ADVERTISEMENT:

 

 
 

Pastoor Andries van Heerden van die Emmanuel Christelike Kerk op Louis Trichardt stem saam dat die psigologiese toestand van ons mense baie verswak het as gevolg van die pandemie.

Virus steel ook hoop

Date: 10 September 2021 By: Denise van Bergen

Covid-19 is ‘n nare realiteit wat homself soos ‘n nat kombers om die aarde kom vou het. Of jy nou glo dat die coronavirus ‘n feit of ‘n klug is, almal word op een of ander wyse hierdeur geraak.

Die sterftetal van mense wat dié pes opgetel het, is ontstellend. Elke dag staan iemand ‘n geliefde aan die dood af; elke week word nóg ‘n welbekende inwoner in ons midde begrawe. ‘n Mens se hart breek om dit te aanskou.

Die gevaar waaraan ons blootgestel word, is egter veel meer kompleks as wat op die oog af lyk. Mense word nie net siek of sterf as gevolg van die virus wat hulle liggaamlik aftakel nie. Talle mense lei psigies, of geestelik, as gevolg van die omstandighede rondom die pandemie. Die vraag wat dus gevra moet word is of dieselfde klem gelê word op mense se geestesgesondheid in hierdie tyd as wat gefokus word op die fisiese gesondheidsimplikasies wat die coronavirus inhou (en hoe om onsself daarteen te beskerm). 

Suid-Afrikaners is nou al vir 17 ononderbroke maande onder streng gesondheids- en inperkingsregulasies, danksy Covid-19. Ongewone gedrag word al meer dikwels rondom ons opgemerk en kenners meen dat dinge erger mag raak indien mense wat geestelik uitgebrand voel nie hulp soek nie.

Zelda Buitendag, ‘n kliniese sielkundige van Polokwane, sê dat hulle in praktyk veral ‘n toename sien in angsversteurings, soos algemene angs, paniekaanvalle, obsessiewe en kompulsiewe versteurings. Verder, sê sy, word ‘n toename in depressie en trauma-gebaseerde toestande ondervind.

Pastoor Andries van Heerden van die Emmanuel Christelike Kerk op Louis Trichardt stem saam dat die psigologiese toestand van ons mense baie verswak het as gevolg van die pandemie. Hy sê dat die konstante onsekerheid waarin miljoene Suid-Afrikaners tans van dag tot dag leef lei tot ‘n onnatuurlike mate van opgekropte stres, wat hy ‘latente spanning’ noem.

“Die mens kan nie vir langer as drie maande onder soveel ononderbroke spanning leef nie,” meen van Heerden vanuit ‘n beradersoogpunt. Die gevolg hiervan, sê hy, is nie net gesondheidstoestande soos byvoorbeeld hartsiektes wat nou ál meer onder jonger mense ook begin voorkom nie, maar ook baie verskillende geestesafwykings. Woede-uitbarstings en vele ander gewelddadige optredes kan ook direk hieruit voortvloei. “Latente spanning lig al die verborge swakhede uit, soos byvoorbeeld drank- en/of dwelmmisbruik, onbehoorlike gedrag en selfs fisiese geweld teenoor ander,” sê hy.

Hoe beskerm iemand homself dan teen die psigologiese implikasies wat verband hou met die pandemie? Hoe vind 'n mens daardie balans om homself geestelik en emosioneel bo water te hou, maar terselfdertyd te deel met die realiteit van wat om ons aangaan?

Van Heerden meen dat om steeds dinge te doen wat jou laat ontspan belangrik is, soos om tyd aan jou stokperdjies (of wat jy ook al van hou om te doen) te bestee - of dit visvang, sport of legkaart-bou is. “Daar moet ‘n sin van normaliteit en hoop wees. Bespreek daardie vakansie of naweek-wegbreek,” sê hy. “Wanneer ons na iets uitsien, skep dit hoop, en hoop help ons om nie te degenereer in ons psige en emosionele kondisie nie.”

Hy haal die woorde van Paulus, wat vele verdrukkings en vervolgings ondergaan het, aan: En nou bly geloof, hoop, liefde - hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde (1 Korintiërs 13:13 AFR53).

“Net geloof, liefde en hoop sal ons deur hierdie pandemie sien. Hou vas aan jou geloof, geniet dit wat jou gelukkig maak saam met jou geliefdes en moenie hoop verloor nie.”

Buitendag sluit hier by hom aan met die volgende advies:

* Ondersoek jou denkpatrone. Irrasionele/onrealistiese gedagtes kan soms lei tot baie negatiewe emosies.

* Vind dinge wat konstruktief bydra tot ‘n beter gemoedstoestand. Leer ‘n nuwe taal of kunsvorm aan, of verander die tuin. Probeer iets skeppend of kreatief doen. As jou hande besig is, is jou kop stil. Beoefen jou geloof en reik uit na mense in die gemeenskap, vriende en familie.

* Gee aandag aan gesonde gewoontes, soos oefening, eetpatrone en slaappatrone. Neem medikasie waar nodig en moenie bestaande gesondheidsprobleme afskeep nie.

* Kry hulp as jy nie die omstandighede of probleme kan hanteer nie.

“Ons almal het soms hulp nodig. Ons bevind ons in abnormale omstandighede en ons probeer ons bes om dit te hanteer,” sê sy.

Buitendag is elke tweede week by Zoutpansberg Privaathospitaal vir berading. Kontak haar by 015 295 7588 om ‘n afspraak te reël.

 

 
 
 

Viewed: 1031

 

 
 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT