ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Gerda Schlieben (74).

Geliefde tannie Gerda oorlede

Date: 26 February 2021 By: Andries van Zyl

Sekerlik een van die Soutpansberg se mees beminde inwoners, tannie Gerda Schlieben, is op 17 Februarie in die ouderdom van 74 jaar aan longontsteking oorlede.

“Sy was liefdevol met almal gewees. Sy het net gegee,” het haar man, oom Rolf Schlieben, gesê. Hy en tannie Gerda het einde verlede jaar hulle 20ste huweliksherdenking gevier. Vroeër dieselfde jaar het die egpaar die nuus gehaal toe hulle 80 dae lank in isolasie moes deurbring in Italië, nadat oom Rolf tydens ‘n bootreis Covid-19 opgedoen het. Van die 80 dae het oom Rolf 11 dae in ‘n hoësorg-eenheid in ‘n hospitaal in Rome deurgebring, en daarna 29 dae in ‘n hersteleenheid. Oom Rolf was byna dood, maar het die virus geklop. Tannie Gerda was feitlik die hele tyd alleen gewees, maar het wonderbaarlik glad nie siek geword nie.

Oom Rolf sê hy het agtergekom dat iets fout was met tannie Gerda se gesondheid tydens die einste bootreis, voor hy siek geword het. “Ek en sy was vreeslik lief om te dans. Ons het goed en lekker saam gedans. Toe ons verlede jaar op die boot gekom het, het sy sommer net ná die eerste dans gesê sy is nou moeg. Dit was nooit voorheen so nie,” het oom Rolf gesê.

Ná hul terugkeer Suid-Afrika toe is tannie Gerda op 20 Oktober verlede jaar met emfiseem gediagnoseer. “Sy het nooit ‘n sigaret in haar lewe gerook nie,” het oom Rolf gesê.

Op 16 Desember het tannie Gerda drie bloedklonte deur die longe gekry. Die volgende dag is sy in die Kloof Hospitaal in Pretoria opgeneem en dadelik op suurstof gesit. “Ek het regtig gedink sy begin beter word,” het oom Rolf gesê. Tannie Gerda is op 8 Januarie ontslaan en die egpaar is terug huis toe, na die plaas Rustfontein buite Louis Trichardt. “Sy het egter net aanhou kwyn,” het oom Rolf gesê.

Drie dae voor haar dood het die dokter tannie Gerda op die plaas kom besoek. Hy het gesê sy moet dadelik opgeneem word. “Die volgende dag was sy soveel beter gewees en ons het ‘n uur lank gesit en gesels oor die ou dae,” het oom Rolf gesê. Haar dood ‘n dag later het vir hom as ‘n groot skok gekom.

Oom Rolf het die laaste 20 jaar saam met tannie Gerda as ‘n absolute avontuur beskryf. “Ons het so goed bymekaar gepas. As ek Duits sing, dan sing sy saam. Ons het die wêreld saam getoer. Sy het my met alles gehelp en was baie lief vir tuinmaak,” het oom Rolf gesê.

Wyle tannie Gerda se roudiens is Saterdag op die egpaar se plaas gehou. Die diens is waargeneem deur prof. Koos van Rooy. “Dank aan my bure, Sandy en Chris James en Annerooy en haar man, Braam Helberg. So ook ons huishulp. Hulle het my so baie gehelp. Die laaste tyd was sy bedlêend en in baie pyn,” het oom Rolf gesê. Buiten vir die mense wat hom so naby bygestaan het tydens tannie Gerda se siekte, het hy almal bedank wat hom in hierdie moeilike tyd bygestaan het.

Tannie Gerda word oorleef deur haar twee dogters, Helga en Mia, en haar skoonfamilie, asook oom Rolf se drie kinders, Rudi, Hedi en Theo, en hul skoonfamilie.

 

 
 
 

Viewed: 1303

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT