ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Fanie van Zyl, fasiliteitsbestuurder by die Soutpansberg Privaathospitaal, met die dwaalkoeël wat hy in hul kragopwekkerkamer opgetel het.

Dwaalkoeël tref privaathospitaal

Date: 29 August 2020 By: Andries van Zyl

‘n Dwaalkoeël deur ‘n dak by die Soutpansberg Privaathospitaal in Louis Trichardt het opnuut die gevaar beklemtoon van die onverantwoordelik afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied. Dit gebeur ook deesdae heeltemal te dikwels.

Volgens hospitaalbestuurder me. Anneke Stroebel het hulle verlede Vrydag ‘n koeëlpunt in hul kragopwekkerkamer opgetel en ook die koeëlgat in die dak opgemerk. Hulle is egter nie seker presies wanneer die dwaalkoeël die dak getref het nie. “Iemand het gesê daar was blykbaar vroeër in die week ‘n skietery tussen die polisie en sigaretsmokkelaars. Maar ek het geen idee waar dit was nie … Dit kan ook maar net ‘n storie wees. Mens weet nie. Die feit is die dwaalkoeël kon van ver af gekom het,” het Stroebel gesê.

Die dwaalkoeël het die dak van die kragopwekkerkamer getref slegs enkele meters vanwaar pasiënte in die hospitaal lê. “Ons is net baie dankbaar dat niemand seergekry het nie. Dit wys net weer die gevaar van ‘n dwaalkoeël wat net uit die bloute uit die lug kom. Verbeel jou hy het die skoolgrond getref en dit was nie Covid-19 nie. Dan het hy dalk ‘n kind getref. Of die koeël is hier by een van ons kamervensters in, of dit het iemand wat in sy tuin loop getref … dit is nogal ‘n vreesaanjaende gedagte,” het Stroebel gesê.

Die skade en koeëlpunt is opgemerk deur die hospitaal se fasiliteitbestuurder, mnr. Fanie van Zyl. “Ons was Vrydag in die kragopwekkerkamer besig, en terwyl ons so besig was, merk ek iets op die vloer op wat lyk soos ‘n koeël. Toe ek dit optel was dit inderdaad ‘n koeëlpunt. Ek het dadelik opgekyk en toe ook die koeëlgat deur die sinkdak opgemerk,” het Van Zyl gesê.

Oor die moontlik oorsprong van die dwaalkoeël het Van Zyl gesê dat hy juis verlede week skote hoor klap het in die dorp, iets waaroor talle mense kommentaar op Facebook gelewer het. “Ek is nie presies seker watter aand dit was nie, maar in die week het ek een aand skote gehoor. Iemand het gesê dat dit ‘n Land Rover was wat backfire ... maar dit was definitief nie ‘n voertuig nie. Daar het skote geklap. Ek het ook gehoor van ‘n skietery tussen die polisie en sigaretsmokkelaars, maar vir dieselfde geld kon daardie patroonpunt al vir twee weke daar gelê het,” het Van Zyl gesê.

Van Zyl vermoed die dwaalkoeël is afgevuur uit ‘n handwapen; volgens alle aanduidings ‘n 9mm-pistool. Dit is ook nie die eerste keer dat hy met ‘n dwaalkoeël te doen kry nie. “‘n Klompie jare gelede, toe ek nog by Ou Mutual gewerk het, het ek een oggend by my kantoor ingekom. Soos mens se normale roetine maar is, het ek agter my lessenaar ingeskuif. Terwyl ek nog so besig was om te werk, toe vang my oog iets wat half versteek langs my skootrekenaar uitsteek. Toe ek dit optel, was dit ‘n 9mm-patroonpunt, en toe ek opkyk, was daar ‘n gat in die dak,” het Van Zyl gesê.

Buiten bogenoemde twee gevalle het nog ‘n dwaalkoeël verlede jaar sy weg gevind deur die dak van ‘n bekende plaaslike onderneming. “Dit het einde verlede jaar met ons ook gebeur. Ons het dit aanvanklik nie eers gesien nie, was dit nie dat die son presies reg deur die gat in die dak geskyn en ‘n kol op die vloer tussen die rakke gegooi het nie,” het mnr. Mark Archer van Archer Paint Centre gesê.

By nadere ondersoek het Mark-hulle op die koeëlpunt afgekom onder een van die rakke. “Dit het ook gelyk soos ‘n 9mm wat met spoed deur die dak gekom het. Ons is net baie dankbaar dat niemand daar gestaan het nie. Sommige mense is onverantwoordelik as dit kom by die afvuur van hul vuurwapens,” het Archer gesê.

Newton se wette verduidelik baie mooi hoekom die afvuur van ‘n koeël in die lug gevaarlik is. Wat opgaan, moet weer afkom, en in die geval van ‘n klein koeëlpunt wat teen hoë spoed ‘n vuurwapen se loop verlaat, sal die koeëlpunt baie vinnig weer aarde toe val – genoeg om iemand te verwond of selfs te dood. In die geval van ‘n 9mm kan die dodelike afstand tot vyf of ses kilometer wees vanwaar die koeël afgevuur is. Juis daarom is streng wetgewing ten opsigte van die afvuur van ‘n vuurwapen van krag, veral in beboude gebied.

Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het inwoners gewaarsku dat die afvuur van ‘n vuurwapen binne ‘n munisipale of beboude gebied streng verbied word. Die tronkstraf vir oortreders, in minder ernstige gevalle waar niemand seergekry het nie, kan tot vyf jaar beloop as ‘n koeël met behulp van ballistiese toetse met ‘n vuurwapen verbind word.

Wat spekulasie betref dat die dwaalkoeël wat deur die dak van die privaathospitaal getrek het dalk afkomstig was van die beweerde skietery tussen die polisie en smokkelaars het Radzilane gesê dat hulle geen kennis dra van so ‘n voorval nie.

 

 
 
 

Viewed: 1281

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT