ADVERTISEMENT:

 

 
 

Krokodille word orals aangetref, op huise se stoepe, in swembaddens, op die grond paaie en selfs in veekrippe. Foto's verskaf.

'n Krokodilplaag?

Date: 24 April 2021 By: Andries van Zyl

Die voorkoms van tientalle krokodille op paaie, landerye en selfs in veekrippe op plase noord van die Soutpansberg laat tans baie vrae oor die herkoms van die gediertes.

Volgens tannie Marthie Heinlein van die Abend-Ruhe-Gotha gasteplaas in die Brombeek-omgewing naby Alldays, het hulle die afgelope paar weke al drie krokodilletjies in hul skaapkrip gekry. Om nie te praat van die een wat op die stoep by haar huis kom kuier het nie.

“Ons het die krokodille so middel Maart begin opmerk,” het tannie Marthie se kleindogter, Marli Nel, gesê. Sedertdien het hulle al ‘n horde van die reptiele gewaar en van hulle gevang. “Een van ons plaasvoormanne wat weet hoe om hulle te vang, vang hulle en hou hulle in ‘n spesiale kampie totdat iemand hulle kan kom haal om te hervestig,” het Marli gesê.

Volgens Marli wissel die krokodille se grootte van sowat ‘n meter na langer. “Die grootste een wat ons nog gevang het, was in die omgewing van 1,6 meter. Dit was een wat ons hier uit die swembad op die gasteplaas gehaal het,” het Marli gesê. Meer onlangs het hulle ‘n krokodil op haar ouma se stoep by haar huis gevind. “Die honde het verskriklik begin blaf en toe hulle gaan kyk, toe lê ‘n krokodil op die mat voor die deur. Dit was omtrent so ‘n week-en-‘n-half gelede,” het Marli gesê.

Marli het gesê hulle het geen idee waar die krokodille vandaan kom nie. “Ek weet nie. Iemand het seker weer krokodille aangehou wat hulle nie moes nie en toe ontsnap hulle,” het Marli gesê. Die probleem blyk veel verder te strek as net by hulle. “Dit is omtrent ‘n plaag! Ek het gister [Dinsdag) by een van ons buurmanne gehoor dit is blykbaar tot op Dendron waar daar probleme is met krokodille,” het Marli gesê.

Volgens mnr. Koos van der Merwe van die plaas Stubbs en Mons in die Mopane-omgewing het hy so teen einde Februarie begin opmerk dat iets aan die gang is. “Wat ons van weet wat hier by ons verbygekom het, is seker so in die omgewing van 50. Hulle wissel so van ‘n half meter tot so drie-en-‘n-half meter,” het Van der Merwe gesê.

Volgens hom strek die “krokodilplaag” ook weier as net Mopane. “My broer sê vir my Linton, al daardie dele - daar is nie ‘n gat met water in wat nie krokodille het nie. My buurman wat lusern plant het al krokodille in die lusernlande gekry. Van die ander manne het al in hulle krippe gekry. So, hulle is orals. ‘n Maat van my het sy kinders in die Sandrivier in die poele laat swem. Mens kan dit nie meer doen nie, want dit is vrot van die krokodille,” het Van der Merwe gesê.

Hy spekuleer ook dat die reptiele moontlik afkomstig is van ‘n krokodilplaas. “Ek het gehoor dat daar ‘n krokodilplaas iewers oorspoel met die reën en die klomp goedjies het daar uitgekom. Ek weet nie hoeveel honderd van hulle dit presies was nie, maar baie van hulle het ontsnap toe die krokodilplaas onder water was. Sover ek weet, kom hulle van daar af. Daar is geen ander manier dat daar so baie van hulle op een slag so orals kan wees nie,” het Van der Merwe gesê. Hy meen die voorkoms van die krokodille kan toeneem. “Dit raak nou eintlik eers erger, want die poele in die Sandrivier en ander gate en slote begin nou opdroog. Nou begin hulle rondbeweeg en meer permanente water soek,” het Van der Merwe gesê.

Baie mense spekuleer dat die krokodille dalk afkomstig is uit die Limpoporivier, wat vir so ‘n paar weke sy walle oorspoel het te midde van goeie reën. Volgens krokodilboer me. Sandra Boshoff van die plaas Ratho in die Alldays-omgewing blyk dit onwaarskynlik te wees. (Dit is ook nie haar krokodille wat uitgekom het nie). “Ek het ook die stories hoor loop. Dit is nie omdat die Limpoporivier oorvloei het nie. Ek is seker daarvan. Dit is blykbaar iemand in die binneveld, daar naby tannie Marthie-hulle, wat met krokodille boer. Ek dink hulle krokodille het dalk uitgekom,” het Boshoff gesê.

Volgens Boshoff onderskat mense krokodille se vermoëns. “Hulle kan oor baie hoë heinings, maklik die lengte van hulle lywe, klim. Hulle doen dit seker maar as gevolg van stres of dalk oorbevolking,” het Boshoff gesê.  

As krokodilboer het Boshoff gesê sy weet genoeg van krokodille om te weet dat ‘n krokodil wat wegloop na enige waterbron sal gaan, selfs ‘n beeskrip. Dit sluit plaasdamme in, en derhalwe het Boshoff mense vermaan om nie nou in plaasdamme en waterpoele te swem nie. “Kindertjies moenie in die water mors nie, want die ou mense wil dit drink. Daar kom die gesegde vandaan – pasop vir die krokodille!” het Sandra gesê.

So, wat staan inwoners te doen as hulle so ‘n gedierte op hul plaas gewaar?

‘n Woordvoerder van die plaaslike Departement van Omgewingsake het gewaarsku dat alhoewel krokodille nie ‘n beskermde spesie is nie, hulle wel volgens wetgewing beskerm word. Daarom het ‘n persoon ‘n permit nodig om daarmee te teel, handel te dryf en te skiet. Die woordvoerder het gesê dat, uit ‘n bewaringsoogpunt, die diere ‘n reg het om te lewe. Hy het ook gewaarsku dat mense nie paniekbevange moet raak oor die voorkoms van die krokodille nie. “Wat vir een mens baie is, is vir ‘n ander twee of drie,” het die woordvoerder gesê. Hy meen die probleem sal hom in ‘n groot mate self oplos. “Krokodille hang nie rond nie. Hulle beweeg rond.” Hy het bygevoeg dat krokodille hoofsaaklik vis en ander kleiner diertjies eet en dat slegs groot krokodille wild en vee sal begin vang. Soos wat hulle water- en voedselbronne minder word, sal die krokodille uit die gebied beweeg.

 

 
 
 

Viewed: 1149

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT