ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Voorbeeld van die boodskappe wat op sosiale media versprei word waarin inwoners ‘n baie duidelike boodskap kan stuur aan moontlike plunderaars wat op die rug ry van die protesaksies teen Jacob Zuma se gevangenisstraf.

Gemeenskap waarsku dat hulle nie plundering sal duld

Date: 15 July 2021 By: Andries van Zyl

Met dele van die land wat die afgelope week in chaos gedompel is en geplunder word deur “Jacob Zuma ondersteuners wat protes aanteken teen sy tronkstraf”, het die Soutpansberg gemeenskap soos baie ander gemeenskappe in die land ‘n sterk boodskap uitgestuur dat hulle nie hierdie wettelose gedrag sal duld nie.

Sedert Zuma sy 15-maande gevangenisstraf begin uitdien het, het sporadiese voorvalle van geweld begin opvlam.  Dié situasie het intussen buite beheer geëskaleer, tot so ‘n mate dat die regering Maandag die weermag moes ontplooi in dié dele van die land wat die ergste deur die onluste geraak is, naamlik Gauteng en KwaZulu-Natal. Miljarde rande se skade is deur plunderaars aan winkelsentrums aangerig. Tientalle vragmotors is ook op die N3 uitgebrand. Dié nasionale hoofweg, wat KwaZulu-Natal met Gauteng verbind, is Dinsdag totaal vir verkeer gesluit weens die onluste. As hoofroete vir die vervoer van brandstof na Gauteng en ander dele van die land, bestaan ‘n wesenlike gevaar dat die land binnekort brandstoftekorte sal ondervind indien die geweld nie stopgesit word nie.

Uit vrees dat die geweld kan oorspoel na Limpopo, het sekere winkelsentrums in Polokwane Maandag hul deure vir die publiek gesluit. Nader aan die huis het die Makhado Crossing winkelsentrum ook Maandagmiddag gesluit. Volgens me. Landi van Deventer, woordvoerder vir die Masingita Groep, het hulle in gesprek getree met verskeie plaaslike polisiedienste. Na aanleiding van hierdie gesprekke, het Van Deventer gesê, is besluit om vanweë die beperkte kapasiteit van wetstoepassers en sekuriteitsmagte eerder die sentrum te sluit vir die veiligheid van hulle klante, huurders en personeel. “Die veiligheid en toewyding aan ons gemeenskappe sal altyd die Masingita Groep se prioriteit bly, en ons sal altyd daarna streef om ‘n veilige en wêreldklas koop-omgewing te verseker,” het Van Deventer gesê.

Terwyl Makhado Crossing weer Dinsdag oopgemaak het vir sake, het die bestuur van die Musina Mall en Great North Plaza in Musina Dinsdag besluit om eerder hulle sentrums gesluit te hou vanweë die voortslepende geweld in Gauteng en KwaZulu-Natal. Hulle het aangedui dat hulle die situasie sal monitor om te bepaal wanneer hulle weer sal opmaak. Soortgelyk aan Makhado Crossing was die veiligheid van hulle klante, huurders en personeel vir hulle prioriteit.

Die moontlikheid dat die geweld ook na plaaslike dorpe kan oorspoel het verskeie veiligheidstrukture in die streek op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas. Volgens mnr. Christo Snyman, hoofkoördineerder van Soutpansberg Landelike Veiligheid, werk hulle nóú saam met die polisie en is hulle saam met die polisie op bystand. Soutpansberg Landelike Veiligheid is ‘n oorkoepelende liggaam vir organisasies soos die plaas- en dorpswagte.

Die sterk standpunt wat gemeenskappe in veral Durban teen die plunderaars ingeneem het deur hulle met geweld uit hulle woongebied te verdryf, het ook posgevat onder lede van die Soutpansberg gemeenskap. ‘n Veldtog is op sosiale media begin waarvolgens inwoners ‘n boodskap aan moontlike betogers kan stuur. Die boodskap is eenvoudig: Ons sal nie deelneem aan die plundering nie en ons sal ons provinsie en dorp verdedig.

Intussen het organisasies soos die Soutpansberg Dorpswag hulle lede versoek om kalm te bly. Volgens hulle verwag hulle nie dat die geweld sommer na Louis Trichardt sal oorspoel nie. Dit gesê, het hulle hul lede versoek om enige verdagte of gewelddadige optrede dadelik aan hulle en die owerhede te rapporteer.

 

 
 
 

Viewed: 596

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT