ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 21-jarige Corrie Dercksen van Louis Trichardt. Teen Woensdag het die moontlikheid nog bestaan dat sy regterbeen geamputeer moes word, nadat hy met ‘n mes in die knieg gesteek is. Foto verskaf.

Jong man veg om been te behou ná messteek

Date: 27 November 2020 By: Andries van Zyl

Onsekerheid  heers steeds of ‘n jong man van Louis Trichardt sy been gaan verloor, nadat hy tydens ‘n geveg met sy vriendin se eks-kêrel herhaaldelik met ‘n mes gesteek is.

Die 21-jarige Corrie Dercksen en sy ouers het Woensdag steeds op nuus gewag of dokters sy regterbeen sal moet amputeer weens komplikasies wat ingetree het nadat hy in die knieg gesteek is. Hy is ook in die skouer en ‘n bisepspier gesteek.

Wat presies op die aand van Sondag, 15 November, buite Dercksen se vriendin se woonstel by die Groningen-kompleks in Bredastraat plaasgevind het, is onseker. “Daar is baie stories en ons weet nog nie die volle waarheid nie,” het Corrie se pa, Niekie, aan die Zoutpansberger gesê.

Niekie het vertel hoe sy seun hom om 21:00 vanaf die Louis Trichardt Gedenkhospitaal se ongevalle-eenheid geskakel het. “Ons het dadelik opgery na die hospitaal, en toe ons daar kom, lê daar ‘n bloedspoor vanaf die hek tot by ongevalle. Ek is verbaas my kind het hom nie doodgebloei nie,” het Niekie gesê.

Die plaaslike staatshospitaal was die enigste uitweg vir Corrie-hulle, want hy het nie medies nie. “Die Dinsdag [17de] het hulle hom ontslaan. Donderdag het ons egter gesien iets is nie lekker nie. Die aand het daar ‘n knop in sy binnebeen uitgestoot - ‘n tipe aneurisme van die are. Ons het met hom teruggejaag hospitaal toe en regtig twee goeie dokters daar gekry. Hulle was erg besorg oor Corrie en het dadelik werk gemaak van sy situasie,” het Niekie gesê.

Niekie het verduidelik dat daar met die steek in die knieg van Corrie se are in die been afgesny is. “As gevolg hiervan het Corrie kompartement sindroom opgedoen in sy lae been. Dit is bloed wat tussen die been en die weefsels inpomp en die senuwees vasdruk. Tans lê hy letterlik met twee oop wonde, van sy knieg tot sy voet,” het Niekie gesê.

Met die besef dat Corrie se toestand ernstig was, is hy vroeg verlede Vrydag per ambulans oorgeplaas na die provinsiale hospitaal in Polokwane. “Ons is agterna. Daar aangekom, het hulle toetse begin doen, maar daar was nie water in Polokwane nie. Hulle kon dus nie opereer nie en Corrie is per ambulans oorgeplaas na die Mankweng Hospitaal toe,” het Niekie gesê.

Skaars by Mankweng aangekom, het die dokters by die provinsiale hospitaal in Polokwane egter laat weet dat hulle weer water het en dat Corrie teruggestuur moes word. “Ek moet sê, die provinsiale hospitaal in Polokwane is so skoon, jy kan van die grond af eet. Ons is baie beïndruk met hulle. Hulle het ons regtig met respek behandel,” het Niekie gesê. Hulle was net te bly dat die dokters toe wel kon opereer.

Ten spyte van die operasie bestaan baie onsekerheid steeds of Corrie sy been gaan behou. “Hulle wou Maandag sy been afsit. Die dokters het egter ingestap en die wonde oopgemaak. Hulle was heel verbaas dat sy spiere en bloedvloei weer begin funksioneer het,” het Niekie gesê. Hy sê hulle glo vas Corrie gaan sy been behou. “Ons glo vas hy sal, want daar is lewe in die een spier terug en die bloedvloei is terug. Die dokters is baie verbaas,” het Niekie gesê.

Die polisie het later die 28-jarige Frederick Johannes (Freek) Grobler in verband met die voorval gearresteer. Hy het op 17 November in die hof op Louis Trichardt verskyn op klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat en sal weer op 4 Desember in die hof moet verskyn.

Wat die hofsaak en polisie-ondersoek betref, het Niekie gesê hulle weet nie regtig wat daar aangaan nie. “Ons hooffokus is nou net op Corrie,” het Niekie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2889

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT