ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jacques Smalle van Louis Trichardt maak steeds opgang in die land se politieke arena en is die afgelope week verkies as die Demokratiese Alliansie se derde federale adjunk-voorsitter. Dit plaas hom onder die top vyf leierskapfigure binne die party. Foto verskaf.

Jacques nou een van DA se top vyf politieke figure

Date: 07 November 2020 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het deur die jare heelwat belangrike politieke figure opgelewer, die bekendste sekerlik die huidige leier van Suid-Afrika, President Cyril Ramaphosa, met sterk bande met die voormalige Venda tuisland. Die afgelope week het nog ‘n bekende in plaaslike geledere verdere opgang gemaak in die nasionale politieke arena.

Jacques Smalle, ‘n boorling van Louis Trichardt, is op 1 November tydens die Demokratiese Alliansie (DA) se federale kongres verkies tot die party se federale raad se derde adjunk-voorsitter. Tydens dieselfde geleentheid is John Steenhuisen verkies as federale leier van die DA, met dr. Ivan Meyer as federale voorsitter van die party. Jacques se ander twee federale adjunk-voorsitters is Refiloe Nt’Sekhe as eerste adjunk en Anton Bredell as tweede adjunk. Dit plaas Jacques tans onder die top vyf kandidate op die DA se nasionale leierskapranglys.

Die Zoutpansberger het Maandag met Jacques gesels te midde van ‘n uiters besige skedule. Vir hom is dit ‘n groot eer om vir die posisie genomineer te word. “Jy moet nege provinsies kry om jou te ondersteun. As jy vat dat Limpopo se steunbasis by die kongres die kleinste is, in teenstelling met Gauteng en die Weskaap, wat die grootste steunbasis het, gebeur dit nie maklik dat iemand uit ‘n klein provinsie hierdie posisie bereik nie,” het Jacques gesê.

Jacques, wat tans provinsiale leier van die DA in Limpopo is, het bietjie uitgebrei oor wat van hom verwag sal word as een van die drie federale adjunk-voorsitters. “Dit beteken basies net meer verantwoordelikhede op my skouers. Die doel van die vier voorsitters [dr. Meyer ingesluit] is om die federale leier te ondersteun. Ons is deel van wat ons noem die NMC [National Management Committee]. Dit is soos ‘n dagbestuur wat een keer per week vergader om oor die dag-tot-dag dinge te besluit,” het Jacques gesê.

Deel van hul pligte sal wees om na die DA se politieke program om te sien. “Dit behels om toe te sien dat alle beleidsbesluite en resolusies wat op kongresvlak geneem word, deurgevoer word en aanklank vind binne die onderskeie provinsies en munisipaliteite waar ons aan bewind is. Dit is om seker te maak dit wat ons sê, wel gedoen word,” het Jacques gesê.

Dan is daar ook ‘n internasionale arm binne die partye wat die Afrika kontinent en die res van die wêreld bekyk. “In hierdie konteks gaan die Europese Unie, Sjina en Indië my verantwoordelikheid wees wat betref internasionale betrekkinge en internasionale beleggingsmoontlikhede. So ek gaan ambassadeurs en sakelui ontmoet. Dit is onder meer deel van my werk. Jy bou hierdie bande op met die oog dat jy eendag wel in die regering gaan wees. Dan moet jy nou reeds vir hulle sê wat jou beleid gaan wees. Baie van hierdie bande help egter reeds wat betref ekonomiese ontwikkeling in die Weskaap en munisipaliteite waar die DA reeds regeer,” het Jacques gesê. Hy het bygevoeg dat Bredell die bestuur en opleiding binne die partye sal hanteer om seker te maak dat die lede op plaaslike regeringsvlak opgelei is, doen wat hulle moet doen en al die nodige ondersteuning kry. “Waar ek fokus op die Europese Unie, Sjina en Indië, gaan Anton fokus op Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Refiloe Nt’Sekhe gaan fokus op die Afrika state. Dr. Ivan Meyer gaan fokus op Suidoos Asië,” het Jacques gesê.

Jacques dien al vir amper ‘n dekade op die DA se federale raad in verskeie hoedanighede. Sy langtermyn visie vir die party is om regtig ‘n verskil te maak in Suid-Afrika. “Die eerste punt waartoe ‘n mens mik, is om regtig ‘n regering van nasionale eenheid op een of ander wyse te skep, sodat jy beleidsverandering kan meebring in die groter konteks … Dit gaan ‘n oorbruggingsfase wees, want of mense dit nou wil weet of nie, koalisieregerings is ons voorland. Daar is egter ‘n paar mense wat konflik in die land aanhits en nie ‘n ope geleentheid vir die hele samelewing wil gee nie. Hierdie resep wat hulle volg is nie goed vir die toekoms van die land nie. Maar ek weet die gemiddelde Suid-Afrikaner wil net graag sien dat die land groei en welvaart vir almal skep. Hierdie wens van die gemiddelde Suid-Afrikaner gaan uitkom in ‘n stadium – dit moet,” het Jacques gesê.

Vir dié uitdaging sien Jacques beslis kans. “Maar jy moet ‘n span mense om jou bou. Jy moet kan leer om te delegeer. Dit gaan ‘n uitdagende pad wees, maar nie ‘n onmoontlike pad nie. Ek sien uit daarna, want dit is iets nuuts,” het Jacques gesê.

Te midde van sy besighede skedule wat hom reg oor die land en nou ook die wêreld sal neem, bly Jacques se plaas buite Louis Trichardt steeds sy tuiste. “Die plaas is die enigste plek waar ek rus en vrede geniet. Tydens die grendeltyd het ons self ‘n houtdek en swembad op die plaas gebou. Dit is terapeuties. Waarvan ek hou is om met my buurman en die gewone mense van Louis Trichardt te gesels. Ons beweeg nie sommer dadelik in die politieke spektrum in nie, maar dit is goed om te hoor wat die mense op straat sê,” het Jacques gesê.

Vir eers gaan hierdie 50-jarige politikus aanbly as provinsiale voorsitter van die DA, tot en met die party se nasionale kongres in Februarie volgende jaar. 

 

 
 
 

Viewed: 957

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT