ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Vriendelike Oom Koos lieg en bedrieg rustig voort

Date: 20 June 2020 By: Andries van Zyl

Wie van ons lesers kan vir oom Koos Bergman, die vriendelikste ou boere-oompie, onthou? Wel, hierdie misbaksel is weer besig om met sy gladdebek mooipraatjies plaaslike besighede uit derduisende rande te swendel.

“Oom Koos” is regtig ‘n ou hand as dit kom by lieg en bedrieg, en wat regtig moeilik is om te verstaan is dat die polisie hom in al die jare nog nie kon vastrek en permanent agter tralies bêre nie.

In Julie 2014 het die einste oompie vir Camp World in Louis Trichardt uit sowat R50 000 se 4x4-toerusting geswendel. Hy het telefonies die goedere bestel en gevra of Camp World die goedere vir hom by ‘n vulstasie in Pretoria kon aflaai waar een van sy “werknemers” dit in ontvangs sou neem. So gevra, so gedoen, maar ná die tyd moes Camp World uitvind dat die betalingsbewys wat die vriendelike Oom Koos gestuur het, vervals was. Geen betaling is ooit gemaak nie.

Die Zoutpansberger het destyds ‘n artikel gedoen oor die swendelsaak, wat weereens die belangrikheid van ‘n plaaslike koerant onderstreep het.

‘n Week later het die einste Oom Koos vir Tyre Rack in Louis Trichardt geskakel en ‘n bestelling van agt vragmotorbande by verkoopsman Barry van Burick geplaas. Hy het blykbaar die bande nodig gehad vir ‘n sleepwa wat hy moes skuif voordat hy stoorgeld begin vra is. Opgewonde het Barry vir kollega tannie Elsie van den Heever van die groot transaksie vertel. Elsie het egter Bergman se naam herken uit die artikel wat sy in die koerant oor Camp World gelees het. “Lees in die koerant, daai Bergman is ‘n groot skelm,” het Elsie vir Barry gesê.

Die polisie is van Oom Koos se streke ingelig, wat vir hom ‘n lokval gestel het. Oom Koos sou self die bande by Tyre Rack kom afhaal, maar het weereens ‘n “werknemer” gestuur om die bande te kom oplaai. Die werknemer is gearresteer, maar moes later vrygelaat word omdat daar nie genoeg bewyse was wat hom direk met Oom Koos verbind het nie.

Meer onlangs het GT Verspreiders in Louis Trichardt die slagoffer van Oom Koos se mooipraatjies geword. Hulle is in Maart, kort voor die grendeltydperk ingestel is, uit etlike duisende rande se diesel geswendel.

“Dit is dieselfde ou. Presies, 100% daardie boere oompie, die vriendelikste man wat jy kan kry. Hy het homself voorgedoen as Koos Bergman van Bergman Transport wat dringend op soek was na diesel vir sy trok,” het GT Verspreiders se Eduard Prinsloo vertel. Volgens Eduard het die oompie diesel vir sy vragmotor bestel en ‘n betalingsbewys van sy elektroniese oorbetaling aan GT Verspreiders gestuur. “Hy het gesê hy stuur vir ons sy trok,” het Eduard gesê.

Maar, soos met die vorige kere, het Oom Koos nie self die diesel kom laai nie, want hy maak nooit sy eie hande vuil nie. “Hy het een van daardie ‘public transporters’ wat so by die hardeware plekke staan gestuur,” het Eduard gesê. Sy “werknemer” het ook op toemaaktyd daar aangekom, wat dit onmoontlik gemaak het vir GT Verspreiders om finaal die transaksie te kontroleer. Helaas sou dit aan die lig kom dat geen betaling gemaak is nie.

“Wat ons bekommerd maak, en ons voel ons moet die publiek waarsku, is dat in die laaste twee maande, daar nog drie soortgelyke pogings was van mense wat brandstofrekeninge wou oopmaak en brandstof ingooi. Maar wanneer ons vir hulle sê dit is reg, ons sal diesel gooi, maar die geld moet eers fisies in ons rekening wys, dan hoor jy nooit weer van hulle nie,” het Eduard gesê. Volgens hom kan hulle egter nie hierdie gevalle met Oom Koos verbind nie. “Dit is net ironies dat dit nou so konstant voorkom,” het Eduard gesê. Wat Oom Koos betref, is die saak by die polisie aangemeld.

Oom Koos belieg en bedrieg egter nie net plaaslike besighede nie. Na sy “besoek” aan Louis Trichardt in 2014 is gevind dat hy ook mense in Bronkhorstspruit en Tzaneen besteel het. In Augustus 2018 het die Middelburg Observer berig dat Oom Koos toe al sover as in Kimberley in die Noord-Kaap bedrywig was. Hy het ook verskeie besighede in Middelburg ingedoen. “Die ‘vriendelike oom’ het besighede uit van vleis tot motorfietse en grassnyers geswendel. Hy bel gewoonlik ‘n besigheid, het goeie kennis van die nabye omgewing, asook hoe sy teikenbesigheid lyk, en bestel dan produkte. Transaksies word gewoonlik aan die einde van die dag of net voor ‘n naweek gedoen, sodat dit nie verdag is wanneer elektroniese betalings van die bank nie dadelik deurgaan nie. Die produkte word óf langs die pad, óf deur ‘n koerier by die besigheid self opgelaai,” het die Middelburg Observer berig. Hulle waarneming strook met dié van slagoffers reg oor die land.

 

 
 
 

Viewed: 1699

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT