ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Mikroloopgrawer word gebruik om ‘n sloot in die teer/plaveisel te sny vir die aanlê van veselkabels.

Reën kortwiek lê van veselkabels

Date: 26 February 2021 By: Denise van Bergen

Werksaamhede rondom die lê van veselkabels in Louis Trichardt blyk aansienlik meer georganiseerd te verloop ná afloop van die vergadering tussen die munisipaliteit en die betrokke maatskappye wat gehou is om sekere voorwaardes vas te pen.

Kontrakteurs moet onder meer daagliks aan die munisipaliteit rapporteer oor wie op watter dae in watter areas werk, sodat beter kontrole gehou kan word. Spesifieke munisipale amptenare (wat op ‘n skofte-basis werk) is ook aangestel, aan wie die kontrakteurs onmiddellik moet rapporteer indien probleme ontstaan (soos byvoorbeeld wanneer ‘n kabel of pyp raakgekap of -geboor word). Ten spyte van die huidige nat weersomstandighede en uitdagings om nie skade aan infrastruktuur te berokken nie, lyk dit tóg of die projek uiteindelik einde se kant toe begin beweeg.

Inwoners wat bekommerd was oor teerpaaie of plaveisel in residensiële gebiede wat vir die aanlê van kabels oopgesny en slegs met ‘n sand- en sementmengsel opgevul is, kan gerus wees dat dit weer behoorlik herstel gaan word. Mnr. Kobus Pretorius van Letaba Wireless het die Zoutpansberger verseker dat dit nie net so gelaat sal word nie. “Ons het ‘n tekort aan teer gehad, maar ons verskaffer is reeds op pad daarmee.” Hy het verduidelik hoe die mikroloopgraafproses werk, waar die teer/plaveisel oopgesny word om kabels aan te lê.

‘n Mikrograwer word gebruik om die teerpad 38mm wyd en 300mm diep te sny, waarna ‘n geleipyp (duct) dan in die slootjie gelê word. Grond word met sement gemeng, bo-op die pyp gegooi en eers met die hand vasgestamp, totdat dit ‘n hopie vorm, wat dan met ‘n “drom”-kompakteerder vasgestamp (gekompakteer) word.

Dié slootjie word dan weer 40mm diep oopgekrap. ‘n SS60-formule word binne-in die slootjie gespuit om dit vir waterpenetrasie te seël, waarna teer ingegooi en met die kompakteerder vasgerol word. Sodra dit gedoen is, word SS60 weereens bo-oor gespuit om die teer te seël vir waterpenetrasie.

Nadat alles toegemaak is en die projek in die spesifieke area voltooi is, word die veselkabels in die pyp geblaas en kan die oorhoofse installering daarvan begin, en uiteindelik die installasie vir kliënte.

“Die reën speel egter ook ‘n groot rol hierin,” het hy gesê. “Ons kan ongelukkig nie teer wanneer dit reën of as die grond nog nat is nie. Om dit te doen, sou bloot beteken dat ons geld in die water gooi,” het Pretorius gesê.

Die reënseisoen is weliswaar ‘n faktor wat in ag geneem moet word ten opsigte van die arbeid rondom hierdie projek, en terwyl dit vir inwoners na ‘n seeroog en modderige gemors mag lyk wanneer slote soms deur reën verspoel en versperringsnette deur die wind verwaai word, vra die kontrakteurs dat die gemeenskap ‘n bietjie geduldig met hulle moet wees. Weersomstandighede is immers nie iets waaroor enigiemand beheer het nie.

Mnr. Grant Small van Vumatel het gesê dat hulle reeds 10 dae se werk (slegs weens reën) verloor het, en dat dit hulle ook maar gefrustreerd laat. Volgens hom sou dit heeltemal onprakties wees om slote wat reeds gegrou is toe te gooi wanneer dit begin reën en later weer oop te grou. Wanneer dit begin reën kan hulle weinig omtrent die toestand van oop slote doen. Om die grond toe te stamp terwyl dit nog nat is, is ook nie moontlik nie, wat beteken dat hulle moet wag totdat dit droëer is om behoorlike werk hiervan te kan maak.

Verlede naweek was daar ‘n insident waar ‘n waterpyp voor die Indaba-woonstelkompleks in Proteastraat deur Britelink, ‘n sub-kontrakteur van Vumatel, raakgekap is, maar omdat die munisipale water in daardie stadium toegedraai was, het niemand die probleem agtergekom totdat die water teen Sondag eers weer oopgedraai is nie. Small sê dat hy nie bewus was daarvan nie, aangesien hy nie voltyds op die perseel is waar gewerk word nie, maar dat hy verantwoordelikheid daarvoor neem, en het om verskoning gevra vir die ongerief wat dit veroorsaak het. “Dit gebeur ongelukkig nog af en toe dat pype of kabels per ongeluk beskadig word, omdat ons nie vooraf weet presies hoe diep dit lê nie, maar ons probeer altyd om so versigtig as moontlik te wees,” het hy gesê. Die waterpyp is wél laat Sondagmiddag herstel.

Volgens Small is Vumatel die enigste maatskappy wat ‘n jaar kontrak met die munisipaliteit gesluit het om terug te kom en te kom regmaak, sou probleme later ontstaan rondom die werk wat tans gedoen word.

Mnr. Mario Gous van Herotel sê dat hulle ‘n agterstand van bykans 20 dae het as gevolg van die reën, maar dat hul hoof-ondergrondse boorwerk darem nou heeltemal klaar is.

 

 
 
 

Viewed: 834

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT