ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bo van links na regs na onder is Lizet Joubert, Marita Gibson, Reta Pieterse en Andel Greyling. Foto's verskaf.

Hoe gemaak as jy moet verhuis in grendeltyd?

Date: 18 May 2020 By: Pétria de Vaal

Die land se ekonomie is tans vasgevang in ‘n web van grendeltydregulasies, en ook die eiendomsmark kry tans baie swaar.

Marita Gibson van Harcourts bevestig dat die inperkingstyd ‘n geweldige invloed op die eiendomsmark, agente en werknemers het.  

In Staatskoerant nommer 43292 van 7 Mei 2020 is afgekondig dat persone en goedere wél eenmalig mag trek/vervoer word, indien huurooreenkomste aangegaan is voor of gedurende die grendeltydperk, óf indien die oordrag van vaste eiendom plaasgevind het vóór die grendeltydperk. “Grendeltydperk” word gedefinieer as vanaf 27 Maart tot 30 April 2020. Hierdie regulasies is geldig slegs tussen 7 Mei en 7 Junie 2020.

Die implikasie is dat slegs essensiële trekke mag plaasvind. Vervoermaatskappye mag goedere vervoer, mits hulle die nodige permitte in plek het. Om te trek, moet ‘n huurder of nuwe eienaar polisiestasie toe gaan met inligting oor die aantal mense wat gaan trek, identiteitsdokumente asook bestaande én nuwe huurooreenkomste. Die nodige vorms is by agente beskikbaar.

In hierdie gevalle mag eienaars en huurders, tesame met die agent, wel inspeksies uitvoer – met die nodige voorsorgmaatreëls, byvoorbeeld maskers, die handhaaf van afstand, ensovoorts.  Die nuwe regulasies bepaal egter steeds dat eiendomsagente nie voltyds mag werk nie (nie-essensieel). Om eenmalige inspeksies uit te voer, moet agente by die CIPC geregistreer wees as essensiële diensverskaffers wat dan die nodige permitte kan bekom om hierdie inspeksies uit te voer.

Die kredietburo’s is baie behulpsaam met duidelike inligting. Kennis is ontvang dat banke nou wel waardasies mag doen op eiendomme, die aktekantoor is weer werksaam en munisipaliteite mag nou weer uitklaringsertifikate uitreik.

‘n Hof kan steeds in hierdie tydperk eiendomme laat ontruim indien huurgelde nie betaal word nie. Huurders is steeds onder ‘n verpligting om te betaal en sal moet opvang indien hulle nie volle paaiemente kan betaal nie. Marita sê dat huurders moet besef dat wanbetaling hulle krediet-profiel beïnvloed. Kredietburo’s verskaf wel aan huurders die geleentheid om aansoek te doen vir verligting. Dit moet behoorlik gemotiveer word in terme van die nasionale ramptoestand.

Reta Pieterse van Realty 1 sê ook dat die grendeltydperk ‘n groot invloed op die eiendoms- en verhuringsmark het. Hoewel die residensiële mark waarskynlik baie sal verbeter na die grendeltydperk, as gevolg van die repokoers wat so drasties gedaal het, is hierdie steeds ‘n baie onseker tydperk. Vir diegene wat wel finansieel sterk bly staan het, sal dit ideaal wees om te koop, maar ander sal weer gedwing wees om te verkoop. Sommige huurders wat huurkontrakte wil kanselleer as gevolg van geen inkomste word gedwing om in huurhuise aan te bly. Dit plaas hulself en die verhuurder in ‘n benarde posisie. Onduidelikheid oor toestemming en permitte om te trek, asook die wetstoepassing daarvan, is frustrerend. “Gelukkig is owerhede in ons omgewing redelik tegemoetkomend,” sê sy. 

‘n Voorstel is dat persone wat nou moet trek, die nodige huurkontrak of registrasiedokumente by hulle moet hou. Huurders wat as gevolg van finansiële omstandighede genoodsaak is om na goedkoper verblyf te verhuis, sal ook kan trek. Dit bly ‘n huurder en eienaar se verantwoordelikheid om hul finansiële verpligtinge na te kom en kommunikasie rakende gedeeltelike of geen betalings is baie belangrik. “Skriftelike ooreenkomste sal toekomstige geskille en onnodige uitsettings voorkom,” het Pieterse gesê.   

Lizet van Lizet Joubert Eiendomme noem dat, volgens die inligting beskikbaar, eiendomsagente eers tydens Vlak 2 kan heropen. Hulle het ‘n klein kantoor en doen geen verhurings nie. ‘n Groot frustrasie is dat sy vyf kooptransaksies het wat afgehandel moet word wat reeds voor die grendeltyd gereed was. Die Aktekantoor heropen glo op 13 Mei. Die afdeling by die Makhado Munisipaliteit wat uitklaringsertifikate uitreik, sou reeds Vrydag, 8 Mei, werksaam wees, maar dit het nie gerealiseer nie. Wat in hulle guns tel, is dat die Bush Valley ontwikkeling steeds in ‘n mate voortgaan, aangesien voornemende kopers self daar kan gaan rondry.

Carel Hammann Eiendomme doen hoofsaaklik verkope van plase en besigheidspersele. Hulle kantoor doen normaalweg enkele verhurings. Carel kan steeds voornemende kopers uitneem na plase, maar almal wag vir ‘n aankondiging van die minister oor wanneer dinge gaan verander en hulle weer kan werk. Geen transaksies kan in hierdie tyd plaasvind nie – alles staan stil.

Volgens Andel Greyling van Anhetico Eiendomme, het die inperking ‘n groter effek as vermoed. So moet nuwe eienaars wat gedurende die inperkingstyd sou verhuis, nou okkupasiehuur betaal, sowel as ‘n eerste paaiement op ‘n nuwe eiendom. Eiendomsagente kry nie die nodige ondersteuning van die Eiendomsraad af nie.

Prosesse kom nou weer op dreef, byvoorbeeld die Aktekantoor wat heropen, die banke wat waardasies kan doen, ensovoorts. “Agente is egter die voer-aar van hierdie prosesse, maar mag nie voornemende kopers uitneem nie!” het Greyling gesê.

‘n Verdere bekommernis is die jaarlikse ouditverslae wat einde Junie moet in wees ten einde betyds hernuwing (Fedility Fund Certificate) te ontvang om die daaropvolgende jaar as agent te mag werk. Greyling weet nie hoe die oudit gedoen gaan word as die Eiendomsraad nie tans mag werk nie.

Greyling noem dat die regering inkomste kon verdien deur hereregte – wat nie tans die geval is nie. Sy is van mening dat voornemende kopers beslis al gedurende Vlak 4 rondgewys sou kon word, mits die nodige voorsorgmaatreëls in plek is. Alle dokumentasie kan elektronies hanteer word.

 

 
 
 

Viewed: 1062

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT