ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Zoutpansberger het by ‘n paar Graad 7’s en 12’s gaan hoor hoe hulle voel daaroor om eersdaags terug te keer skool toe. Deur die bank sien almal uit daarna om hulle maats te sien.

Kinders meen “vakansie” is nou te lank

Date: 31 May 2020 By: Pétria de Vaal

Voel leerlinge al dat hulle genoeg “vakansie” gehou het? Begin hulle al die skoollied sing terwyl hulle soggens vroeg oefen? Mis leerlinge selfs al die onderwysers se uittrapparades?

Die Zoutpansberger het by ‘n paar Graad 7’s en 12’s gaan hoor hoe hulle voel daaroor om eersdaags terug te keer skool toe. Deur die bank sien almal uit daarna om hulle maats te sien.

Lynique Krüger, hoofmeisie van Hoërskool Louis Trichardt, en ‘n paar maats is dit eens dat hulle al lus is om terug te gaan skool toe. “Die jaar het nie uitgedraai soos wat ons gedink het dit gaan nie. Covid-19 was daardie een slaggat in die pad wat niemand raakgesien het, totdat die wiel daarin geval het nie,” sê sy.  Sy is hartseer oor die gebrek aan ‘n ordentlike matriekjaar en die afwesigheid van buitemuurse aktiwiteite wat hoërskool fantasties gemaak het, maar glo ook daarin om die beste te maak van wat mens het.

Lynique sien uit daarna om weer skool toe te gaan, en tussen haar “mense” te wees. Bowenal kan sy nie wag om haar akademiese jaar suksesvol klaar te maak nie. Sy wil graag erkenning gee aan die onderwysers en almal betrokke by Triegies wat die hele “tuisskoolproses” vergemaklik het deur oneindige ondersteuning, hulp en omgee – almal een groot familie.

Sy dink in hierdie tyd aan haar mede-skoliere wat nog nie kan teruggaan skool toe nie, asook aan elke gesin wêreldwyd wat al geraak is deur hierdie virus. Sy sê dat dit belangrik is dat almal probeer veilig en positief bly, want “ons geloof is sterker as hierdie virus”.  

Vossie van Zyl van Hoërskool Louis Trichardt is dié een wat Sondagoggend die skoollied begin sing het terwyl sy gaan fietsry het. Dit is toe dat sy besef sy is een 100% reg om terug te gaan skool toe. “As ‘n mens selfs die uittrapsessies van die onderwysers mis, dan moet jy weet jy is reg!” het Vossie gesê. Sy kan nie wag vir Maandag nie en sien ongelooflik baie uit.

Tiny Rademeyer, ook van Hoërskool Louis Trichardt, sien uit na die teruggaan skool toe, maar sy kan nie help om bang te voel nie. “Ek stres oor wat voorlê vir ons almal, want alles gaan verander (ons vriendskappe en ons gewoontes by die skool). Ek hoop net dat ons as kinders die druk van eksamens tesame met die druk van Covid-19 kan hanteer.”

“Die inperking was 'n ervaring op sy eie, maar nou is dit tyd om terug te gaan na die ou maniere.” Só sê Jennavieve Truter. Sy kan nie wag om haar mede-Triegies en onderwysers te sien en die laaste stukkie van hulle skoolreis as Graad 12-leerders aan te pak nie. Sy besef egter dat dit op baie maniere anders gaan wees. Sy sien nietemin uit daarna!

Die hoofseun van CVO Zoutpansberg, André Breytenbach, is van mening dat, alhoewel hy die tyd by die huis geniet het, hy nou verlig is om uiteindelik te kan terugkeer skool toe. Hy voel egter effe onseker of hulle werklik die werk onder die knie het wat hulle in die grendeltyd by die huis moes doen.

Jani Badenhorst (hoofmeisie by dieselfde skool) is opgewonde om weer skool toe te gaan, veral om weer op die atletiek- en netbalbaan te kan oefen. Sy gaan dit wel baie mis om by die huis te wees, elke dag te kan perdry en baie te oefen.

Annie Chakwizira, Graad 7-leerling en hoofmeisie van Ridgeway Preparatory, het gemengde gevoelens oor die terugkeer skool toe. Aan die een kant is sy baie bly, want sy gaan weer almal sien. Aan die ander kant is sy onseker oor hoe die nuwe onderrigdae gaan lyk. Die blote gedagte daaraan dat een van hulle by die skool moontlik die virus kan kry, maak haar vreesbevange. Sy sien veral uit daarna om weer op die skoolgronde te kan rondloop ná so ‘n lang tyd weg. Vir een keer in ‘n leeftyd gaan die Graad 7’s die hele skool vir hulleself hê!

Jannes van der Goot (hoofseun by Laerskool Louis Trichardt) is baie opgewonde dat die skool gaan begin en om almal weer te sien, maar hartseer dat die sport nie gaan begin nie. “Ek is nou al bietjie moeg vir die huis en wonder hoe dit gaan werk met pouses en in die klasse.”

“Sjoe, dit was nou iets onverwags! Covid-19 is definitief iets wat ons eendag vir ons kinders sal kan oorvertel. Ek dink ons is almal maar baie bang vir die onbekende en daarom moet ons net op die Here vertrou.” Só sê Liné Schlesinger, hoofmeisie van Laerskool Louis Trichardt. Hulle is nou in die belangrikste skooljaar van hulle laerskoolloopbaan, wat die terugkeer ‘n groter uitdaging maak. Sy is egter oortuig daarvan dat hulle dit saam met hulle onderwysers sal kan kafdraf!

Bennita Rheeder, onderhoofmeisie by Laerskool Louis Trichardt, voel baie dankbaar dat niemand siek geword het nie. Die onsekerheid dat dinge nie dieselfde gaan wees nie, laat haar bang voel. Sy sien egter uit daarna om ‘n slag uit die huis uit te kom. “Al weet ek die skoolwerk gaan baie wees om in te haal, is ek opgewonde om net weer in ‘n klaskamer te wees en na my onderwyser te luister … niks teen my ma gemik nie!” Dit gaan vreemd voel om nie al die kinders daar te sien nie. Sy gaan dit geweldig mis om drukkies by die kleintjies te kry.

“Uiteindelik! Na die lang gewag - mens kan dit nie eens 'n vakansie noem nie - en tuisonderrig, met my ma as die juffrou en my pa die hoof, kan ek nie wag om terug te gaan skool toe nie.” Hierdie woorde kom van Derrick Barnard, onderhoofseun by Laerskool Louis Trichardt. Hy dink dit gaan seker snaaks voel om met 'n masker skool te gaan, maar hy skerts en sê dat die onderwyser dalk dan nie gaan sien as hy ietsie kou nie! Hy besef die situasie rondom die coronavirus is nie 'n grap nie, en almal sal moet saamwerk. “Mag die Here met ons almal wees,” is sy versugting.

 

 
 
 

Viewed: 966

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT