ADVERTISEMENT:

 

 
 

Glo dit of nie, maar hierdie is nie ‘n rivier nie, maar ‘n droë spruit wat weer begin loop het vanweë ‘n lekkasie op die hoofpyplyn wat gesuiwerde water vanaf die Albasinidam na Louis Trichardt vervoer. Hierdie water gaan weer terug na die Albasinidam. Boonop veroorsaak hierdie lekplek dat water oor die pad stroom en, in die proses, die servituutpad waaroor dit loop, beskadig. Die lek is maande reeds daar en herhaaldelik by die Vhembe Distriksmunisipaliteit gerapporteer, sonder enige sukses. Foto verskaf.

Talle kla, maar steeds gaan miljoene liters drinkwater verlore

Date: 26 August 2021 By: Pétria de Vaal

Sedert die Zoutpansberger in April vanjaar berig het oor lekkende pyplyne vanaf die Albasinidam wat reeds-gesuiwerde water aan die dorp moet verskaf, duur die frustrasie en vermorsing voort.

Dieselfde leser wat destyds foto’s gestuur het, het weer inligting en foto’s verskaf. Hierdie keer oor addisionele lekplekke.

Volgens die leser word by die een nuwe lek soveel water vermors dat ‘n droë spruit weer begin loop het. Hierdie water gaan weer terug na die Albasinidam. Boonop veroorsaak hierdie lekplek dat water oor die pad stroom en, in die proses, die servituutpad waaroor dit loop, beskadig.

Die Beja Landgoed word tans ontwikkel en volgens die landgoedbestuurder is hierdie lekplek nie net ‘n klein probleempie nie – dit lyk asof die pyp gebars het. Hierdie lekkasies is op die ou pype (waarskynlik al tussen 45 en 50 jaar oud) wat parallel met die nuwe pypleiding vanaf Nandonidam loop. Niemand weet wanneer hierdie nuwe pypleiding in werking sal tree nie. Benewens hierdie groot lek, wat vermoedelik tot 50% van die pypleiding se water verloor, kom nog ander, kleiner lekke daar naby voor. Die probleme is reeds gerapporteer deur middel van die regte kanale. Volgens hierdie landgoedbestuurder is hulle op goeie voet met die betrokke owerhede. Hy noem ook dat sekuriteit daar patrolleer. Iemand is dus altyd daar en die bestuurder se nommer is ook op die hek indien iemand opdaag om die herstelwerk te doen.

In ‘n gesprek met Percy Anderson, algemene bestuurder van Maclands, het hy genoem dat ‘n mens ‘n som kan maak as jy kan bepaal hoeveel liters water per sekonde by enige lekkasie vermors word. ‘n Spesiale meetpunt op hulle gronde kan as maatstaf gebruik word. “ ‘n Mens kan dus uitwerk hoeveel water vermors word as jy sou sê daar lek, argumentsonthalwe, ‘n minimum van 20 liter per sekonde,” sê Percy. Hy voeg by dat hulle al dikwels self geringe herstelwerk aan pype gedoen het deur byvoorbeeld klampe te vervang. “Daar is uiteraard kostes by betrokke en dit is in die eerste plek nie ons verantwoordelikheid nie,” sê hy.

Andy Tonks, algemene bestuurder van die Molozi Trust, noem dat die lekkasies – alles gesuiwerde water - al vir meer as twee jaar ‘n groot probleem is. Een van hulle groot probleme het voorgekom in die macadamia-boorde, waar die bome letterlike oorstroom is. Volgens Andy was hulle grootste frustrasie dat hulle nie met die korrekte amptenare wat verantwoordelik is in aanraking kon kom nie. “Niemand neem eienaarskap van die pypleiding nie. Met behulp van die DA se verteenwoordiger is daar kontrakteurs aangestel om die herstelwerk te doen. Die oorsaak van die probleem is duidelik dat daar nooit gewone onderhoud gedoen word nie. In die verlede is pype van tyd tot tyd gelig en met spesiale apparaat skoongemaak. Die herstelwerk aan die pyp wat ons boorde geaffekteer het, het nou veroorsaak dat die waterdruk hoër is en lekkasies op ander plekke en plase dus meer is,” sê Andy.

Brian du Plooy, wyksraadslid van die DA, nooi almal wat probleme ondervind uit om hom direk te kontak (082 821 0075) en foto’s asook lokaliseringsbakens (location pins) van waterlekke op die pypleidings per slimfoon te stuur. Hy beaam dat Vhembe nie oor die nodige kundigheid en toerusting beskik om herstelwerk self te doen nie.  Kontrakteurs word gewoonlik aangestel.  Hy spreek ook sy kommer uit oor die feit dat amptenare kort-kort van posisies verander en dat dit sake bemoeilik om die regte persoon in die hande te kry. Du Plooy deel graag met lesers die nuutste kontakpersone se name en nommers indien iemand self water- en rioolprobleme wil rapporteer.

1. Riool in en om die dorp, Biaba en Tshikota: Kontakpersoon Murendi 0723175532 en Bestuurder Manena 0649040752 of 0662564475.

2. Riool rondom Waterval Vleifontein:  Kontakpersoon Moswedi 0731337637 en Bestuurder Manena 064904 0752 of 066256 4475.

3. Hoofpyplynwaterlekkasies rondom Louis Trichardt, Tshikota en Kutama Sinthumule: Kontakpersoon Collen 073052 2397 .

4. Watermeters wat lek of gesteel is:  Kontakpersoon Ndou 0765249156 .

5. Watertekorte in en om die dorp asook Tshikota:  Kontakpersoon Mukosi 0829418171 of Ramaru 0792716795.

Pogings om kommentaar van die Vhembe Distriksmunisipaliteit oor die lekkasies te bekom was onsuksesvol.

 

 
 
 

Viewed: 898

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT