ADVERTISEMENT:

 

 
 

Frans Vermaak is tuis maar nog nie heeltemal weer op die been nie, nadat hy vroeër die maand met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is wat hom verlam gelaat het.

Frans tuis, maar nog nie heeltemal op die been nie

Date: 21 November 2020 By: Andries van Zyl

Alhoewel die 40-jarige Frans Vermaak van Louis Trichardt terug is by die huis ná hy op 2 November met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is, lê daar vir hom nog ‘n lang pad van herstel voor. Dié gewilde jong sakeman van Louis Trichardt is letterlik oornag platgetrek deur hierdie rare inflammatoriese siekte waar die liggaam se immuunstelsel die senuwees aanval en verlamming tot gevolg het.

Die Zoutpansberger het Woensdagoggend by hom gaan inloer waar hy by die huis aansterk. “Jy skrik jou boeglam, want jy weet nie wat aangaan nie,” het Frans gesê. Hy het verwys na hoe vinnig hy die gebruik van sy ledemate aan die begin van die siekte verloor het. Dieselfde dag wat hy met die sindroom in die Pietersburg MediKliniek gediagnoseer is, is daar begin met ‘n bloedplasma-uitruiling (plasmaferese). Hy het ook feitlik dadelik begin met fisioterapie om die verlamming van sy spiere teen te werk.

Teen verlede Donderdag (12de) het Frans tot so ‘n mate herstel dat hy ontslaan is om verder by die huis aan te sterk. Dit beteken egter nie dat hy nou gesond is nie. “My vingerpunte, hande en voete is nog half dood. Die naalde-en-spelde gevoel is al weg, maar ek kan nog nie voel of ek hard of sag vat nie. My voete werk, maar ek moet die heel tyd vir hulle kyk. Ek moet erg konsentreer. Dit is soos as jou hand of voet aan die slaap geraak het,” het Frans gesê.

Vir eers is Frans dus nog “op sy rug” in die bed. “Ek kan nog glad nie self loop nie. Ek loop met hulp met ‘n loopraam. Anders sit ek maar in die rolstoel. Ek kan ook nie te lank sit nie, voordat my voete en bene begin opswel,” het Frans gesê. Geestelik is Frans egter sterk en oortuig daarvan hy gaan vinnig en volkome herstel. “Ek hanteer dinge soos dit kom. My kop is reg. Hy raas ‘n bietjie, maar hy is reg,” het Frans met sy kenmerkende skerp humor gesê.

Tans ontvang Frans fisioterapie om hom te help om weer ten volle te herstel. Hoe lank dit nodig gaan wees, weet niemand nie. “Elke ding wat ek doen, moet die brein nou weer van voor af leer,” het Frans gesê.

Volgens Frans het hy al meer as 50% gebruik van sy ledemate al herwin. “ …maar die gevoel moet nog terugkom. Ek het beheer. Ek kan loop, maar ek moet kyk waar my voete is … die fisioterapeute moet my nou basies weer van voor af leer loop,” het Frans gesê. Dan slaan sy humor weer deur: “Ek het gevoel, maar my brein kommunikeer nog nie lekker my my ledemate nie. Die sensors fire nog nie lekker nie. Soos ek nou die dag vir ‘n vriend van my gesê het, dit is soos ‘n Ford bakkie wat nie wil start in die winter nie.”

Frans is vas oortuig daarvan dat die vinnige tempo waarteen hy herstel te danke is daaraan dat medici hom so vinnig kon diagnoseer en met behandeling begin. Hy het genoem dat hy van mense gehoor het wat vyf of ses maande later nog in ‘n rolstoel sit. “Maar ek gaan nog ‘n hele ruk uit sirkulasie wees. Sodra ek weer self kan loop, sal ek bly wees. Dit gaan nog lank vat om al die klein dingetjies weer van voor af te leer,” het Frans gesê. Hy is egter gretig om weer aan die gang te kom.

“Dit is ‘n snaakse siekte hierdie. Hy vat jou net en sê ‘kom ons sit ‘n paar stroombrekers in jou liggaam af’. My liggaam het homself aangeval. Gelukkig kan ek sê ek het ‘n baie goeie immuunsisteem. Mens moet maar net alles weer van voor af leer. Ek weet ek sal herstel, maar vir eers is daar geen hardloop of dak opklim nie. My pa wil natuurlik hê ek moet so vinnig as moontlik herstel om weer in die winkel te kom help,” het Frans skertsend afgesluit.

 

 
 
 

Viewed: 1138

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT