ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Dalene en haar tweede man Corrie Sweers wat in November 2020 getroud is. Foto verskaf.

Bekende oud-inwoner sterf na brein aneurisme

Date: 07 January 2021 By: 

Inwoners van Louis Trichardt het met hartseer verneem van die dood van Dalene Grobler (nee Kirsten) op Donderdag, 18 Desember, in Pretoria ná ‘n aneurisme in die breinstam.

Dalene was nege jaar oud toe die Kirsten-familie hulle in 1958 in Louis Trichardt gevestig het en het in 1966, saam met onder andere oorlede dr. Wim de Villiers, aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Nadat sy 'n BA Mus-graad aan die Normaal Kollege en UP verwerf het, was sy vir twee jaar musiekonderwyser by haar alma mater. In Desember 1972 trou sy met Hennie Grobler en verhuis na Pretoria. So tussen skoolhou, musieklesse en orrelis wees, het sy en Hennie twee dogters, Esta en Elsie, en ‘n seun, Jan, grootgemaak.

“Sy het ’n groot gee-hart gehad en hulle huis was altyd vol tydelike inwoners en besoekers. Sy was ’n passievolle volgeling van Jesus en het met oorgawe liefgehad. Of jy nou ’n vriend, verlangse kennis, familielid of straatbedelaar was, jy het nooit met leë hande van haar af vertrek nie en op jou verjaarsdag het jy altyd ’n oproep of boodskappie van haar gekry,” het broer Johan Kirsten gesê.

Hennie is in 2018 aan kanker oorlede en op 14 November 2020 is Dalene weer getroud met Corrie Sweers, 'n familievriend van 45 jaar. “Die paar maande van hofmakery en getroud wees met Corrie was sulke gelukkige tye,” het Johan gesê.

Dalene was 'n orgaanskenker en ten spyte van haar 71 jaar, is haar organe geskik bevind vir oorplanting. “Haar dogter, Esta, sou op 15 Januarie 2021 'n nier van haar jonger broer, Jan, ontvang het, maar Dalene se niere was in so 'n goeie toestand dat een van hulle op Saterdag, 19 Desember, in Esta oorgeplant is. Dat sy selfs na haar dood steeds aanhou gee, is miskien die beste getuienis van haar lewe,” het Johan gesê. Hy het bygevoeg dat alhoewel hulle hartseer en verlange groot is, is hulle familie en vriende ongelooflik dankbaar vir Dalene se tydjie hier op aarde. “Ons dank die Here vir haar lewe,” het Johan gesê.

Wyle Dalene word oorleef deur haar man, kinders, broer Johan, suster Bessie Keun, kleinkinders Amelia en Benjamin Schoeman en aangetroude familie.

 
 
 

Viewed: 1297

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT