ADVERTISEMENT:

 

 
 

Van links na regs: Me. Irene Adendorff, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt; Mnr. Theo Muller, waanemende hoof van Hoërskool Louis Trichardt; en Mnr. Orion Theron, hoof van die CVO-skool Zoutpansberg.

Skole optimisties dat skooljaar nie heeltemal verlore is nie

Date: 04 September 2020 By: Pétria de Vaal

Menige ouer het Maandagoggend die buitengewone besige verkeer (veral die N1) trotseer om kinders by die skool te besorg.  Die meeste skole het Maandag vir ‘n groot aantal leerlinge heropen.

Die feit dat sommige leerlinge vir só ‘n lang tyd óf nie fisies skoolgegaan het nie, óf slegs gedeeltelik teruggekeer het skool toe, het ‘n groot impak op leerders gehad. Die pandemie het beslis sy tol by skole geëis en skoolhoofde, onderwysers en ouers het ook ‘n paar grys hare bygekry. Die Zoutpansberger het egter by al drie skole wat genader is, positiwiteit en baie hoop opgemerk.

Me. Irene Adendorff, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, bevestig dat hulle seker gemaak het dat leerders nie tydens die inperking agter raak nie. Danksy tegnologie is ‘n skooltuisprogram opgestel. “Die Graad 7’s het op 8 Junie amptelik teruggekeer skool toe. Te danke aan toegewyde, ervare leerkragte kan ons die versekering gee dat die Graad 7’s glad nie benadeel is ten opsigte van die akademiese program nie en dat die voorgeskrewe kurrikulum volledig teen die einde van die jaar voltooi sal wees,” sê Adendorff.

Graad RR en R is ook reeds permanent terug. Die res van die skool is verdeel in twee groepe (Graad 2, 4 en 6 en Graad 1, 3 en 5), wat op ‘n weeklikse basis roteer. “Ons beoog om so gou as volgende week nog grade permanent in te faseer – ons is tans besig met die administrasie daarvan en dan in die daaropvolgende weke die ander grade. Ons hoop om binne die volgende maand al ons grade permanent terug te ontvang by die skool,” sê Adendorff. Leerders wat weens komorbiditeite nie skool toe kan kom nie, is ook geakkommodeer en word voorsien van skooltuiswerk, sodat hulle nie benadeel word nie, het Adendorff bygevoeg.

Tydens die week wat die leerders by die skool is, word nuwe konsepte aangeleer en tydens die tuisblyweek word inskerping en hersiening van die werk met behulp van ‘n skooltuisprogram gedoen. Adendorff meld dat die onderwysdepartement wel aangepaste leerplanne vir al die vakke voorsien om in die verkorte skooljaar die kurrikulum te voltooi, met die wete dat sommige van die inhoud in die volgende jaar behandel sal word.

“Leerders by ons skool is wel emosioneel en sosiaal geraak deur die inperking, aangesien hulle nie met hul maats kon sosialiseer nie. Ook die feit dat leerders en afrigters nie aan buitemuurse aktiwiteite kon deelneem nie, was vir hulle ‘n groot teleurstelling. Die skool is gereed om, sodra die inperkings verder gelig en toestemming verleen word, dadelik met die buitemuurse program voort te gaan,” sê Adendorff.

Volgens Mnr. Theo Muller, waarnemende hoof van Hoërskool Louis Trichardt, mag alle leerlinge nou al by die skool wees. Graad 12’s is al geruime tyd terug op die skoolbanke, terwyl twee grade op ‘n keer vir twee weke saam met die Graad 12’s skoolgaan. In effek is dit die Graad 8’s en 9’s, en hulle word daarna weer afgewissel deur die Graad 10’s en 11’s vir die volgende twee weke. Wanneer leerlinge hulle twee weke tuis deurbring, word opdragte gedoen en e-leer gaan voort.

Die Graad 12’s is tans besig om voor te berei vir hulle Rekordeksamen wat Maandag, 7 September, ‘n aanvang neem. “Hulle is vanjaar beter voorberei as verlede jaar s’n,” sê Muller. Hy skryf dit daaraan toe dat meer akademiese tyd beskikbaar was. In die verlede is heelwat tyd afgestaan aan sport- en ander aktiwiteite. “In al die vakke is ‘n minimum van 99% van die vakke se inhoud reeds afgehandel,” sê Muller. Die skool is opgewonde daaroor dat hulle inderwaarheid méér gedoen het. Leerlinge en onderwysers het deurgaans gewerk – hulle het inderdaad eintlik geen vakansie gehad nie!

Muller bevestig dat alles wel aangeskuif het. Die eindeksamen begin vanjaar op 5 November en loop ten einde op 15 Desember. Die merk van vraestelle geskied vanaf 4 tot 22 Januarie.  Hoërskool Louis Trichardt sal weereens ‘n merksentrum wees. “Volgens die Departement van Onderwys sal uitslae aan die einde van Februarie of begin Maart beskikbaar wees,” vervolg Muller. Hierdie laat uitslae sal nie ‘n invloed hê op leerders wat byvoorbeeld universiteit toe gaan nie.  Universiteite is gerat om eerstejaarstudente eers in Aprilmaand te ontvang. Muller bevestig dat alle prosesse by tersiêre instellings reeds aan die gang is.

Die onsekerheid aangaande die pandemie en alles wat daarmee gepaard gegaan het, het uiteraard ‘n bron van kommer veroorsaak. Muller noem dat almal by die skool nou ‘n meer stabiele tyd ervaar. “Almal by die skool, onderwysers sowel as leerders, lyk gelukkig en dinge gaan normaal voort, met die nodige protokol in plek. Daar moes onlangs ‘n vraelys ingevul word wat deur die Departement van Onderwys versoek is. Onder meer is gevra of die skool sielkundiges benodig om na die emosionele sy van personeel en leerders om te sien. Daar kon nog geen nodigheid vasgestel word nie, omdat geen gevalle of versoeke aangemeld is nie,” sê Muller.  Die dienste van ‘n berader is wel deurentyd by die skool beskikbaar.

Met dié dat leerders nou weer by die skool is, is kontrole soveel makliker. Volgens Muller is ongeveer 30-40% van leerders agter met hulle werk.  “Die rede vir die agterstallige werk kan wees dat, ten spyte van volledige kommunikasie van die skool se kant, dit nie ontvang is nie, of bloot net nie gedoen is nie – iets buite die skool se beheer,” noem Muller. Meer as 90% van leerders is terug by die skool. Slegs diegene wat onderliggende siektetoestande het, óf wat verkies om in hierdie stadium steeds van e-leer gebruik te maak, is nog tuis. Leerders word aangeraai om tuis te bly wanneer hulle siek voel, of wanneer ‘n familielid siek is. “Ons is dankbaar dat daar nog geen Covid-19 geval in ons skool was nie – dit is net ‘n groot genade dat dit nog nie nodig was om die skool te sluit nie,” sê hy.

Muller wil graag vir die ouers wat volgehou het om skoolfonds te betaal, opreg bedank. Hy wil ook ander ouers uitnooi om met die skool reëlings te tref  en ‘n plan van aksie uit te werk ten opsigte van betalings. Die skool het almal se samewerking bitter nodig, anders sal van die bestuursliggaamposte in die gedrang wees.

CVO-skool Zoutpansberg is reeds geruime tyd ten volle aan die gang. “Afstandsonderrig is ook steeds in plek vir diégene wat verkies het om tuis te bly,” bevestig skoolhoof Orion Theron. “Ons het onlangs ‘n strategiese aanstelling gedoen deurdat een van ons vorige personeellede die kwaliteitskontrole en logistieke rondom die ‘Teams’-platvorm hanteer,” sê Theron. “Die feit dat ons ‘n privaatskool is en die Onafhanklike Onderwysraad (IEB) se Graad 12 eindeksamen aflê, het natuurlik in ons guns getel – iets waarvoor ons baie dankbaar is. Ons het glad nie ingeboet op die kurrikulum nie.  

“Assesserings het deurgaans plaasgevind, en alle leerlinge is tans besig met die skryf van eksamens. Graad 12’s het reeds verlede Maandag met Rekordeksamen begin. Ons is dankbaar om te kan sê dat onderrig staande gebly het,” sê Theron.

Hy is dit eens dat die emosionele aspek teenwoordig was en steeds is. Elke kind hanteer emosie anders. Volgens hom sal die groot toets teen volgende jaar wees – om te sien hoe die Graad 12’s hulle pad vorentoe aanpak. “Ten spyte van uitdagings het onderrig staande gebly. Die skool kon vir leerders ‘n veilige hawe skep. Leerders het innerlik gegroei. Toerusting is in die lewe se rugsak gepak wat leerders sterker gemaak het as wat hulle andersins sou wees,” sê Theron. “Bowenal het die inperking en gepaardgaande afstandsonderrig die ZCVO in staat gestel om die Evangelie van Christus wyer as klasverband te verkondig. Ons Christelike kurrikulum en etos word nou die wêreld ingestuur,” sê Theron.

 

 
 
 

Viewed: 1199

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT