ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Laaste van groep jongmense kry borg

Date: 07 May 2021 By: Andries van Zyl

Borg is uiteindelik op 29 April toegestaan aan die oorblywende groep jongmense van Louis Trichardt wat op 7 April op ‘n reeks klagte aangekeer is ná klopjagte by twee wonings in Louis Trichardt. Hulle was sedert hulle arrestasie in aanhouding gewees.

Verskeie vermoedelik gesteelde goedere is tydens die klopjagte deur die polisie gevind, wat gelei het tot die arrestasie van die ses aanvanklike verdagtes. Hulle is die 27-jarige Richard Petrus Jacobus (Koos) Duvenhage, 25-jarige Neil Duvenhage, 30-jarige Zandroux Hibbert, 29-jarige Christine Labuschagne, 20-jarige Marvelique van der Merwe, asook die 26-jarige Wonder Jere.

Die ses verdagtes het almal Vrydag, 9 April, in die hof op Louis Trichardt verskyn. Die twee Duvenhages, Hibbert, Labuschagne en Jere het almal verskyn op klagte van inbraak by beide wonings en besighede, een klag van onwettige jag wat verband hou met die skiet van ‘n bees en twee klagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Al vyf van hulle is borg geweier weens ander uitstaande klagte teen van hulle. Hul borgaansoek is uitgestel tot Vrydag, 16 April.

Van der Merwe is op haar beurt aangekla van die besit van ‘n onwettige vuurwapen. Sy is die enigste beskuldigde wat op 9 April borg van R1 500 toegestaan is en haar saak is uitgestel tot 3 Mei. Tydens haar hofverskyning Maandag is haar saak weer uitgestel, die keer tot 14 Junie vir verdere ondersoek. Haar saak is van die ander geskei, omdat sy nie tans met enige van die ander oortredings verbind kan word nie.

Die twee Duvenhages, Hibbert, Labuschagne en Jere se borgaansoek is op 16 April uitgestel na Maandag, 19 April. Hulle borgaansoek is egter weereens uitgestel na Woensdag, 21 April. Weer kon hulle nie hul borgaansoek bring nie, weens ‘n kragonderbreking wat die landdroskantore in donkerte gehul het. Die vyf se saak is daarna verskuif na Donderdag, 22 April, om te hoor of hulle borg toegestaan gaan word. Alhoewel die dag begin het met die vyf se borgaansoeke, is slegs Jere se aansoek voltooi. Hy is R1 000 borg toegestaan, wat hy betaal het.

Die twee Duvenhages, Hibbert en Labuschagne se borgaansoeke is na 29 April uitgestel om aangehoor te word. Hulle is almal verlede Donderdag borg toegestaan van R5 000 elk. Teen druktyd het dit geblyk na nie almal van hulle al hul borg kon betaal nie en party dus steeds in aanhouding was. Dit het ook aan die lig gekom dat nog ‘n verdagte rakende die saak aangekeer is en saam met die twee Duvenhages, Hibbert, Labuschagne en Jere op die klagte teen hulle gaan teregstaan. Hy is die 36-jarige Francois Vermeulen. Hy het saam met die ander verlede Donderdag verskyn en is ook R5 000 borg gegee.

Volgens die klagstaat sal die twee Duvenhages, Vermeulen, Hibbert, Labuschagne en Jere teregstaan op vyf klagte van huisbraak, een klag van veediefstal en twee klagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Die sake teen die aangeklaagdes is uitgestel tot 25 Mei, wanneer die streeksaanklaer sal besluit of die sake eerder in die streekhof as die landdroshof aangehoor moet word. Die moontlikheid bestaan ook dat van die sake saamgevoeg kan word met nog ander bestaande sake.

 

 
 
 

Viewed: 955

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT