ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis en Elsje Linde maak hierdie week hul onderwysloopbaan van 35 jaar klaar. Foto verskaf.

Geliefde Linde-egpaar roep onderwys vaarwel

Date: 26 June 2020 By: Pétria de Vaal

Die geliefde egpaar Louis en  Elsje Linde tree af op 30 Junie 2020 en sien uit na ‘n nuwe fase van hulle lewe. Vir meer as 14 jaar was Louis aan die stuur van sake by Laerskool Louis Trichardt en Elsje in beheer van die Graad R’e.

Albei het gestudeer aan die PU vir CHO (NWU Potchefstroom Kampus, soos dit vandag bekendstaan).

In 1985 het hulle begin skoolhou by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen. Elsje het Afrikaans vir hoofsaaklik Graad 11 en 12 gegee en Louis Tegnika Meganies en Natuur-en Skeikunde. Louis is bevorder tot Departementshoof Tegniese Vakke in 1989. Aan die begin van 1995 is hy aangestel as adjunkhoof by Hoërskool Merensky en in 1999 het Elsje by hom aangesluit. Aan die einde van 2000 is hy aangestel as hoof by Hoërskool Eric Louw in Musina, waar Elsje ook Afrikaans vir Graad 11 en 12 aangebied het. “Behalwe vir vier jaar, het ons nog altyd saam skoolgehou!” sê Elsje.

Ná 20 jaar by hoërskole het hulle die welkome verandering na laerskoolonderwys gemaak en is vanaf 2006 by Laerskool Louis Trichardt, waar hulle sedertdien diep spore getrap het. Vir Elsje was dit veral 'n groot sprong van Graad 12 na Graad R, maar een wat sy terdeë geniet het.

Louis was baie betrokke by die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, waar hy vir sewe jaar voorsitter was van die Vhembe-hoofdekring en ses jaar onder-voorsitter van  SAOU Limpopo se Provinsiale Uitvoerende Raad. Hy was ook ses jaar lid van die Nasionale Professionele Komitee van die SAOU wat nuwe onderwysstrategieë moes beplan in 'n veranderende opset.

Vir hierdie egpaar was daar baie hoogtepunte by Laerskool Louis Trichardt.

Een daarvan was die fenomenale ondersteuning van leerders, ouers, onderwysers en die gemeenskap oor die afgelope 15 jaar, waarvoor hulle graag almal wil bedank. Die onvoorwaardelike liefde van klein kindertjies en spontane drukkies was vir hulle 'n groot verandering van hoërskool af. Hulle noem ook dat laerskoolouers natuurlik jonger en flukser is as hoërskoolouers! Dit was vir albei wonderlik om die drastiese ontwikkeling van leerders van Graad R tot by Graad 7 mee te maak.

Louis het die Tegnologieklasse wat hy vir die Graad 7's aangebied het, baie geniet. “’n Groot riem onder die hart was die wyse waarop ons altyd by Triegies deur die Bestuursliggaam ondersteun is om ons Christelike geloof onbeskaamd uit te leef en uit te dra, terwyl ons met respek en verdraagsaamheid kon optree teenoor mense van ander geloofsgroepe,” sê die egpaar. 

Hulle is dit eens dat elke oggend se opening met Skriflesing en gebed in die personeelkamer, hulle brandstof vir die dag was. “Hier kon ons as Triegie-familie ons bekommernisse voor ons Vader se voete lê,” sê Louis en Elsje.

“Ons het met wonderlike mense op die bestuursrade van die afgelope 15 jaar meegewerk. Hulle het almal dadelik ingekoop in die idee van deelnemende bestuur met 11 verskillende komitees. Elke bestuursliggaamlid was die voorsitter van 'n komitee. Dit het bygedra tot aktiewe deelname van ouers. Voorsitters soos Kobus Barkhuizen, Johan Steyn, Braam Dekker, Dries Briers en ds. Innes Nagel was altyd ondersteunend en onder hulle leiding is groot projekte aangepak en uitgevoer. Dankie dat ons altyd op julle kon staatmaak,” sê die Lindes.

Vir hulle was die tweejaarlikse massa-revues nie net 'n hoogtepunt in die dorp nie, maar ook vir hulle self telkens 'n belewenis. Op die sportfront was daar baie hoogtepunte, soos die oorwinning van die Limpopo o.13A-liga in rugby 'n paar jaar gelede, asook die eerste seunshokkiespan wat twee jaar ná mekaar Limpopo-wenners was. In 2006 was die eerste netbal Limpopo-wenners en die eerste krieketspan was in 2007 Limpopo-wenners.

“Die jaar 2006 se eeufees was 'n ware fees wat ons vir altyd sal onthou, asook die 110-jarige fees,” sê die egpaar.

Vir hulle was dit ‘n voorreg om so baie studente-onderwysers te sien groei en ontwikkel tot volwaardige leerkragte. Louis het die stelsel van intern-onderwyserskap by Triegies geïmplementeer en vir die afgelope 15 jaar was daar jaarliks tussen ses en 12 studente-onderwysers waarvan baie later aanstellings by Laerskool Louis Trichardt, asook by Hoërskool Louis Trichardt, gekry het. Dié stelsel was so suksesvol dat Louis twee jaar gelede genooi is om 'n voorlegging daaroor te doen by 'n nasionale werkswinkel van die SAOU in Bloemfontein.

Louis voel dat hy besonder geseënd was in die afgelope 15 jaar om die beste twee adjunkhoofde in Suid-Afrika te hê! “Mej. Irene Adendorff en mnr. Greg Stewart se gelyke is moeilik te vinde! Daarom weet ons dat die skool in goeie hande is. Elke departementshoof en personeellid versterk die hoofde se hande vanweë die professionele hantering van hulle portefeuljes. Dit was 'n vreugde om saam met só ‘n span te werk!” sê hy.

Laagtepunte was daar min. Die egpaar is opreg dankbaar vir soveel seëninge, maar die twee keer wat Triegie-leerlinge aan die dood afgestaan is, was definitief 'n groot hartseer.

Vir hierdie uitstaande onderwyserspaar was dit ‘n besonderse vreugde en voorreg om vir 15 jaar saam met 'n span soos Triegies s'n te werk. “Ons het soveel onverdiende liefde en ondersteuning van almal ontvang - kinders, ouers, personeel en die wonderlike gemeenskap van Louis Trichardt! Die Here het ons gedra deur ons onderwysloopbaan van 35 jaar. Ons het definitief baie foute gemaak, want 'n mensberoep is nie maklik nie. Een van ons vorige hoofde, mnr. Piet Swart, het eenmaal vir ons gesê dat nie eens Jesus almal kon tevrede stel toe Hy op aarde was nie en daarom moet ons nooit dink dat óns sterfling mense dit sal regkry nie! Nogtans was dit 'n voorreg en roeping om te kon dien en ons weet dat Laerskool Louis Trichardt in goeie hande is en net van krag tot krag sal gaan!” sê hulle.

Die egpaar sien uit daarna om te boer, te reis indien moontlik, ‘n ogie oor Oupa en Ouma te hou en saam met hulle kleinkinders te kuier! Die egpaar sal onthou word daarvoor dat hulle die skool se leuse “Ons Dien” met oorgawe uitgeleef het!

 

 
 
 

Viewed: 2363

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT