Die swart mamba het ‘n baie sterk neurotoksiese gif wat ook baie dun is en baie vinnig deur die liggaam versprei. Die gevaar van hierdie byt is dat dit ‘n mens se liggaam ‘afskakel’ en mens kan vinnig in ‘n koma ingaan en dan doodgaan. Foto verskaf.

Wees nou meer as ooit tevore op die uitkyk vir slange

Date: 06 February 2021 By: Andries van Zyl

Viewed: 4023

Die dood van bekende Louis Trichardt sakeman Manny de Sousa twee weke gelede, nadat hy deur ‘n swart mamba gepik is, het opnuut die fokus geplaas op juis hoe gevaarlik hierdie reptiele is. Die swart mamba is egter nie die enigste uiters giftige slang waarvoor inwoners van die Soutpansberg moet uitkyk nie.

Buiten vir die swart mamba, kom die pofadder, Mosambiekse spoegkobra, wipneuskobra en boomslang ook in die streek voor en baie mense blyk onder die illusie te verkeer dat wanneer mens deur een van hierdie slange gepik word, jy bloot ‘n dosis teengif by die dokter moet gaan kry en dan is jy binnekort weer piekfyn. Volgens plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen kan hierdie aanname nie verder van die waarheid verwyderd wees nie.

“Die meeste mense is allergies vir teengif en daar gaan meer mense dood vanweë die toediening van teengif as van slangbyte. Daarom is dit baie, baie gevaarlik om teengif sommer in die veld of by die huis aan te hou en self toe te dien, sonder enige mediese hulp. Teengif moet SLEGS deur ‘n dokter toegedien word of medici wat weet wat hulle doen en ervaring het met anafilaktiese skok [wat intree indien ‘n persoon allergies is vir teengif],” sê hy.

Van Rooyen sê dat die meeste slangbyte veroorsaak word deur die Mosambiekse spoegkobra en pofadder: “Hierdie slange is verantwoordelik vir die meeste ernstige byte in suider Afrika. Die Mosambiekse spoegkobra byt talle mense in hul wonings en die pofadder wanneer mense op hom trap of aan hom vat.”

Wat die spoegkobra en pofadder so gevaarlik maak, sê Van Rooyen, is die feit dat hulle ‘n sterk sitotoksiese gif het, met ander woorde, die gif vernietig weefsel. “Die gif beweeg baie stadig deur die liggaam en vernietig weefsel sover as wat dit gaan. Dit kan selfs tot die dood lei as mense nie behandeling daarvoor ontvang nie. Die byt van hierdie slange kan ‘n mens se hele leefwyse verander, omdat dit soveel skade aanrig. Mense kan ledemate, asook spierwerking op ledemate, verloor,” sê Van Rooyen en voeg by dat die aantal operasies ná die tyd om die skade te herstel skrikwekkend kan wees.

‘n Swart mamba, aan die ander kant, verduidelik Van Rooyen, het ‘n baie sterk neurotoksiese gif wat ook baie dun is en baie vinnig deur die liggaam kan versprei. “Die gevaar van hierdie byt is dat dit ‘n mens se liggaam ‘afskakel’ en mens kan vinnig in ‘n koma ingaan en dan doodgaan. Alhoewel teengif doeltreffend is vir so ‘n byt, vat dit ontsaglik baie teengif en moet mens aan ‘n ventilator gekoppel wees - iets wat in hierdie stadium baie skaars is vanweë die groot hoeveelheid kritieke Convid-19 gevalle by hospitale,” sê Van Rooyen. Hy het eerstehandse ervaring van ‘n swart mamba se pik ‘n jaar of wat gelede, iets wat hy nie graag weer wil ervaar nie. “Ons in die slangvang bedryf is reeds almal gewaarsku dat ons uiters versigtig moet wees om nie gebyt te word nie, veral nou dat feitlik geen ventilators by hospitale beskikbaar is nie,” sê hy.

Nog ‘n gevaarlike kalant is die wipneuskobra. “Hulle byte is net so gevaarlik, omdat hul ook neurotoksies is, maar ook ‘n minder sitotoksiese gif het. ‘n Byt deur ‘n wipneuskobra vereis ook ‘n groot hoeveelheid teengif,” sê Van Rooyen.

Volgens Van Rooyen is die boomslang verantwoordelik vir die minste gevaarlike byte, omdat hulle nie algemeen deur mense raakgeloop word en ook nie maklik byt nie. “Hulle byte is wel sekerlik een van die onaangenaamste van alle slangbyte en mediese kostes kan honderde duisende rande beloop,” sê hy.

Wat die byt van ‘n boomslang so gevaarlik maak, is die feit dat die polivalente teengif  wat by dokters en hospitale beskikbaar is, nie werk teen die byt nie. “Monovalente teengif moet bestel word as iemand deur ‘n boomslang gebyt word, want dokters en hospitale hou dit nie aan nie omdat byte so skaars is,” sê Van Rooyen.

Die gif van ‘n boomslang is hemotoksies. Dit verhoed dat bloed stol. “Dit veroorsaak grootskaalse inwendige bloeding en mense bloei dan uit hulle mond, neus, oë, ore, ensovoorts,” vertel Van Rooyen. As behandeling is talle bloedoortappings nodig. “Dit kan ‘n lang proses wees, aangesien ‘n mens se liggaam nie altyd die bloed aanvaar wat toegedien word nie,” voeg hy by.

Wat voorafgaande betref, waarsku Van Rooyen inwoners, “Asseblief mense, los die slange vir mense wat weet wat om te doen as jy op een sou af kom. Die risiko om gebyt te word is nie die moeite werd nie. Wees versigtig as julle buite rondloop, veral na ‘n reënbui of teen skemer wanneer die meeste slange aktief is. As jy moet rondbeweeg, maak van ‘n flits gebruik om te kan sien waar jy trap.” Volgens hom moet alle slangbyte as ernstig beskou word en ‘n persoon moet so spoedig moontlik by ‘n dokter uitkom.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...