ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Quintin Moodie (27). Foto verskaf.

Quintin was 'n juweel van 'n mens

Date: 07 May 2021 By: Andries van Zyl

Die nuus van die dood van een van Louis Trichardt se bekende en geliefde jong inwoners, die 27-jarige Quintin Moodie, het die afgelope week die Soutpansberg-gemeenskap absoluut verslae gelos. Vir sy ouers was dit eweneens ‘n groot skok.

“Mens vra hoekom, maar mens sal nie weet nie. Miskien moet ‘n mens maar nie te veel daaroor wonder nie ... Dit is vir ons moeilik dat hy moes gaan,” het pa Jimmy en ma Suzette gesê. Amper presies 19 jaar gelede het die Soutpansberg ook saam met Jimmy en Suzette getreur met die dood van hul oudste seun Leon in ‘n motorongeluk.

Quintin het beide sy laer- en hoërskoolloopbaan op Louis Trichardt voltooi en was in 2011/12 hoofseun by Hoërskool Louis Trichardt. Hy het op beide akademiese vlak en sportgebied uitgeblink en was ‘n briljante atleet en rugbyspeler. Ná skool sou hy sy liefde vir rugby uitleef en het vir Tukkies op die rugbyveld uitgedraf waar hy bedryfsingenieurswese gaan studeer het. Hy het in sy vierde jaar vir eers sy studies opgeskort om ‘n eie besigheid, Quberg Forex Institute, saam met sy besigheidsvennoot, Ruan Landsberg, te begin. Die besigheid dryf handel in buitelandse valuta. Quintin was ook ‘n direkteur by FDG Capital.

Quintin het verlede Woensdag, 28 April, ongeveer 12:30 vir Ruan gesê hy gaan bietjie draf om los te maak vir die rugby daardie aand en volgende dag waar hy proewe op Letaba sou gaan speel het. Dit was met die oog op die ligawedstryde (Conway Dag) op 15 Mei waar hy vir Louis Trichardt sou uitdraf.

Alhoewel die twee vennote eintlik hoofsaaklik in Pretoria bly, neem hulle werk hulle baie rond. Ten tye van Quintin se dood het hy en Ruan op Ruan se ouers se kleinhoewe net buite Polokwane gebly. Ruan het begin onraad merk toe Quintin langer wegbly as gewoonlik, omdat hy presies geweet het watter roete Quintin normaalweg draf en hoe lank dit neem. “Hy het opgestaan en gery om te gaan kyk waar Quintin is. Toe hy by die huis uitdraai, het hy Quintin in die pad sien lê,” het Jimmy gesê.

Ruan het hom na Quintin gehaas, hom op sy rug gedraai en dadelik begin met mond-tot-mond asemhaling en hartmassering. Ruan se pa het ook kom kyk wat aangaan en dié kon dadelik die nooddienste skakel. “Hulle was binne sewe minute op die toneel,” het Jimmy gesê.

Volgens Jimmy het hulle net voor 13:00 die oproep gekry dat iets gebeur het met Quintin en dat hulle sukkel om hom by te kry. Minute later was hy en Suzette in die kar op pad Polokwane toe. “Toe ons deur die tolhek gaan, het Ruan se pa ons gebel en gesê ons moenie jaag nie. Ek het besef hy gaan vir my een van twee dinge sê … of dat hulle my seun bygekry het of dat hy dood is,” het Jimmy gesê. Laasgenoemde was egter die hartseer nuus wat Jimmy en Suzette nie wou hoor nie. Hulle seun is dood vanweë ‘n massiewe hartaanval.

“Maar ek het net aanhou jaag, met die hoop dat ek dalk iets vir my kind sou kon doen. Ek het vir hulle op die foon gevra: Moenie ophou nie! Hou net aan met die hartmassering!” het Jimmy gesê. Die egpaar kon egter niks vir hulle seun doen met hul aankoms op die toneel nie.

Jimmy en Suzette onthou hul seun as ‘n lewenslustige en liefdevolle mens. “Hy het nooit in sy lewe sy hand gelig vir enige iemand nie – nooit in sy hele lewe het hy iemand geslaan of baklei nie. Hy sou eerder dinge probeer uitpraat,” het Jimmy gesê.

“Quintin was ‘n liefdevolle kind. Hy het nooit ‘n verkeerde woord vir iemand gehad nie en kon met enige iemand praat, Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad,” voeg Suzette by.

Huldeblyke aan Quintin het kort ná die nuus van sy dood van oral ingestroom op sosiale media. Dit het as stille bewys gedien van hoe bemind hierdie jong man van Louis Trichardt was as leier, vriend en sakeman. “Alles wat hy gedoen het en alles wat hy aangepak het was net ‘n sukses,” het Suzette gesê. “Hy was ‘n baie opregte en gelowige mens gewees wat sy Christenskap openlik uitgeleef het. Hy het nooit kwaad gepraat van enige iemand nie en het dit gehaat dat mense oor iemand anders kwaad praat,” het Jimmy gesê.

Een van Quintin se vriende wat hulde aan hom gebring het was Larissa Venter wat hoofmeisie by Hoërskool Louis Trichardt was toe hy hoofseun was. Sy skryf op haar Facebook-profiel dat die wêreld waarlik ‘n juweel van ‘n mens verloor het. Haar inskrywing in Engels lees: “It’s hard to understand that such a strong, talented, brilliant individual passed away at the age of 27. Many knew him and celebrated him, and many of you do not know of him. I want to honour him by writing this tribute about a phenomenal young man, Quintin Moodie.

Quintin became my friend when we were in Grade 5, and we would later serve as head leaders in matric at Hoërskool Louis Trichardt. He was a winner. He was an incredible rugby player, athlete, with the discipline and perseverance that few have ever seen. He was a huge part of my childhood, a wonderful part - and he has been taken too soon.

Quintin was the reason I survived maths. He patiently allowed me to sit with him as he tried to explain what to do, knowing I would not be able to remember a thing, and so he would fill in most of the answers to save me from total failure.

Quintin was a leader and was the most remarkable head boy. So many looked up to him. And they still do. I certainly still do, and always will.

Quintin was loved by everyone. There wasn’t anything he couldn’t do. He was a top academic achiever, awarded the leadership trophy when we were in matric, a fantastic orator, and above all, a beautiful person with a heart of gold. Pure gold.

I have no doubt his legacy will live on for a long time. Heaven gained another angel … How lucky the heavens are, now that you’re there...”

Wyle Quintin word eerskomende Vrydag, 7 Mei, om 11:00 vanuit die Ou Apostoliese-gemeente in Kroghstraat begrawe. Hy word oorleef deur sy ouers en broer Duncan. Bywoning van die diens is onderhewig aan Covid-19 regulasies.

Die familie het hulle opregte dank uitgespreek teenoor die hele gemeenskap. “Ons wil graag almal bedank. Ons het soveel boodskappe en besoek ontvang en ons kan nie uitsonder nie,” het Jimmy en Suzette gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2027

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT