fearing faith because it is neither brash nor foolhardy and does not tempt God.”

 

 
 
 

Viewed: 965

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT