Wyle Nico König (52). Foto verskaf.

Nog ‘n Covid-19 skok vir Soutpansberg

Date: 03 September 2021 By: Pétria de Vaal

Viewed: 2300

Die nuus van Nico König se afsterwe weens Covid-19 verwante komplikasies, het opnuut skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Volgens Nico se vrou, Christa, het hy gedurende die eerste week van Augustus siek geword. “Op Saterdag die 14de, is hy opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Sondag is hy oorgeplaas na die MediKliniek in Tzaneen, waar hy suurstof onder ‘n hoër druk ontvang het. Die feit dat ek nie by hom kon ingaan nie was vir my baie moeilik,” sê Christa. ‘n Suurstofmasker wat later die grootste gedeelte van sy gesig bedek het, het hom verhinder om sy foon te gebruik.  “As ek met hom probeer praat het oor die foon, kon ek hom nie hoor nie. Nico kon ook glad nie sy leesbril gebruik nie. Op ‘n stadium het dit begin lyk of dit met hom beter gaan. Teen Woensdag die 25ste het sy toestand agteruitgegaan. Sy hart het onreëlmatig begin klop en medikasie het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Hy het skokbehandeling ontvang. Sy bloeddruk het aangehou daal en teen Donderdagoggend vroeg, die 26ste, het die hospitaal my laat kom.  Gelukkig kon ek by hom ingaan. Hy is teen 11 uur oorlede,” deel ‘n hartseer Christa.

Nicolaas Claudius König is op 27 Januarie 1969 in Kempton Park gebore. Hy was die middelste van vyf kinders van Trudie en Chris König. Hy het sy skoolloopbaan in Birchleigh voltooi waar hy op beide laer- en hoërskool op die leerlingraad was. Nico en sy ouer broer was van die eerste leerlinge wat deel was van die begin van Birchleigh Hoër en was trots daarop om te help om tradisies vir die skool neer te lê.

Nico se suster, Riekie Steyn en haar man Koos, vertel dat Nico ‘n kranige sportman was en het nie net vir sy skool se eerste rugbyspan uitgedraf nie maar het op skool reeds ‘n swart belt in Jiu Jitsu verwerf. “Wanneer die twee boeties teen mekaar te staan gekom het, was dit nogal ‘n ding, want my ma het nie geweet vir wie om te skree nie,” sê Riekie. Sy sê dat Nico egter ‘n vredemaker was en hy het, ten spyte van sy vaardighede wat hy in Jiu Jitso geleer het, nooit sy hande vir enigiemand gelig nie, selfs nie skoorsoekers nie. “Perdry, kamp, en die buitelug was sy lewe.  Hy was ook verkies as hoofleierswag in die Voortrekkers,” noem Koos en Riekie.

Christa vertel dat Nico aanvanklik Medies op Tukkies studeer het en later oorgeslaan het na ‘n Landbou Veekunde-rigting. “Nico was in Sonop manskoshuis. Hulle is ‘n baie hegte groep maats wat ná al die jare noue kontak met mekaar het en jaarliks bymekaarkom, saamkuier en stories deel,” sê sy.

Koos noem dat, ná Nico se Universiteitsopleiding, hulle saam vir ‘n boer op Delmas geboer het.  Daarna het Nico en ‘n vriend, Cobus Botha, ‘n restourant (Keg ‘n Huntsman) in Witbank geopen waar hy ‘n paar jaar werksaam was. Dit is hier waar Christa en Nico mekaar ontmoet het.

Later boer Nico vir wyle Herbert Berger op die plaas Mahoba in die Louis Trichardt-omgewing. Riekie onthou dat, tydens die 2000 vloede, Nico die een was wat ‘n werker se baba die lewe ingehelp het.  Dié baba is toe ook na hom vernoem. “Sy mediese kennis het dikwels handig te pas gekom,” sê Riekie.

“Toe  Nico se ouers kom aftree het op ‘n plasie in Levubu, het Nico sy pa gehelp met ontwikkeling. Na ‘n paar jaar begin hy vir Gerhard du Plessis op Waterpoort te boer waar hy vir die afgelope 10 jaar werksaam was. Saam maak hulle ‘n gedugte span wat hoë hoogtes bereik in die landboubedryf,” sê Koos. Op ‘n stemboodskap wat van Gerhard ontvang is, noem hy dat Nico ‘n groot leemte laat in die verwerking van vars vrugte. “Hy het ‘n sleutelrol gespeel. Nico was veral betrokke by die ontwikkeling van pitlose waatlemoene. Die laaste drie jaar was hy die grootste verbouer hiervan in Suid-Afrika. Tussen 4 000 en 6 000 ton waatlemoene is jaarliks na verskillende supermarkte - binnelands sowel as buitelands - versprei. Nico was ook deel van die Rural Safety Plaaswagstruktuur en gaan in die besonder gemis word vir veral die mediese kennis wat hy aan plaaswagte oorgedra het.

Nico word deur sy vriende onthou as ‘n lojale maat wat stil, maar gereken was. Hy was ‘n man van vele talente; hoogs intelligent met ‘n verstommende kennis van wetenskaplike sake en terselfdertyd baie handvaardig wanneer dit by tegniese aspekte kom. Hy het uitgeblink as rugby-afrigter en kon kos maak soos ‘n spoggerige sjef. Sy vriende was lief vir sy goeie geaardheid, humor en opregtheid.

Net voordat Nico oorlede is, het Christa ‘n stemboodskap van Koben Hofmeyr vir Nico gespeel. Sy het die foon op sy bors neergesit en is oortuig daarvan dat Nico hierdie laaste boodskap kon hoor. In die boodskap het Koben onder meer gesê: “dit is nog nie die einde van die wedstryd voor die fluitjie nie geblaas het nie” – woorde wat Nico altyd vir hulle as afrigter gesê het. Koben sê in ‘n huldeblyk “Ek sal oom Nico onthou as ‘n liefdevolle persoon. Hy het vir elke speler wat hy afgerig het omgegee. Hy was ’n tweede pa vir ons. Hy het ons altyd moed ingepraat en aangemoedig om ons beste te gee tot die eindfluitjie blaas. Hy het ons gewys waar ons krag lê deur voor en na elke wedstryd te bid. Hy het baie belangrike waardes in elkeen van ons ingeëts. Spanlede kan opreg dankie sê vir die belegging wat oom Nico in ons lewens gemaak het. Hy het veroorsaak dat ons vandag steeds glo dat ons ysters is. Ek kan in alle opregtheid sê: dit vat ‘n yster om ‘n ander yster raak te sien. Ons sal in ons lewens nie kan opmaak vir wat hy vir ons gedoen het nie. Ons sal hom weer sien,” sê Koben.

Anell Schalkwyk skryf op Facebook dat hulle klomp wat saam met Nico gewerk het, hom baie gaan mis, veral sy wysheid en kennis oor alles. Anell beloof verder: “Julle huisie gaan klaar gebou word en ons sal Christa mooi oppas. Ons sal altyd daar wees vir haar en die kinders. Ons harte is seer, maar die Hemelpoorte juig want sy kind is tuis.”

Sy swaer Koos sê: “Dit is met swaar harte dat ons van hom afskeid neem en hoewel die hartseer en pyn nog vir lank met ons gaan wees, sien ons uit na die dag van herontmoeting. In my geestesoog sit Nico, pa Chris, oom Manie Eloff en van die ander maats wat ons voorgegaan het, en drink moerkoffie om ‘n bosveldvuurtjie. Tot wedersiens my broer!”

Nico se dogter Miché Deysel, skryf: “Al sou daar 'n donker wolk oor die horison wees, weet ek die son skyn altyd by Paps. En al breek daar 'n storm los binne my hart, het ek geweet my paps sal altyd daar vir my wees. Want my ster was nooit te ver nie en my held is my dad. Hou my sterk en laat hom weet hoe lief ek hom het”.

Seun Tiaan beskryf sy pa as die vriendelikste man met 'n baie groot en sagte hart. Hy het altyd tyd gehad om met jou te gesels en jou dag beter te maak met sy vriendelike glimlag. Hy was 'n veekundige wat homself geleer boer het tot op die hoogste vlak en hy het nooit gehuiwer om sy kennis met ander te deel nie. Hy het sy gesin, familie en vriende eerste gestel. Sy positiewe uitkyk op die lewe kon enige iemand inspireer om 'n beter mens te wees.

“My pa se afsterwe laat 'n baie groot leemte in my hart. Daar is nog soveel wat ek graag by hom sou wou leer maar ek koester dit wat hy reeds aan my oorgedra het. Ek sal die res van my lewe tot eer van my pa leef en daarna streef om nes hy te wees,” sê Tiaan.

Nico se seun Tjibbe voeg by: “My pa was my rots, hy het my van só baie dinge geleer. Van hoe om my ma se boompies organies nat te maak, tot hoe om 'n ou te tackle op die veld, te skiet en hoe 'n boer lief is vir die grond waarop hy boer. My pa was my ‘hero’.”  

Vir Christa is woorde is te lig om haar fantastiese man te beskryf. “Altyd dieselfde, altyd gehelp waar hy kon, lief vir sy gesin, lief vir en lojaal aan sy vriende en 'n boer in murg en been. Ek gaan jou sooooo mis,” sê sy.

Nico se herdenkingsdiens word op Saterdag, 4 September op die plaas Cango, Waterpoort gehou. Getalle is reeds bevestig om binne Covid-19 regulasies te bly. Nico laat sy vrou Christa, hulle drie kinders, Miché, Tiaan en Tjibbe agter asook sy ma Trudie, susters Hilette en Riekie en broers Beyers en Christiaan.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Pétria de Vaal

Email: petria@devaalanddevaal.co.za

 
 

More photos...