ADVERTISEMENT:

 

 
 

Anri Fourie links en Schalk en Dodrie Crobett regs. Foto's verskaf.

Inwoners huiwerig en maar realisties oor nuwejaarsvoornemens

Date: 09 January 2021 By: Pétria de Vaal

Aan die einde van 2019 en die begin van 2020 het baie mense planne en mooi nuwejaarsvoornemens gehad, maar die pandemie het 'n stokkie daarvoor gesteek. Het mense vanjaar enigsins voornemens gemaak of is hulle huiwerig? Die Zoutpansberger het gaan ondersoek instel en met ‘n paar inwoners van Louis Trichardt gesels.

Dodrie Corbett van Nel Havinga & Corbett het nie voornemens gemaak nie. Sy het wel die afgelope feestyd se familietyd gekoester. “My nuwejaarsvoorneme is bloot om die mense om my te waardeer en goed te probeer wees vir dié wat oor my pad gestuur word,” sê Dodrie. Haar leuse vir die jaar is: It is better to be kind than to be right.

Anri Fourie, ma van vier jong kinders en bekende in die toerismebedryf, gesels openhartig oor die pandemie en nuwe voornemens. Sy en haar man besit en bestuur twee gastehuise, naamlik 139 on Munnik en 93 on Celliers. “Elke jaar probeer ons realistiese doelwitte vir ons besighede stel wat haalbaar is. 2020 was nie ‘n uitsondering nie - ons moes net aanpas en dit maak werk,” sê Anri.

2020 was ‘n baie moeilike en uitdagende jaar vir almal gewees, maar veral vir die toerismebedryf. Vir Anri was haar grootste bekommernis hulle personeel. Hulle het tans 16 personeellede waarvoor hulle verantwoordelik is en het glad nie geweet hoe hulle by hulle oorhoofse onkostes sou kon uitkom as hulle nie kon besigheid doen nie. Volgens Anri het alles darem ten goede meegewerk. “As dit nie vir my goed geoliede span was wat onder baie moeilike omstandighede positief moes bly nie, was daar probleme. Ons dank die liewe Vader hiervoor, want sonder Hom sou ons dit nie tot aan die einde toe kon gemaak het nie,” sê sy.

“2021 is ‘n nuwe jaar met sy eie nuwe uitdagings. En ek dink ons gaan nog lank saam met die virus leef. Ek het volle vertroue dat die regering die regte besluite sal neem om ons bedryf te beskerm,” sê Anri. Volgens haar moet die lewe aangaan en hoop sy op ‘n oplewing in die toerismebedryf, tensy daar weer ‘n Vlak 5 grendelstatus in aantog is. “Ons sal maar moet sien hoe lyk die maande wat voorlê. Ek bly positief en glo dat ons sal oorleef. Hard work pays off,” sê sy. Haar  voornemens vir 2021 is om kop bo water te hou en om al hulle oorhoofse kostes te dek. 

Twee anonieme besigheidspare het ook hulle gedagtes met die Zoutpansberger gedeel. Wanneer 'n jaar begin het meeste mense gewoonlik twee doelwitte: almal is vreeslik gesondheidsbewus en wil reg eet en oefen. Die tweede is normaalweg om finansiële beplanning vir die jaar te doen. Dit sluit in om bv. te spaar vir vakansies.

“Toe kom Covid-19 en ewe skielik kan jy nie in ‘n gimnasium of oefenpark kom nie, en ons grootste bekommernis is ons kinders se gesondheid met die oopmaak van skole,” sê die een dame. “Ons kon ook nie ‘n vakansie beplan nie. Diegene wat wel het, word nou belet op strande,” vervolg sy.

“Wat ons wel weet, is dat ons ons kinders gaan leer om hul finansies te bestuur asof daar môre weer ‘n erger Covid-19 pandemie met implikasies gaan wees,” vervolg sy. Sy en haar besigheidsman noem dat langtermynbeplanning in besigheidskonteks amper 'n mite geword het met dié dat groot veranderings aan die orde van die dag is. “Wat wel baie positief is, is dat ons geleer het om met minder bronne dieselfde werk te verrig,” sê hierdie besigheidspaar. “Ons primêre doelwit vir 2021 is die behoud van die span – ook ons grootste uitdaging.  Met genade van Bo kan ons dit bereik,” sê hulle.

‘n Ander bekende besigheidspaar noem dat 2021 hulle geen ruimte laat om voornemens te maak nie. “Om kop bo water te hou moet ons water trap dat dit bars. Ons moet helder en realisties oor die toekoms dink - planne maak om voor te berei op die ergste. Die las is swaar om te dra; jou personeel kyk in jou oë vir ‘n uitweg. Jou personeel se verlof is ook uitgeput en die moraal is redelik laag,” sê hulle. “Daar is wel een voorneme. Ons gaan op ons knieë bly; dis realisties en haalbaar.”

Volgens Carin Fisser van U-Print gaan 2021 se voornemens byna deur 'n  grendeltyd van sy eie.  Niemand praat meer van kilo’s wat jy wil afskud, of geld wat jy gaan spaar vir daardie spesiale droom waarvoor jy al so lank werk nie. Dit sluit byvoorbeeld die nuwe besigheid wat jy wou begin in of die nuwe masjien wat jy moet koop om jou besigheid se horison te verbreed.  Die Nuwejaarswense en -drome het heeltemal ‘n nuwe wending geneem. 

“Hierdie is ook veral in die besigheidsbedryf ter sprake. Voorraad raak minder, aankooppryse het verdubbel en uitgawes is hoër. Personeel se werk en inkomste is in die gedrang. Maar sonder twyfel kan ‘n mens sien dat selfs in swaarkrytye mense en besighede steeds hul hande en harte oopgehou het. Dit kom voor asof daar 'n verdieping van omgee in baie mense ontstaan het ten spyte van onsekerhede en vrese wat Covid-19 tot by ons voordeur gebring het en homself moedswillig tuis gemaak het in sommige van ons huise.  Ek dink die tradisie van nuwejaarsvoornemens moet voortgaan. Dit is 'n aanmoediging om nie na die storm te kyk nie, maar om jou oë vorentoe te hou en boontoe te rig,” sê Carin.

 

 
 
 

Viewed: 1147

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT