ADVERTISEMENT:

 

 
 

Danksy goeie reënneerslae oor die streek die afgelope paar weke loop meeste riviere in die streek en is die fonteine vol. Hierdie foto is geneem op die plaas van mnr. Mike Collins van Levubu. Foto verskaf.

Alles is lekker nat, maar wag – nog reën kom

Date: 18 February 2021 By: Andries van Zyl

Die boere blyk heel tevrede te wees met die goeie reën wat die afgelope paar weke oor die streek uitgesak het.

Mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het die afgelope week gesê dat reënvalsyfers in die Levubu-omgewing sedert die begin van die jaar wissel tussen 900 mm en 1 000 mm. “Hier by my staan ons op 947 mm, en nader aan die berg is plekke wat al meer as 1000 mm gemeet het. Dit kan meer wees, want van die meters het al oorgeloop met die baie reën,” het Havinga Maandag gesê.

Volgens Havinga plat die reënvalsyfers bietjie af in die rigting van Louis Trichardt. “Hulle praat van so 400 tot 500 mm. Vivo/Alldays se kant toe wissel hy ook baie, met die buie wat so plek-plek val. Die syfers is nie almal dieselfde nie, maar hulle het ook so tussen 400 en 500 mm gekry, wat baie nat is.”

Wat goed is, het Havinga gesê, is dat die ondergrondse water nou gevoed word, want al die riviere, stroompies en fonteine loop en is weer vol. “Die ouens in Vivo se omgewing sê as hierdie baie reën nie die ondergrondse water vir hulle gevoed het en die soute uitgeloog het nie,  dan moes hulle sommer nou ophou plant, want dan sou hulle nooit weer kon plant nie,” het Havinga gesê.

Ook die aartappelboere in Vivo se omgewing is baie optimisties. “Die weer rem hulle net so bietjie, want oor twee weke moet hulle begin plant. Bietjie sonskyn sal dus vir hulle lekker wees, selfs vir Levubu, want dit het ‘n invloed op die kwaliteit van ons vrugte in hierdie stadium. Die ouens wat met hulle vroeë avokado’s nou wou begin, kan nie pluk as dit reën nie. Maar dan is daar weer ‘n plus kant daaraan, dat die vrug groter word. So, hulle het ‘n groter vrug wat hulle kan bemark,” het Havinga gesê.

Wat die neutboere betref het Havinga gesê dat hulle ook bietjie sonskyn sal geniet. “Nie dat ons wil hê dit moet ophou reën nie. Ons bome moet begin olie produseer en die neute moet begin ryp word.  Dit is vir ons baie belangrik,” het Havinga gesê.

Oor die algemeen, het Havinga bygevoeg, is hulle tevrede. “Daar is nie ernstige spoelskade nie. Die bietjie wat daar is, kan ‘n mens hanteer. Die damme is vol, die vleie is vol! Ons is baie, baie dankbaar daarvoor en ons kan die Here net dank daarvoor,” het Havinga gesê. Hy het bygevoeg dat dit lyk of die goeie reën nog lank nie verby is nie. “Ons is nou eers in middel Februarie. So, Maart en April lê nog voor. Ons kan dus nog ‘n baie, baie goeie seisoen hê wat vir ons voorlê,” het Havinga gesê.

Dat die Soutpansberg reeds ‘n goeie reënseisoen agter die blad het, is nie altemit nie. Meeste damme in die streek loop reeds oor (sien damvlakke op p.6 van hierdie uitgawe) met die Albasinidam wat Maandag die 90%-kerf verbygesteek het. Die verwagting is dat die dam binnekort ook sal oorloop as die goeie reën voortduur. Die enigste dam in die streek wat ten spyte van die goeie reën geen merkbare styging getoon het nie, is die Middel Letabadam. Dié dam, vir een of ander rede, het sedert die begin van die jaar van 0,7% na slegs 7% hierdie week Maandag gestyg.

Wat gemiddelde reënvalsyfers vir die streek betref, het verskeie plekke reeds in Januarie ver bo hulle gemiddelde reënval vir die maand gehad. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo het Haenertsburg teen einde Januarie reeds 288% meer as hulle gemiddelde reënval (normaal 134 mm) vir die maand gehad. Levubu het meer as 166% (normaal 150 mm) van hulle gemiddeld gehad en Pontdrif meer as 114% (normaal 70 mm). Waterpoort het in Januarie reeds 201% meer reën gehad as hul jaarlikse gemiddeld vir Januarie (normaal 138 mm). Ongelukkig word Louis Trichardt en Musina se reënvalsyfers nie op die Weerburo se verslag aangedui nie.

 

 
 
 

Viewed: 934

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT