ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Hannetjie (Pretorius) Fernandes (50). Foto verskaf.   

Hannetjie Fernandes in Mosselbaai oorlede

Date: 17 July 2021 By: Andries van Zyl

Familie en vriende is verpletter met die hartseer nuus van die dood van die altyd vriendelike Hannetjie Fernandes vanweë Covid-verwante komplikasies vroeg Dinsdagoggend.

Die 50-jarige Hannetjie, ‘n nooi Pretorius en boorling van Louis Trichardt, het in Desember 2020 besluit om die Soutpansberg vaarwel te roep en het saam met haar man, Henk, en twee seuns, Richardo (14) en Renaldo (10), na Mosselbaai te verhuis. Die egpaar het na dié kusdorp verhuis sodat Henk beter mediese versorging kan kry vir ‘n reeks operasies wat hy moet ondergaan.

‘n Hartseer Henk het Woensdag aan die koerant gesê dat die afgelope paar weke vir Hannetjie en hulle as familie ‘n uiters moeilike tydperk was. Nadat al vier van hulle aanvanklik positief getoets vir Covid-19, het die familie hulself vir die voorgeskrewe 10 dae geïsoleer. Veral vir Hannetjie het die positiewe diagnose as slegte nuus gekom, aangesien sy diabetes, asook asma gehad het.

Hannetjie-hulle het die 10 dae isolasie voltooi. “Ons was moeg, ons was seer, ons was alles, maar ons was oukei. Daar was nie snaakse siekte en goed betrokke nie” het Henk gesê.

Drie dae ná die isolasie tydperk, toe die familie veronderstel was om gesond te wees, het Hannetjie se gesondheid egter skielik verswak. “Hanna het vir my gesê sy weet nie wat fout is nie, maar sy sukkel om asem te kry,” het Henk gesê. Hy het haar dadelik na die provinsiale hospitaal op Mosselbaai geneem.

Hannetjie is dadelik opgeneem. “Hulle het vir my gesê dit is maar ‘n nagevolg van die Covid. Dit beskadig jou longe. Hulle het haar toe op suurstof gesit vir ses dae,” het Henk gesê.

Sondag twee weke gelede het die hospitaal vir Henk geskakel en gesê hy kan vir Hannetjie kom haal. “Hulle het vir my gesê sy is nou gesond en sy kan maar by die huis gaan aansterk. Daardie Sondagaand het ons glad nie geslaap nie. Hannetjie het gesê sy het verskriklik seer aan haar linkerkant,” het Henk gesê.

Die volgende oggend vroeg is Henk en Hannetjie weer dokter toe, waar hulle meegedeel is dat dit wil voorkom asof Hannetjie se linkerlong platgeval het. Sy is dadelik weer in die hospitaal opgeneem, waar bepaal is dat sy net infeksie in die long gehad het. “Hulle het toe begin om die slym uit haar long te kry, sodat hulle haar antibiotika kon gee. Op die ou einde het sy sewe dae in die hospitaal spandeer. Nou Sondag wat verby is toe bel hulle weer en sê vir my ek kan vir Hannetjie kom haal,” het Henk gesê.

Hy het dadelik gery om vir Hannetjie te gaan haal. “Sy was swak en sy het verskriklik maer geword, maar sy was oukei gewees. Maandag was sy oukei, maar Dinsdagoggend drie-uur toe maak sy my wakker en sê sy kry weer nie asem nie,” het Henk gesê.

Henk het dadelik besluit om Hannetjie weer hospitaal toe te jaag. “Toe ek by my agterdeur kom, het ek besef Hanna kry regtig nie asem nie. Ek het haar toe opgetel en kar toe gedra,” het Henk gesê. Hy het dadelik na die hospitaal toe begin jaag, wat ongeveer vyf kilometer weg was. Sy oudste seun het by die huis gebly om na sy boetie om te sien.

“Halfpad hospitaal toe, toe word sy pap in die kar. Sy het haar bewussyn verloor. By die hospitaal het hulle haar dadelik gevat en begin met CPR. Ek kon weens Covid nie saam met haar die hospitaal ingaan nie. Hulle het vir my gesê ek moet in die kar wag. So ‘n halfuur later het hulle my kom roep. Hulle het vir my gesê hulle het gedoen wat hulle kon, maar hulle kon haar nie terugkry nie,” het Henk gesê.

Henk het gevoel hy wil noem dat die provinsiale hospitaal in Mosselbaai alles in hulle vermoë gedoen het om Hannetjie te red. Hy het met groot lof gepraat van die dokters en personeel se goeie diens.

Teen druktyd was geen finale begrafnisreëlings vir Hannetjie bekend nie. Sy word oorleef deur haar man en twee seuns, susters Ella en Lana, broers Albie en Frans en aangetroude familie. “Ek wil graag almal bedank vir hulle oproepe en woorde van vertroosting in hierdie moeilike tydperk,” het Henk gesê. Hy het ook ‘n spesiale woord van dank gerig aan die persoon wat R10 000 aan hulle oorbetaal het om te help met Hannetjie se begrafnisdiens.

 

 
 
 

Viewed: 1704

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT