ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Inwoners gewaarsku teen 'munisipale kontrakteurs'

Date: 10 June 2021 By: Andries van Zyl

‘n Vrou van Louis Trichardt het inwoners gewaarsku om op die uitkyk te wees vir twee mans wat hulself voordoen as kontrakteurs wat namens die Makhado Munisipaliteit voorafbetaalde elektrisiteitsmeters installeer. Sy het sedert haar eerste kennismaking met die mans al R17 000 verloor.

Volgens die vrou (wat verkies het om anoniem te bly) het ene “David” haar einde verlede jaar geskakel en gesê hy sien iemand het met haar munisipale elektriese meterboks buite haar huis gepeuter. Hy het toe aangebied dat hy die probleem kan oplos deur ‘n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter by haar huis te installeer. “Die man was so oortuigend en vol van homself gewees. Ek het hom letterlik 100% vertrou,” het die vrou gesê.

Interessant genoeg het dié David die presiese bedrag gehad van die vrou se uitstaande rekening by die munisipaliteit. “Ek het agter geraak, want ek het ‘n paar maande sonder werk gesit,” het die vrou gesê.

David het vir die vrou gesê dat sy solank ‘n gedeelte van die agterstallige geld kon betaal sodat hy die meter kon installeer. Sy het toe R7 000 aan die man oorhandig. “Daarna het ek nie weer hom gesien of van hom gehoor nie. Sy foon lui, maar hy antwoord glad nie die oproep nie,” het die vrou gesê.

Uit die bloute ontvang die vrou toe ‘n paar weke gele ‘n oproep van ene “Mark” wat vir haar sê hy werk vir die munisipaliteit. “Hy het vir my gesê hy wil my help, want hy weet dat hierdie David ou my om die bos gelei het. Hy het gesê hy kan daardie dag nog ‘n voorafbetaalde meter by my huis kom insit. Hy het letterlik ‘n staat van my munisipale rekening voor hom gehad. Hy kon vir my my rekeningnommer en selfs my ID gee. Hy was selfs hier by my gewees en het vir my gesê hy kon sien daardie David was ‘n skurk gewees. So, ek het hom vertrou en geglo dat hy vir die munisipaliteit werk, want hoe sou hy andersins al my besonderhede gehad het?” het die vrou gesê.

Mark wou egter ook geld hê om die probleem op te los. “Hy wou R10 000 hê, wat ek vir hom in ‘n ‘munisipale’ rekeningnommer moes inbetaal. Hy het gesê die inbetaling sal dadelik van my agterstallige balans afgaan en het selfs onderneem om vir my dadelik ‘n staat te bring om te wys die geld het afgegaan teen my uitstaande rekening. Ek het toe die oorbetaling gedoen en daarna is die man ook skoonveld!” het die vrou gesê.

Die vrou het inwoners gemaan om nie ook vir die slenter te val nie. “Ek weet ook van ‘n ander vrou wat deurgeloop het,” het die vrou gesê. Buiten vir die R17 000 wat sy verloor het, is haar rekening ook steeds agterstallig.

Die Makhado Munisipaliteit het in antwoord op ‘n navraag gesê dat hulle nie kennis dra van hierdie twee mans wat inwoners uit duisende rande swendel deur hulself voor te doen as munisipale kontrakteurs wat teen betaling voorafbetaalde meters by huise installeer nie. “Die munisipaliteit het hulle eie kontrakteurs wat voorafbetaalde meter gratis by huise installeer,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi gesê. Hy het inwoners gewaarsku om nie vir die slenter te val nie en so spoedig moontlik die mans by die owerhede te gaan rapporteer. Bobodi het verbruikers wat twyfel oor die identiteit van mense wat hulself voordoen as munisipale kontrakteurs vir die installering van voorafbetaalde elektriese meters, versoek om mnr. Thomas Matodzi te skakel by tel. 083 677 6362 om besonderhede te bevestig.

 

 
 
 

Viewed: 1042

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT