ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dr. Johan van Deemter wat tans uithelp by die Louis Trichardt DBV se Legacy dierekliniek, afgeneem waar hy ‘n hond ent teen hondsdolheid. Foto verskaf.

Geen nuwe gevalle nie, maar geen rede om te onstpan nie

Date: 28 August 2020 By: Andries van Zyl

Nog geen nuwe gevalle van hondsdolheid is in Louis Trichardt bevestig sedert die laaste geval waaroor die Zoutpansberger van 14 Augustus berig het nie.

“Mense moet egter nie ontspan nie. Dit beteken nie die siekte is nie meer teenwoordig nie. Solank jou hond ingeënt is, is hy veilig,” het die voorsitter van die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV), Lesley Gaigher, gesê.

In die Zoutpansberger van 31 Julie is berig oor ‘n beseerde en sieklike hondjie wat op die N1 opgetel is en na die plaaslike DBV geneem is vir behandeling. Binne 72 uur is die hond dood aangetref waar sy in isolasie by die DBV was. Haar gedrag het dramaties verander en sy het uiters aggressief begin optree. Ná die hond se dood is haar brein weggestuur vir toetse en die teef het positief getoets vir hondsdolheid.

Dieselfde week het nog ‘n hond positief getoets het vir die gevreesde siekte, dié keer by Blouberg Dierekliniek. Paar dae later het nog ‘n geval by Blouberg voorgekom van ‘n hond wat al die simptome van hondsdolheid getoon het. Die hond is van kant gemaak en sy kop is weggestuur vir ontleding. Ook dié toetse het positief teruggekom.

Laasgenoemde is opgevolg deur nog ‘n voorval sowat drie weke gelede, waar ‘n familie van Bauhiniastraat se Great Dane skielik simptome van die siekte begin toon het. Die hond is uitgesit en ook dié se toetse het positief teruggekom vir hondsdolheid.

Die aantal voorvalle in so ‘n beperkte tydperk in Louis Trichardt het ‘n mate van paniek veroorsaak. Wat uiters onrusbarend was, was dat laasgenoemde drie gevalle welversorgde troeteldiere van mense in die dorp was. Die siekte het ‘n bykans 100% sterftesyfer vir mens en dier as die simptome eers begin wys.

Uit vrees dat die siekte buite beheer kon raak en ook lei tot lewensverlies, het die plaaslike DBV en die Blouberg Dierekliniek besluit om vir die hele maand van Augustus mense se honde en katte teen slegs R20 per troeteldier in te ent. Die aanbod verstryk op 31 Augustus.

“Ons het nou nie ‘n toeloop van mense gehad nie, maar daar was wel ‘n goeie opkoms van mense wat hulle diere laat inent het,” het Gaigher gesê. Tot en met Maandag het hulle 105 honde en 19 katte ingeënt.

Die opkoms was heelwat beter by Blouberg. Tot en met Maandag het hulle reeds 655 diere, meestal honde, ingeënt. “Daar het baie mense gekom, en gelukkig het ons ná die Great Dane nie weer ‘n positiewe geval gehad nie,” het Dr. Freddie Harris van Blouberg gesê.

Harris het gewaarsku dat troeteldiereienaars volgens wet verplig word om hulle honde en katte teen hondsdolheid te laat inent. “En hulle moet dit jaarliks doen. Hulle moet nie nou net spuit en dink dit is verby nie. Wat ons aanbeveel, veral by jong hondjies en honde wat nog nooit voorheen ingeënt is nie, is dat dit beter is om hulle te ent en ‘n maand later ‘n booster te gee. Daarna is dit basies elke kalenderjaar later. Die immuniteit wat die entstof voorsien begin ná 12 maande dramaties afneem. Daarna begin diere weer vatbaar word,” het Harris gesê.

Harris het ook gewaarsku dat hondsdolheid orals voorkom. Weens die afgeleënheid van sekere gebiede kan die siekte dalk net stadiger of selfs glad nie versprei nie. “Steeds moet mens die siekte nie ligtelik opneem nie. Vir seker is dit ‘n gevaarlike siekte. Dit is hoekom dit belangrik is vir mense om maar hulle diere jaarliks in te ent,” het Harris gesê.

 

 
 
 

Viewed: 661

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT