ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle mnr. André Fourie (77). Foto verskaf.

Oud-inwoner André Fourie (77) oorlede

Date: 06 May 2021 By: Pétria de Vaal

Mnr. André Fourie, ‘n welbekende sielkundige en jarelange lid van die Louis Trichardt-gemeenskap, is op Donderdag, 29 April, in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

Diégene wat vir André geken het, sal hom onthou as ‘n besonder interessante persoon wat ‘n vol lewe gelei het. Wanneer sy kleinkinders in Louis Trichardt kom kuier het, het hy hulle gaan touwys maak op die jagveld. Sy liefde vir die natuur was opvallend – nie net uit sy versamelings (bv. skulpe en slangvelle) nie, maar ook deurdat hy altyd besig was om iets te plant, te kweek of te oes. Hierdie liefde het hy in Kleinbrak voortgesit, waarheen hy en sy vrou, Stienie (voorheen adjunkhoof by Laerskool Louis Trichardt en daarna hoof van Laerskool Soutpansberg), in 2016 verhuis het. Sy hoenders, ganse en varkhonde was ‘n onmisbare deel van die Fourie-huishouding in Louis Trichardt.

André  is gebore op 21 Desember 1943 te Pretoria.  Hy het sy skoolloopbaan in 1961 aan Hoërskool Hendrik Verwoerd voltooi, waarna hy onderwys studeer het aan die Universiteit van Pretoria.  Sy akademiese loopbaan het begin toe hy gekwalifiseer het as Opvoedkundige Sielkundige aan beide die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch. 

Hy het sy beroepsloopbaan in 1968 begin as vakkundige/sielkundige beampte by die destydse Departement van Arbeid. Ná ‘n paar jaar is hy in dieselfde amp by Outeniqua Hoërskool in George aangestel.  Etlike jare later is hy na die Kinderkliniek in Bellville, vanwaar hy die leisels as hoof van die Nuweland Kinderleidingkliniek oorgeneem het, waar dit onder sy leierskap ontwikkel en gegroei het tot ‘n toonaangewende model van interdissiplinêre kinderontwikkeling. 

Sy konsep van vroeë identifikasie van leerprobleme en behandeling van vaardigheidsleemtes voor die ouderdom van sewe jaar het tot gevolg gehad dat die Direkteur van Onderwys in die Kaap hom in die tagtigerjare aangestel het om verrykingsprogramme vir pre- en junior-primêre onderwysers op te stel en aan te bied by alle sentra in die Kaap.

André se kennis het ook onder meer die gewilde publikasie: “Kinderopvoeding vanuit ‘n Christelike Perspektief – ‘n Gids vir Ouers” die lig laat sien.

Die akademie het gelok en het André In 1986 ‘n pos as senior lektor in die Sielkunde Departement aan die Universiteit van Venda aanvaar - ‘n pos wat hy vir 22 jaar, tot en met sy aftrede in 2009, beklee het.

Gedurende sy tyd in Louis Trichardt – ‘n periode van bykans 30 jaar – het André ‘n merkwaardige bydrae op verskillende vlakke tot die gemeenskap gelewer.  As sielkundige het hy die gemeenskap gedien deur die aanbieding van verskeie kursusse en was welbekend as Christen-berader. In 1995 het hy en Stienie die Shekinah Huweliksverrykingskursus geïnisieer, wat vir ‘n periode van bykans 10 jaar menige huwelike verryk het. Hy en Stienie het ook ná sy aftrede in 2009 die “Educentre” – ‘n opvoedkundige verrykingsentrum, begin.

Menige besoeker aan André en Stienie se huis se asem is weggeslaan ten aanskoue van André se “museumversamelings”, boekery en baie meer. André het dit belangrik geag dat die verhale rondom sy versamelings en items behoue bly en het voor hulle verhuising na Kleinbrak in die Mosselbaai-omgewing ‘n behoorlike aanwinsregister daarvan laat opstel. André het ‘n voorliefde gehad vir geskiedenis, argeologie en ook klassieke musiek. Hulle huis was dikwels met die klank daarvan gevul.

André laat sy eggenote, Stienie, en kinders (Adrian Fourie, Marié Pienaar, WP Wahl en Christelle Rademeyer) met hulle eggenote en kinders agter, asook kleindogter Marinda Wahl. Die familie wil graag almal bedank vir hulle ondersteuning, liefde en bystand gedurende hierdie tyd. ‘n Roudiens is vir André op Woensdag, 5 Mei, vanuit die NG-gemeente Reebok, Kleinbrak, gehou en hy is te Pinnacle Point begraafplaas, Mosselbaai, te ruste gelê.

 

 
 
 

Viewed: 1473

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT