ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Tobie van den Heever (70) en die liefde van sy lewe, tannie Molly, wat hom twee maande gelede vooruitgegaan het. Die egpaar was 48 jaar getroud gewees. Foto verskaf.

Oom Tobie het geglo jy moet altyd gee

Date: 30 September 2021 By: 

“Die lewe gaan nie oor gee en neem nie - ‘n mens moet gee en gee – daarin vind mens ewige liefde en vrede.” Dit was die 70-jarige oom Tobie van den Heever se resep vir die lewe. Hy het op 28 September sy laaste gee gegee waar hy in die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria oorlede is, presies twee maande ná die dood van sy geliefde Molly, met wie hy 48 jaar getroud was.

Oom Tobie, of Oom Toon soos baie hom geken het, is op 5 Augustus 1951 in Louis Trichardt gebore en het hier sy skoolloopbaan voltooi. As jong seun het hy sy liefde vir radio’s en elektronika uitgeleef deur vir homself ‘n FM radio te bou waarmee hy na LM radio kon luister. Hy het altyd gespot en vertel hoe hy ‘n bamboes paal met ‘n lang draad vir ‘n antenna moes gebruik.

Ná voltooiing van sy diensplig in die weermag in 1969 het hy werk gekry by die destydse SAUK. Oor die jare het hy homself opgewerk tot ateljee-projekbestuurder. In die laaste jare van sy loopbaan by die SAUK het die gesin in Krugersdorp gewoon en was hy werksaam by die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park.

In 1989 het Tobie besluit om terug na Louis Trichardt te verhuis. Sy skoonouers het in daardie stadium na sy plaas op die Witvlag-pad omgesien wat hy vanaf sy moeder bekom het. Die afsterwe van sy skoonpa het sy gesin se lewe in ‘n ander rigting ingestuur en hulle het besluit om terug te keer na die Soutpansberg, waar hy grootgeword het. Hy het sy pos as projekbestuurder by die SAUK verlaat, waar hy toe alreeds 20 jaar diens gedoen het.

In 1990 het hy ‘n pos by Televonic in die destydse Pietersburg aanvaar om hier op Louis Trichardt ‘n tak vir hulle oop te maak en te bestuur. Hy het gehelp met die uitbrei van die tweerigtingradio herhaler netwerk soos dit vandag nog bestaan. In 1998 het Tobie se seun Tobie junior ‘n oorplasing gevra vanaf Televonic in Pietersburg na die Louis Trichardt-tak om onder sy pa se hand te werk en die tak verder uit te brei. In 2001 het Televonic hom die geleentheid gegee om die tak uit te koop en die tak se naam is verander na Vonitel Radio, wat toe deur pa en seun bedryf is.

In 2004 is plaaswagkanale vir die groter Soutpansberg area op die herhaler netwerk beskikbaar gestel as hulpmiddel vir kommunikasie vir die omgewing se mense - ‘n behoefte wat ontstaan het omdat die kommandostelsel sou ontbind. Die netwerk het toe reeds uit 22 herhalers bestaan.

Om soveel moontlik dekking in die area te kry, is nog herhalers oor die jare opgesit om die netwerk uit te brei en die beskikbaarheid van kommunikasie vir die gemeenskap te verseker. Hierdie radionetwerk bestaan nog en word steeds onderhou en bedryf. Tobie was ook in ‘n stadium voorsitter van die Witvlag Plaaswag en baie nou betrokke by die radio kommunikasie van die plaaswagte.

Tobie se liefde vir radio’s was kenmerkend aan hom. Die radio moes altyd speel in sy huis en om die plaaswag se radioroep in die aande te antwoord was vir hom prioriteit. Elke voertuig en huis van hom moes met ‘n tweerigting radio toegerus wees en die “volume moet opgedraai wees!” Hy sou jou aanhou roep tot jy antwoord … Sy stem op die radio in die aande gaan vir seker gemis word. In 2018 het Tobie die besigheid aan sy seun verkoop, sodat hy kon aftree.

Vir die laaste twee jaar was sy kleinseun Tobias sy oupa se “transporter” en is hy gereeld gevra om sy oupa, wat so lief was vir Easy Build, dorp toe te neem. As oupa gebel het, het die boerdery op die plaas tot stilstand gekom dat hy gou dorp toe geneem kon word. Die grendeltyd verlede jaar was vir oupa Tobie geen probleem nie. Hy het amper elke dag buitendien dorp-toe gegaan, ten spyte van dreigemente om die plaashek te sluit om hom te verhoed om uit te gaan. “Hy het summier gesê hy ry daai hek met sy Navara stukkend as ons hom sluit. Ai, ons gaan hom en sy sleutels baie mis,” het die familie gesê.

Oom Tobie is reeds sowat vyf jaar gelede gediagnoseer met hemochromatose - ‘n oorerflike siekte waar die liggaam toksiese vlakke yster opbou. Ongelukkig is die toestand baie laat in sy lewe gediagnoseer en het reeds aanleiding gegee tot hartversaking. Hy het uiteindelik baie siek geword weens verskeie verwante kwale en was vir twee weke in die hospitaal voor hy op Dinsdag, 28 September, omstreek 02:45 aan ‘n hartaanval oorlede is.

Wyle Tobie word oorleef deur sy kinders, Tobie en Elize van den Heever, Lance en Marisa Munroe en kleinkinders Tobias van den Heever, Lleyton en Mitchell-John Munroe.

Tobie junior en Marisa het hulle niggie, Marietjie Pieterse, bedank vir die liefde, versorging en tuis-verpleging van hul pa voor sy opname in die hospitaal. Hulle bedank ook vir dr. Casper Venter en al die personeel by Du Toit’s Apteek wat met soveel sorg en liefde oor die jare na hul ouers se welstand omgesien het. Laastens bedank hulle die familie, vriende en veral die Evas en gemeentelede van die NG Kerk Soutpansberg vir hul liefdevolle ondersteuning aan die familie in die laaste tyd. ‘n Gedenkdiens vir wyle Tobie word beplan vir Dinsdag, 5 Oktober. Meer besonderhede sal nader aan die tyd bekend gemaak word.

 

 
 
 

Viewed: 1922

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT