ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Eunice Langbehn (68). Foto verskaf.

'Dit wat sy gedoen het, het sy goed gedoen'

Date: 17 September 2021 By: Pétria de Vaal

‘n Hartseer familie neem afskeid van Eunice Langbehn (née Viljoen) van Louis Trichardt. Eunice is op 31 Julie 1953 in Duiwelskloof gebore en op 10 September 2021 oorlede.

Op Duiwelskloof het sy haar laerskoolloopbaan voltooi en haar hoërskoolloopbaan by Merensky. Haar jonger suster, Naomi van Wyk, noem dat sy onder meer in die ou Volkskas Bank (nou deel van ABSA) gewerk het en was ook administratiewe bestuurderes vir Russells in Tzaneen. “Sy het ook later haar eiendomseksamens afgelê en toe eiendomme verkoop. Ná baie jare in Tzaneen het sy en haar man Kia in 1998 Louis Trichardt toe getrek en suksesvolle bakkerye in Thohoyandou en Elim besit,” sê Naomi.  

Dogter Ursula voeg by: “Ons ma was later ‘n verkoopsverteenwoordiger vir haar oorlede broer Pieter Viljoen en het daarna saam met die kinders by Terra-Marique Security (TMS) ingeval. Die laaste vier jaar was sy afgetree en rustig.”

Naomi beskryf vir Eunice as hardkoppig en eiesinnig. “Dit wat sy gedoen het, het sy goed gedoen. Sy was kunstig en lief om te skilder – ‘n intelligente persoon met goeie mensekennis. Sy het altyd ‘n ander siening oor verskeie dinge gehad. Haar kinders het sy beskerm soos ‘n leeuwyfie. Sy was ‘n baie mooi jong vrou wat glad nie kon stilsit nie.  Ouderdom het haar rustiger gemaak. Sy was baie privaat en het nie daarvan gehou dat almal van haar dinge weet nie. Sy het met spesifieke mense oor die weg gekom. Sy was wie sy was - met geen aansit of voorgee nie. Wat jy gesien het, is wat jy gekry het. In haar geselskap kon jy jouself wees,” sê Naomi.

Ursula is dankbaar dat sy die voorreg gehad het om beide haar ouers te kon versorg tot die einde. Sy skryf op Facebook: “Mamma, dié is by verre die swaarste dag van my lewe, Mamma was my beste vriendin, my Mamma, my skindermaatjie, my afpakplek, my raadgewer, my grootste ondersteuner.” Sy vervolg deur te noem dat sy en haar broer, Georg Langbehn, besonder geseënd was met ‘n fenomenale vrou soos hulle ma. “Sterk en altyd reg om enigiemand in die oë te kyk - bang vir niks. Ons het Mamma baie lief en weet dat Mamma ‘n baie groot rol in ons kinders se lewe gespeel het. Hulle almal was Ouma se trots.”

‘n Hartseer kleindogter, Megan Langbehn, onthou hoe haar ouma haar altyd van die familie vertel het. Megan koester haar familiefoto’s. “Sonder Ouma sou ek steeds nie geweet het wie die helfte van my familie is nie. Ouma was die ma van twee wonderlike kinders, ouma van sewe kleinkinders en oumagrootjie van een. Dankie vir alles wat Ouma vir hierdie familie gedoen het, dankie vir die wonderlike Ouma wat Ouma was. Ek gaan Ouma ongelooflik baie mis, mag Ouma nou in vrede wees daar Bo en vir Oupa hallo sê.”

Tammy Langbehn, kleindogter, onthou die spesiale tye: hoe sy so lekker van babatyd af by haar ouma gekuier het; dié ouma by wie se venster sy elke oggend uitgeloer het en die voëltjies gesoek het wat op dieselfde plek nes gemaak het; dié ouma wat haar deur matriek gehelp het en elke aand sekergemaak het dat sy nie aan die slaap raak as sy moes leer nie! “Ek is net só dankbaar dat Ouma vir klein Eunike kon leer ken het en so lief was vir haar. Selfs al was Ouma siek en nie lekker nie, wou Ouma haar steeds vashou met Ouma se fyn klein lyfie. Rus sag - nou is Ouma sonder pyn,” sê Tammy.

Nog ‘n kleindogter, Amor Veldsman, onthou haar ouma met deernis: “Sy was die vrou met die meeste wilskrag en die een met die besigheidsbrein in die familie – wat altyd bereid was om my meer te leer oor hoe die besigheidswêreld werk. Sy was die vrou wat altyd trots was op my, maak nie saak of ek foute gemaak het of nie. Sy sou enigiets doen om my my drome en doelwitte te laat bereik. Ouma het soveel vir my gedoen en opgeoffer.” Amor voeg by dat haar ouma ‘n ongelooflike goeie lewe voluit geleef het. Sy het nog baie planne gehad, onder meer vakansies wat sy saam met die mense vir wie sy lief was wou onderneem. “Sy wou ons ook net vet voer!” sê Amor.

Die familie wil graag vir dr. Emile Gaigher, Elsabé Marais en Hanlie Nagel bedank. Eunice word oorleef deur Georg Langbehn (seun), kleindogters Tammy, Megan en Kaylin Langbehn en agterkleinkind Eunike Fraser, asook Ursula van der Westhuizen (dogter), skoonseun Riaan en kleinkinders Amor en Wessel Veldsman en Basson en De Wet van der Westhuizen. Eunice laat ook haar susters Naomi van Wyk, Joyce Muirhead, Alta Joubert, Marina Visser en broer Hennie Viljoen agter. Eunice sal uit die Gereformeerde Kerk begrawe word.

“Ek hou daarvan om saam ouma te loop.

Haar treë is so kort soos myne

Sy sê nie ‘loop vinniger’ nie en sy vat altyd haar tyd.

Haar oë sien soos myne

Die klein klippies op die pad, die mooi wolke

Of die doudruppels op die blare.

Die meeste mense stap vinnig

Hulle stop glad nie om te kyk

Ek is bly die Here het oumas gemaak

So stadig en jonk soos ek!

Ekt ouma liéf x”

- Amor Lillie Veldsman

 

 
 
 

Viewed: 1958

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT