ADVERTISEMENT:

 

 
 

Me. Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste Ouetehuis. Sedert 1 Januarie tot 1 Februarie is 13 gevalle van Covid-19 in die tehuis aangemeld, wat gelei het tot vyf sterftes.

Ons Tuiste spring nie hartseer van Covid-19 vry nie

Date: 04 February 2021 By: 

Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt het nie die hartseer realiteite van die gevreesde Covid-19 pandemie vrygespring nie.

“Ons Tuiste Ouetehuis het vanaf 1 Januarie 2021 gebuk gegaan onder die land se Covid-19 pandemie. Tot op datum het ons 13 Covid-19 gevalle gehad, waarvan daar vyf sterftes was. Ons innige meelewing en simpatie aan die families wat geliefdes aan die dood moes afstaan in hierdie tyd,” het me. Kittie de Bruin, bestuurder van die tehuis, Maandag in ‘n verklaring gesê.

Te midde van die hartseer en onsekerheid het De Bruin haar dank uitgespreek teenoor die families en geliefdes van Ons Tuiste se inwoners wat nie tans hulle ouers in die tehuis kan besoek nie vanweë ‘n totale verbod op besoeke. “Ons het groot waardering vir julle begrip,” het De Bruin gesê.

Al die sterftes by Ons Tuiste was in die siekeboeg. “Ons Tuiste Ouetehuis se verswakte afdeling is 50 jaar gelede opgerig as ‘n versorgingseenheid en huis vir bejaardes. Nooit was daar gedink dat daar ‘n pandemie by Ons Tuiste Ouetehuis sal uitbreek nie – daar waar bejaardes in liefde en vrede hul laaste jare wil geniet,” het de Bruin gesê.

De Bruin het haar opregte dank uitgespreek teenoor die dorp se medici wat, ten spyte van die gevare, nie skroom om siek pasiënte te kom help nie. “Hiermee my opregte dank en waardering aan drs. Stroebel, Venter, Malan, Badenhorst en Gaigher vir hulle 24-uur-per dag bystand die afgelope maand. Dankie vir dr. Stroebel vir sy daaglikse saalbesoeke en vir die ruim donasie van PPE-uniforms aan Ons Tuiste,” het De Bruin gesê.

De Bruin het ook namens die tehuis hul dank uitgespreek teenoor Dawn Smit en haar personeel van Pest Control wat gratis die tehuis in diepte kom spuit het. “Baie dankie ook aan ons anonieme jong sakeman vir die ruim skenking van broodnodige handskoene, voorskote, maskers en handreinigers,” het De Bruin gesê.

Laastens maar nie die minste nie het De Bruin hoë lof gehad vir haar personeel wat tans onder moeilike omstandighede moet funksioneer. “Dankie aan al die personeel wat veg, onder bitter moeilike omstandighede, om alles onder die knie te kry en elke dag getrou opdaag vir werk. Dankie aan elke gebed wat vir Ons Tuiste Ouetehuis gebid word en baie dankie aan ons Hemelvader vir genade onbeskryflik groot. Alleen kan ons dit nie doen nie,” het De Bruin gesê. Sy het bygevoeg dat hulle glo en vertrou dat dinge spoedig sal beter gaan.

 

 
 
 

Viewed: 1524

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT