ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

TLU SA gee riglyne oor coronavirus op plase

Date: 21 March 2020 By: 

TLU SA het onmiddellik ná President Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die nasionale ramp rondom COVID-19 (Coronavirus), begin werk aan riglyne oor hoe sy lede die situasie kan bestuur.

“Ons wil beklemtoon dat almal perspektief moet behou en nie oorboord moet gaan nie,” het mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA, in ‘n persverklaring gesê. “Die Coronavirus het die potensiaal om ‘n enorme negatiewe impak te hê. Die gevaar is dat die persepsie oor die móóntlike gevolge dalk tot meer skade kan lei as die virus self. Die keuses wat gemaak word, hou reeds verreikende ekonomiese implikasies in. In die toekoms kan hierdie keuses nog ‘n groter impak op die volhoubaarheid van besighede hê,” het Meintjies gesê. In dieselfde asem het hy ook gesê dat hulle op geen wyse die indruk wil skep dat die situasie geïgnoreer kan word en almal net soos normaal met hul lewens kan voortgaan nie. “Dinge is beslis nie normaal nie en ons moet daarvolgens handel,” het Meintjies gesê.

Die minister van landbou, me. Thoko Didiza, het Maandag, 16 Maart, ‘n dringende vergadering met die land se landbourolspelers belê om te bespreek hoe die situasie hanteer sal word. Alle rolspelers het die geleentheid gehad om insette te lewer en ‘n taakspan – bestaande uit die departement en georganiseerde landbou – is saamgestel. TLU SA dien op die taakspan. Tydens die ministeriële vergadering is bevestig dat veilings vir eers kan voortgaan, sodat die veehandelbedryf nie verdere skade ly ná bek-en-klouseer dit vroeër vanjaar aan bande gelê het nie. Die doelwit is om voedselsekerheid te verseker en die landbou-ekonomie so ver as moontlik te beskerm.

Volgens die TLU SA hang die sukses van die regering se noodmaatreëls grootliks af van die burgerlike samelewing se bereidwilligheid om dit toe te pas. “Ons lede moet verdere stappe neem om die skade wat die Coronavirus kan veroorsaak, te beperk,” het die TLU SA in die verklaring gesê en sekere riglyne gegee ten opsigte van plaaswerkers en toegang tot plase.

Wat plaaswerkers betref, het die TLU SA gesê dat werkers behoorlik ingelig moet word oor die virus en hoe dit versprei. “Beklemtoon die belangrikheid van persoonlike higiëne en maak seker seep en water is beskikbaar, sodat hulle behoorlik kan hande was. Bespreek die gevare van sosialisering in groter gemeenskappe oor naweke, terwyl daar nog onsekerheid is oor die momentum van verspreiding. Verduidelik die voordele van vrywillige afsondering en moniteer die gesondheidstoestand van werkers en hulle gesinne. Doen langtermynbeplanning vir rantsoene wat ‘n lang raklewe het,” het die TLU SA gesê.

Wat betref toegang tot plase het die TLU SA gesê dat die protokol vir toegang tot plase nougeset toegepas moet word. “Persone wat plase om welke rede ook al besoek, behoort gesigsmaskers te dra en moet hulself eers behoorlik reinig alvorens hulle kan aangaan met die beplande besoek se aktiwiteite,” het die TLU SA gesê. Hulle het ook gewaarsku dat misdadigers dalk die pandemie kan gebruik om toegang tot plase te kry. “Oorweeg om plase as ‘n tipe kwarantyn-gebied te hanteer, waar toegang slegs met goedkeuring gegee sal word,” het die TLU SA aanbeveel.

Ook wat misdaad betref het die TLU SA gewaarsku dat die onsekere omstandighede daartoe kan lei dat voorvalle van misdaad toeneem. “Sodra plaaslike ekonomieë onder druk kom en daar nie meer voldoende produkte op winkelrakke is nie, kan ‘n toename in misdaad verwag word. Maak voorsiening vir eie beskermende klere soos maskers en handskoene wanneer daar teen misdadigers opgetree of arrestasies gedoen moet word,” het die TLU SA gesê.

“TLU SA sal namate die situasie vorder oorweeg of verdere maatreëls bygewerk moet word. Die prioriteit is nou om menselewens te beskerm en daarna volg die res,” het Meintjies gesê.

 

 
 
 

Viewed: 804

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT