Wyle Muller Vermaas (47). Foto verskaf.

Muller sal gemis word

Date: 16 July 2021 By: 

Viewed: 4700

Die Soutpansberg het Maandag swaar afskeid geneem van nog een van sy steunpilare, die 47-jarige Muller Vermaas, wat vanweë Covid-19 komplikasies oorlede is.

Nodeloos om te sê, die nuus het vir almal as groot skok gekom. Muller is sowat twee weke gelede in die MediKliniek in Tzaneen opgeneem, waarvan hy die laaste week in die intensiewe sorgeenheid deurgebring het. “Ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om vir die hele gemeenskap dankie te sê vir al julle gebede en bystand tydens Muller se siekbed. Baie dankie aan dr. Badenhorst, sowel as dr. Mostert wat uit sy pad gegaan het om ons gereeld op hoogte te hou van Muller se verwikkelinge. Jou opregte omgee en “updates” oor Muller was vir ons van onskatbare waarde,” het die familie gesê.

Muller is gebore in 1974 in ‘n tyd toe die groot reëns die paaie en brûe oorspoel het in Rhodesië. Sy skoolloopbaan was by Laerskole Mopane en Louis Trichardt en daarna Louis Trichardt Hoërskool. Sy broer Wessel het vertel van hulle sorgvrye dae op hulle plaas buite Mopane, daar waar hulle draadkarre gemaak het, baalgevegte gehou het, perd gery het en .22 geskiet het in die bruisende bruin water van die sandspruit voor hul huis tussen die Malalapalms. Ma Anita vertel op haar beurt dat skool minder belangrik was vir Muller en hoe hy met die plaas se diesel bakkie gery het waarop daar altyd ‘n braaier en ma se T-bene en wors vir kuiers langs die rugbyveld was. Muller en ‘n maat het ook skape langs die N1 verkoop en teen die tyd dat hy universiteit toe is, het hy reeds ‘n goeie klompie geld bymekaar gemaak. Op universiteit voltooi Muller sy BCom Fin bestuur, waarna hy die familieboerdery oorgeneem het. Hy het ‘n afgeremde plaas gevat en met groot ywer ingeklim en begin boer. 

Een van Muller se groot vriende, Wulf Schwerdtfeger, het Muller soos volg beskryf: “Muller was ‘n toegewyde en dinamiese boer van formaat. Nie net was hy ‘n goeie boer nie, maar ‘n uitstekende besigheidsman en vriend wat diep spore in die Soutpansberg kom trap het. Ek het hom altyd gesien as ‘n pionier op sy gebied, wat voor loop en ons aangespoor het om nie te stagneer nie, maar te beweeg na nuwe tegnologie en uitdagings. Muller kon baie dinge doen. Soos hulle sê, hy was ‘n ‘Jack of all trades’, maar daar was twee dinge wat hy uitsonderlik goed kon doen, en dit was om ‘n bees te voer en ‘n mielie te plant! Ek het altyd gesê, en sal bly sê, dat niemand in Limpopo ‘n bees kon voer en afrond soos my vriend Muller Vermaas nie. Ook het hy ‘n uitstekende organisasievermoë gehad om dinge op die regte tyd en plek te laat gebeur. Muller, ek salueer jou vandag vir die vriend en medemens wat jy vir ons was. Jy sal nooit vergeet word. Ons Soutpansberg-gemeenskap gaan jou oneindig mis.”

Muller se familie het gesê hulle kan hulself nie ‘n lewe indink sonder Muller nie. “‘n Wonderlike, liefdevolle pa en man vir Des, ‘n voortreflike vriend vir baie, ‘n steunpilaar in ons familie, maar ons het soveel vrede in die wete dat jou stille getuienis baie weer op hulle knieë gaan dwing voor die Lewende God,” het die familie gesê. In dieselfde asem het hulle gesê hulle wil graag Muller se getuienis deel wat hy  self geskryf het ‘n paar dae voor hy op ‘n ventilator gekoppel is. “Ons begeerte is dat elke een wat Muller se getuienis lees, diep sal gaan dink oor hulle eie lewe, selfondersoek doen en regmaak wat nodig is. Ons tyd is kort op aarde, maak die beste en bou sy Koninkryk!” het die familie gesê. (Muller se getuienis verskyn onderaan hierdie artikel).

Ongelukkig het Muller drie vreeslike terugslae beleef nadat hy sy getuienis op 29 Junie geskryf het en hy het nooit die voorreg gehad om vir elkeen van sy familie en vriende ‘n lam op die spit te sit soos hy belowe het nie. “Die lewe is regtig net ‘n asemteug en NIKS kan vir jou suurstof koop of jou gesondheid nie. Asseblief, leef voluit en pas mekaar en julself op! Groet mekaar elke dag ordentlik … dit is dalk net jou laaste groet,” het Muller se vrou Des gesê. Sy en die egpaar se jong dogter, Klarinda, is dankbaar vir almal se ondersteuning. “Dankie aan Nico en Tanya vir julle hulp en bystand  in hierdie tyd, so ook al my vriendinne en vriende wat kos, koek en blomme aangedra het. Aan Vermaas Boerdery se personeel - julle is ‘n Rotsvaste span. Die woord dankie is te klein,” het Des gesê.

“Ons glo hy is gesond, asemnood- en pynvry en veilig by Jesus. Wyl ons hele gemeenskap treur, het ons die troos dat die oes wel ingebring is – Hemel toe,” het sy ma Anita gesê.

Teen druktyd was finale reëlings ten opsigte van ‘n roudiens vir Muller nog nie bekend nie. Des het gesê dat sodra finale reëling getref is, familie en vriende daarvan in kennis gestel sal word.

Muller se getuienis [sic]:

Hallo Almal. Julle moet my maar verskoon hoe ek tik. Dinsdagmiddag, 22 Junie 2021, vat Des my LTT privaat hospitaal toe. Alhoewel Ek het toe intussen al my eie suurstof majien gekoop maar ons was bekommerd want my stats was in die 60 . Ek moet sê ek nie die vaagste benul gehad van wat vir my sou voorlê nie. Woensdag oggend toe skuif hulle my per ambulans na Tzaneen Mediclinic. Dankie aan Dr Fred Badenhorst van Louis Trichardt en Dr Pieter Mostert van Tzaneen, wat n bed vir my beskikbaar kon maak in die hospitaal. Ek het daaraangekom met Des en Klarinda wat agterna jaag om by die ambulans te kon probeer by bly. Ek ken nie hulle name maar Des het hulle getip want hulle is met die spoed van witlig tot hier. 

Wat daarna vir die volgende paar dae gebeur het tot dusver kan ek nie n aan persoon dink aan wie ek dit kan toewens nie. (ok dalk Joe Joe ) Vandat ek daar aangekom het was ek die heletyd bewus van n ontsaglike tekort aan suurstof. Ek het so voetjievirvoetjie geskyfel as ek oor die weg moes kom. Ek dog juis ek kom na suurstof maar ek was gou ontnugter dat die suurstof gaan in maar die longe is so vol slymproppe dit maak niks.

Dis n vieslike siekte die Covid Jy het suurstof tot jou beskikking maar niks kom by jou bloedstroom uit waar die organe dit nodig het nie. Ek het letterlik gehuil van asem nood en die dr sê eenvoudig dis maar die tiepe siekte. Jou longe gaatjies lê letterlik vol sluimproppe wat verhoed dat jy enige suurstof onttrek gekry word deur asemhaling. Jy kan jou mond oopmaak net wat jy wil. Jy trek jou bors dat hy bult maar niks gebeur nie. Elke keer as die dr my vra. Hoe voel ek dan sê ek vir hom ek is moeg. Ek het geen krag om eers my arms van die trollie af optetel nie. As ek gedog het ek het gister nie krag gehad nie. Dan moet jy my vandag sien. Ek is moër as gister. Wanneer ek wakker word het ek nie krag om n voet uit die bet uit te sit. 

Dankie aan ons hemelse Vader vir n vrou soos Des wat ten spyte van die gevaar om self besmet te kon raak het sy en Klarinda elke dag voor my venster kom sit en my kom moed in praat. Die geselsies het verhoed dat n mens die heletyd bewus bly van n suurstof nood. Eers as dit begin huistoe gaan tyd raak dan begin jou kop weer met jou te smokkel. N kop is n baie kragtige ding. Hy laat jou net daar voel jy gaan nie vanaand hierdeur kom nie. Jy begin dan so n benoudheid in jou bors ervaar. Seker soos mense wat asma kry. Dan begin jou familie jou te bel en moed in te praat. Jy doen dan natuurlik vreeslik self ondersoek. Jy vra die Here Jesus wat is die groot sonde wat jy gedoen het dat jy so gestraf moet word. Jy dink aan alle sondes wat jy al gedoen het of net selfs waaraan jy gedink het en jy begin omverskoning vra. Hoe meer selfondersoek jy doen hoe meer benoud begin jy te raak want die aand lê voor en die sondes is baie en jy weet nie hoe jy genoeg suurstof in die hande gaan kry nie want alles is slegs genade uit die Vader se hand. Ek kan net dink hoe voel die nie Christene wat weet daar is nie iets om na uit te sien of wat vanaand hulle asemnood gaan stop nie. Nadat jy vir alles omverskoning gevra het en ander jou herhinder het aan n paar wat jy heel moontlik van vergeet het begin jy rustiger te raak. Dit help ook as jou familie en vriende jou bel maar nou wil ek aan almal wat ek nie terug gebel of geantwoord het het sê. Jy sit met so min krag dat jy nie n selfoonboodskap kan tik nie. Jou oë kyk so oormekaar dat n 3 sin whapp 5min vat want jy delete aanmekaar. So baie jammer aan die van julle. Gelukkig Des het alles gebêre. As die gemors die dag verby is is daar n lam op die spit. Wat vir my baie sleg is is jy het nie n idee wat om te verwag of wat gaan gebeur as jy stoksiel alleen daar moet lê. Jy het geen idee wat is die volgende stap of wanneer is die volgende stap na herstel nie. Jou dr het so ruimpie. Jy lyk goed, daar is mense wat slegter as jy lyk. Byt net vas dit is maar hoe hierdie siekte werk. Jy gaan nog net een oggend opstaan en dan gaan ons kan begin suurstof speen by jou. My kop op daai stadium weet jy nie eers hoe jy by die toilet gaan kan uitkom op die huidige suurstof vlakke nie. Vergeet die speen daarvan. Dan raak ek vreeslik negatief want ek weet nie eers hoe ek deur vandag gaan kom nie. Dit voel of ek enige oomblik my laaste teug asem gaan kan vat dan is dit Kanoo. 

Maar soos n mens telkemale in die lewe agterkom. Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Daar het n 82 jarige oom in die bed in die algemene saal langs my gelê.  Hy is so swak hy kan nie eers self  opstaan nie. Hy kan nie self toilet loop as hy genoeg moed bymekaar geskraap het of opstaan en aan n trollie hang  net om daai moeg gelêde ou rug bietjie te laat ontspan nie Sy dr het by dag 4 opdrag gegee om hom in stoel te laat sit. As ek voel wat dit vir my beteken het om te kon sit in n lekker lazyboy kan ek net dink wat dit vir hom moes beteken het. So as ek kla kla ek met die witbrood onder die arm maar ek kla eintlik net oor die suurstof nood nie die fasiliteite nie. Want ek kan as ek heel moedeloos is darem my gedagtes laat gaan deur met so n lang pyp wat ek aan die suurstof toevoer vasgemaak het rondbeweeg. Nie laat ek enigings krag het nie maar ek voorseer myself om my gedagtes van die angs van die suurstof nood af weg te neem. Dan eweskielik oorval so angs besigheid jou. Daar kom geluide by jou stembande uit waarmee jy mense kan bang maak. Dit is net agv stress en benoudheidgeluide wat uit jou stembande kom van die wat ek mee mense in die aand sal kan bang maak net agv die angs van die aand wat voorlê. Toe vra ek die dr of hy my nie n slaappil sal voorskryf want as ek 23:00 wakker word is dit ek alleen in daai bed dan wil ek letterlik die muure uit klim. Ek het begin met n halwe slaappil en toe n hele een. As ek in die aand wakker skrik dan is dit muure toe ou pappa opsoek na suurstof gelukkig van dat ek die slaappille begin gebruik het. Het ek darem nie te lank gevat om weer aan die slaap te raak nie. Met n vreeslike angs maar ek glo as ek wegraak het my bors seker begin ontspan en kon ek

Asemhaal. Dis nie asof ek dan genoeg suurstof gekry het nie hoor. As ek daai oggend 4:30 wakkerskrik en die slaappil het sy job gedoen. Dan moet ek n vreeslik klom pype aan mekaar vasmaak sodat ek met suurstof kan badkamer toe. Dit is vir no 2. Number one het jy sommer n bottel langs jou bet. Jy bewe so groot as wat jy is dat iemand nie dalk daai lang suurstof pyp per ongeluk gaan vas knyp of dat hy by die simpel laste sommer sal uitskiet. Soos wat gebeur het. Maar gelukkig op daai stadium was ek toe besig om die hele petalje aanmekaar te sit. Ek was darem nie alreeds in die badkamer nie. Hierdie suurstof maskers is ook nie juis maanskyn en rose nie. Daai droë lug het my neus binne in vol sulke 5cm rowe. So nou sukkel ek om die suurstof nog deur daai rowe in die verstopte longe te kan kry. Die rekke wat maskers vashou het my ore al bloedrooi. Daar is nou watta bo oor my ore sodat ek kan cope. 

En daar gebeur my nagmerrie 28/06/21. Dit was gister. Des kuier nog by my toe kom daar n nurse met n suurstof bottel aan. Ek dog sy gaan my en Des uit vat om bietjie onder die bome te gaan sit. Toe sê die nurse ek moet pak. Ek is op pad ICU toe. Dit het vir  my gevoel soos n duur wat terslagting gely word. Ek kan nie n mens beskryf daai vrees nie. Hoekom nou. Ek het wel asemnood maar ek het nie vermoed ons is nou daar nie. Nou ja gepak en gegaan. Dit kan ek nou met alle eerlikheid sê. Dankie aan ons hemelse Vader. Dit was seker een van my duisende gebede wat hy verhoor het. Ek was vandag n ander mens. Waar ek nie krag het om my foon te kon vashou nie het ek die hele dag in n lazyboy gesit. Ek kon my werk op die plaas gedoen kry en ek het krag gehad om die boodskap te tik waar ek gister in die algemene saal nie eers een sin kon tik nie. So ja Prys die Here. Ek is sonder dat ek dit geweet het op n beter plek toe afterall. 

Ek vra almal om asb aantehou bid dat ek so spoedig moontlik by my plaas kan uitkom en dat die suurstof druk afneem. Dis volgens die dr die enigste uitkoms huistoe. My suurstof is op 60L p/minuut en my saturasie is op tussen 82 en 94. Hy moet my speen tot op 5L p/minuut, maar hy sê gelukkig die speen gaan vinniger. 

Daar was n vroue suster wat my vandag kom sê het covid maak soms so. Hy bou jou op vir n dag en breuk jou weer af die volgende dag. Ek het wel verlede Vrydag daai gevoel gehad . Ek het die oggend opgestaan en gaan skeer wat n vreeslike werk op sy eie is. Ek het selfs gaan stort hopelik was dit maar net n Satansdag want hoe langer die dag gevorder het hoe meer het ek papper en papper begin voel. Saterdag kon ek en wou ek nie eers uit die bed nie. Sondag was ek ook plat maar van vandag af. Glo ek daar is n draaipunt Ek glo in my hele wese ek begin nou beter voel. Ek glo en bid more voel ek beter as vandag. Julle moet saam bid dat dit asb n draaipunt was en nie n more weer plat dag nie. Ek wil nie eers daaraan dink. More voel ek nog beter …

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Email: 

 
 

More photos...