ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 31-jarige Donovin van Zyl wat die naweek klaarblyklik sy eie lewe geneem het in die polisieselle op Louis Trichardt. Foto verskaf. 

Vrae oor man se selfmoord in polisieselle

Date: 27 February 2021 By: Andries van Zyl

‘n Ma van Louis Trichardt soek antwoorde nadat haar seun volgens alle aanduidings sy eie lewe in die plaaslike polisiestasie se selle geneem het.

Die 31-jarige Donovin van Zyl is Donderdag, 18 Februarie, deur die polisie gearresteer op ‘n klag van minagting van die hof, nadat hy versuim het om by die hof op te daag vir ‘n uitstaande saak van diefstal teen hom. Die polisie het Sondagoggend op sy liggaam afgekom nadat hy homself vermoedelik opgehang het deur sy kombers te skeur en ‘n tou daarvan te maak. Die vermoede bestaan dat hy sy eie lewe geneem het tussen 21:00 die vorige aand en 07:00 Sondag. “Ek wag nou nog op antwoorde van die polisie. Hoekom het niemand op hom gaan inkyk tussen nege uur die aand en sewe uur die oggend nie?” het ma Nicolette van Zyl gesê. Donovin was blykbaar alleen in die sel.

Te midde van die hartseer en soeke na antwoorde, is Nicolette veral hartseer oor die omstandighede wat tot haar seun se dood gelei het. Sy het geen geheim daarvan gemaak dat haar seun maar altyd aan die verkeerde kant van die lewe en die gereg was nie, maar sê dat hy hard probeer het om sy lewe te verander. “Hy het die laaste jaar en ‘n half regtig hard probeer dat die gemeenskap hom ‘n tweede kans moet gee om terug te kom op sy voete. Hy wou graag almal terugbetaal wie hy seergemaak of teleurgestel het deur sy verkeerde besluite. Die samelewing was egter net nie bereid om hom ‘n tweede kans te gee nie,” het Nicolette gesê. Sy het bygevoeg dat hy ten tye van sy dood geen nuwe sake teen hom gehad het nie.

Nicolette het gesê dat Donovin weens die samelewing se verwerping erge depressie ontwikkel het, ‘n depressie waaruit hulle hom as familie nie kon kry nie. “Die oomblik as hy werk gekry het, is hy ‘n week of twee later weer gevra om te gaan. Dit was nadat mense stories oor hom vir sy werkgewers vertel het,” het Nicolette gesê. Nicolette is baie kwaad vir hierdie mense. “Julle wat so God gespeel het oor my seun se lewe, julle het my ‘n hartseer veroorsaak wat nooit sal eindig  nie,” het Nicolette gesê.

Volgens Nicolette het diegene wat regtig haar seun geken het, geweet dat hy ‘n hart van goud gehad het. “Hy sou uit sy pad gaan om ander te help,” het Nicolette gesê. Ongelukkig, het sy bygevoeg, het ‘n verkeerde keuse in vriende en verhoudings dit vir hom onmoontlik gemaak om op te staan en weer op sy voete te kom. “Verkeerde keuses soos hierdie sal jou nooit los nie, totdat jy eindig waar Donovin geëindig het,” het Nicolette gesê.

Nicolette het gesê dat niemand ooit regtig sal weet waarom haar seun selfmoord gepleeg het nie. “As ‘n ma wil ek graag vra dat mense nie moet skinder oor iets wat ‘n familie se lewe uitmekaar geruk het nie,” het Nicolette gesê.

As bietjie troos, het Nicolette gesê dat Donovin tot haar verbasing die laaste paar weke voor sy dood vrede met sy God gemaak het. “My liefling seun, jy sal vir altyd gemis word. My hart is in duisend stukke. Ons sal nooit regtig weet waarom jy dit gedoen het nie, maar ons weet dat niemand jou nooit weer kan seermaak nie. Jy is nou veilig by God en jou twee ooms,” het Nicolette gesê.

Teen druktyd was geen finale begrafnisreëlings gefinaliseer nie. Nicolette het gesê hulle sal sy familie en naaste vriende van die reëlings in kennis stel. Intussen het die polisie bevestig dat sy dood na die polisie se Onafhanklike Polisie-ondersoek Direktoraat (OPOD) verwys is vir verdere ondersoek.

 
 
 

Viewed: 2047

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT