ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Dorothy Meintjes (71). Foto verskaf.

Susters verloor ma twee weke na broer

Date: 27 August 2021 By: Pétria de Vaal

“Die plaas is nou leeg sonder haar en my boetie,” sê Marlize Breytenbach, dogter van Dorothea Meintjes, wat op 18 Augustus weens Covid-verwante komplikasies oorlede is. “Eers broer Pieter en nou ons ma - albei binne twee weke,” sê die bedroefde twee susters, Marlize en Jana.

Marlize vervolg dat albei op dieselfde dag, 22 Julie, in die MediKliniek in Polokwane opgeneem is. Vanweë probleme met haar suurstof moes sy na ‘n intensiewe sorgeenheid gaan, maar geen plek was beskikbaar in die MediKliniek nie. Op 25 Julie was ‘n bed beskikbaar by die Zuid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria, waarheen sy toe per ambulans oorgeplaas is. Hier is sy op ‘n ventilator geplaas onder die sorg van professor Veronica Ueckermann. “Sy was in baie goeie hande, maar die grootste probleem was die longe wat baie skade gekry het as gevolg van hierdie virus. Selfs ‘n klein trachea-operasie het nie gehelp nie. Ek en Jana is dankbaar dat ons darem vir haar in Pretoria kon gaan kuier het. Sy is toe verlede Woensdag oorlede, waarna ons haar op Saterdag, 21 Augustus, by my broer op die plaas te ruste gelê het,” sê Marlize.

Dorothea (ook Dorothy genoem) is op 12 Mei 1950 as ‘n nooi Van der Walt in Pretoria gebore. In die sewentigerjare het die gesin na die plaas Erasmus in die Mopane-omgewing verhuis waar hulle gaan boer het. Sy het in 1990 as die sekretaresse by Mopane Intermediate School begin werk, waar sy tot en met haar aftrede in 2015 werksaam was – altesaam 26 jaar. Haar man, Koos, is reeds in Januarie 2006 aan kanker oorlede. Ná haar aftrede was sy maar net op die plaas en in die omgewing. Op die plaas het sy haar seun Pieter met baie dingetjies gehelp.

Almal was baie lief vir haar. Dorothea was vir almal soos ‘n moeder. Sy het altyd plek gehad vir ieder en elk – vriende en familie. ‘n Baie liefdevolle, omgee-mens.  Genoeg kos was altyd beskikbaar. Almal onthou in die besonder haar heerlike melkterte. Sy was natuurlik ook baie lief vir diere – wat nou almal na Marlize toe is. “Sy het altyd gelag, net soos Pieter,” sê Marlize.

Jana en Marlize wil graag vir dr. Fred Badenhorst, asook hulle neef, dr. Vivian Meintjes in Polokwane en Prof. Ueckermann by die Zuid-Afrikaans Hospitaal bedank vir al hulle hulp en bystand. “‘n Groot dankie ook aan almal wat aan ons sóveel ondersteuning gebied het – dit was regtig oorweldigend. Ons is dankbaar om sulke mense in ons lewe te hê,” sê die twee sussies.

Dorothea word oorleef deur Marlize en haar man, André Breytenbach, asook dogter Jana Meintjes en Ben van der Merwe en Jana se twee seuns Niel en JJ. Die familie deel graag ‘n gedig wat as huldeblyk in die begrafnisbrief verskyn het oor hulle ma en ouma:

n Mens se siel ruk letterlik stil
En ek wonder of die aarde werklik nog draai
Want ek staan stil …?

Kan ek nie maar net nog ‘n rukkie droom,
Dat alles is net soos dit was?
Kan mamma nie net nog ‘n rukkie weer
Kom kuier, of saamry na waar dit ookal pas?
 
Jy was ‘n ma van vele, maar jy was ook
Veel meer as net ‘n ma.
Ons maatjie, kameraadjie, ons stilte
Ons lag, ons drukkies, lekker grappies,
Ons saamry, deel en vakansie daggies.

As ek wakker word uit my droom en dink,
Dan wonder ek …
Dans julle twee daarbo in die hemelblou?

Nou, terwyl die reëndruppels op my oë kom val,
Sal ek julle sien, miskien oor ‘n reënboog gly,
En lag en bly wees … want jul is asemvry.

 
 
 

Viewed: 1945

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT