ADVERTISEMENT:

 

 
 

Broers Juan-Jaques (29) en Christo (25) Degenaar wat verlede Vrydagaand in ‘n motorongeluk buite Nelspruit gesterf het. Foto verskaf.

Onafskeidbare broers sterf saam in motorongeluk

Date: 03 September 2021 By: Andries van Zyl

Tragedie het die Degenaar-egpaar van Lugmagbasis Makhado getref met die nuus dat hulle Vrydagaand, 27 Augustus, albei hulle seuns in ‘n motorongeluk verloor het.

Nikkie en Petro Degenaar is steeds platgeslaan deur hulle verlies. “Maar ons is oukei,” het Petro Woensdag aan die Zoutpansberger gesê. Hulle was steeds in Nelspruit waar die ongeluk plaasgevind het om finale reëlings te tref vir hulle seuns Juan-Jaques (29) en Christo (25) se verassing.

Wat presies die noodlottige aand gebeur het, weet niemand nie. Juan-Jacques en Christo was vanaf hulle werk op pad huis toe. Hulle het sowat 10 km buite Nelspruit op die Barberton-pad gewoon. Volgens Petro het hulle blykbaar om ‘n draai vir iets uitgeswaai in die pad. Hul voertuig se wiel het die padskouer getref en buite beheer geraak, waarna dit ‘n boom getref het. Beide Juan-Jaques en Christo is op slag dood. Die ongeluk het ongeveer 18:40 plaasgevind.

Nikkie en Petro woon sowat 29 jaar al op Lugmagbasis Makhado waar Nikkie in die lugmag is en Petro by Limpopo Melkery werk. Juan-Jaques en Christo het hulle laerskoolloopbaan begin by Braambos Laerskool op die basis en later by Laerskool Louis Trichardt voltooi. Juan-Jaques het daarna sy hoërskoolloopbaan by Generaal Piet Joubert voltooi, terwyl Christo sy skoolloopbaan by Hoërskool Louis Trichardt voltooi het.

Die twee boeties het sowat drie jaar gelede, eers Juan-Jaques en ‘n paar maande later Christo, Nelspruit toe getrek, nadat hulle werk gekry het daar. “Hulle was baie opgewonde daaroor en het dit vreeslik baie geniet,” het Petro gesê. Volgens haar was die twee onafskeidbaar van mekaar gewees. “Hulle was baie close gewees. Dit is hoekom Christo sy boetie gevolg het; die oomblik toe hy vir hom werk gekry het, toe kom hy ook,” het Petro gesê.

Teen druktyd was nog geen finale begrafnisreëlings bekend nie. ‘n Roudiens word egter vir die twee broers op Lugmagbasis Makhado beplan. Finale reëlings hieroor sal later deur die familie bekend gemaak word.

Petro en Nikkie het hulle opregte dank uitgespreek teenoor al hulle vriende en kennisse vir hulle oproepe en woorde van vertroosting. “Ons waardeer dit baie. Julle boodskappe dra ons deur hierdie moeilike tyd,” het Petro gesê.

Petro het afgesluit met die woorde: “Dit was Liewe Jesus se besluit. Hy het besluit om hulle saam te vat en dit is waarvoor ons baie dankbaar is, dat een nie agtergebly het nie.”

 

 
 
 

Viewed: 3793

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT