ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Michel Pierre Jaume (54). Foto verskaf.

Michel was voorwaar 'n seun van die Soutpansberg

Date: 09 April 2021 By: Pétria de Vaal

“Ons maak met hartseer bekend dat ons seun, broer, vriend en kollega, Michel Pierre Jaume, op Sondagoggend, 4 April 2021, oorlede is.” Só sê hartseer familie, vriende en kollegas van Michel.

“Michel was iemand wat baie lojaal was aan diegene naby hom. Jy kon hom maar enige tyd van die dag of nag bel om hulp te vra en hy sou sonder aarseling kom help. Dit is nou as hy eers eenmaal wakker was. Hy kon lekker vas slaap! Op skool moes sy pa hom menigmaal van die balkon af wakker roep waar Michel en sy broers in ‘n karavaan onder ‘n groot wildevy gewoon het. Hy was voorwaar ‘n boskind en seun van die Berg,” sê ‘n familievriend.

Tóé al is na hom verwys as deel van die “Bergpolisie”. Michel het ‘n groot liefde vir die Soutpansberg en sy mense gehad. Hy het dit ook later uitgeleef het as lid van die plaaswag, die Louis Trichardt Ondersteuningsgroep, asook verteenwoordiger van die Bluegumspoort en N1 Zoutpansberg Fire Association.

Michel is op 14 Mei 1966 gebore. Hy het begin skoolgaan by Laerskool Bergvlam in Sibasa en het later sy laerskoolloopbaan by Laerskool Soutpansberg voltooi. Daarna was hy in Hoërskool Louis Trichardt en het sy matriek voltooi by die Hoër Tegniese Skool Tom Naude in Pietersburg.

Ná skool het Michel sy weermagopleiding gedoen en was gestasioneer by SMG (Soutpansberg Militêre gebied) se kwartiere buite Musina. Hy was ook as sersant aktief betrokke by die eertydse Soutpansberg Kommando.

Ná sy weermagtydperk het hy studeer by die Laeveld Landboukollege te Nelspruit, waar hy ‘n Hoër Landboudiploma verwerf het. Hierna was hy betrokke by ‘n landbouprojek vir die Presidensie in Gaboen aan die Weskus van Afrika. Ten tye van sy afsterwe was Michel werksaam by die Kutama Sinthumule Correctional Centre (SACM) buite Louis Trichardt.

Michel was ‘n man van min woorde. Hy het verkies om te luister, eerder as om te praat. Sy vriende het hom soms goedig geterg en gesê hy praat soos ‘n Amerikaanse Indiaan in die ou Wilde Weste films.

Michel het sy Christenskap uitgeleef as lid van die Emmanuel Christian Church. Sy hart was net so groot soos die gasvryheid wat menige persoon in sy ouers, Pierre en Hélène, se huis ervaar het. Hy het altyd plek vir ‘n verdwaalde siel of ‘n afvlerk-voëltjie gehad.

“Michel, ons is dankbaar en waardeer dit dat die Here ons in jou lewe laat deel het! Ons gaan jou mis!” sê al sy familie, vriende en kollegas.

Teen druktyd was finale begrafnisreëlings nog nie bekend nie.

 

 
 
 

Viewed: 2137

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT