ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 27-jarige Trevor Gumbu, wat Saterdag in Musina aangekeer is vir die moord op die 80-jarige tannie Marthie Pauer van Louis Trichardt. Foto verskaf.

Woede ná moord

Date: 01 October 2021 By: Andries van Zyl

Die koelbloedige moord op die 80-jarige tannie Marthie Pauer, bekende boer- en sakevrou van die omgewing, het die afgelope week die Soutpansberg-gemeenskap tot in sy fondamente geskok en met woede vervul. Haar bebloede liggaam is verlede Donderdagaand, 23 September, in haar huis op Louis Trichardt gevind.

Tannie Marthie is die vorige dag laas lewend gesien. Sy het Woensdagaand van die familieplaas Vleifontein naby Waterpoort terug dorp toe gery, waarna sy en ‘n vriendin van haar, tannie Magda Strydom (72), gaan uiteet het. Omstreek 20:00 het die twee teruggekeer na tannie Marthie se huis. “Sy wou hê ek moes saam met haar eers kom koffie drink, maar dit was reeds laat en ek wou ook by my huis kom. Die laaste keer wat ek haar gesien het, was toe sy vir my met haar flitsie gewaai het toe ek wegry,” het ‘n steeds erg hartseer tannie Magda gesê. Sy is oortuig daarvan dat sy ook vermoor sou gewees het as sy saam met haar vriendin in haar huis ingegaan het.

Die vermoede bestaan dat tannie Marthie met haar terugkeer by haar huis deur haar moordenaar oorval is. Of die moordenaar vir haar buite haar huis ingewag het of reeds binne die huis was, is onseker.

Intussen het tannie Marthie se seun Junior, ‘n adjudant-offisier in die polisie wat by Waterpoort gestasioneer is, begin bekommerd raak omdat sy ma nie haar foon antwoord nie. “Ek het herhaaldelik gebel. Haar foon het nie eers gelui nie,” het Junior aan die Zoutpansberger gesê.

Omdat Junior verlede Donderdag aan diens was, het hy ‘n vriendin van hom gevra om te gaan kyk of alles reg is by sy ma sy huis. Niks kon hulle voorberei vir wat vir hulle by tannie Marthie se huis gewag het nie.

“’n Rukkie later hy my vriendin my teruggebel. Sy was in ‘n toestand. Toe sy die deur oopmaak, het sy my ma in ‘n plas bloed in haar kamer sien lê,” het Junior gesê. Dit was omstreek sewe-uur Donderdagaand. Junior het dadelik vanaf Waterpoort ingejaag dorp toe. Intussen is die plaaslike polisie na die toneel ontbied.

“Toe ek by my ma se huis aankom, wou ek ingaan. My kollegas het egter vir my gesê [ek moet] liewers nie,” het Junior gesê.

Tannie Marthie se liggaam het verskeie diep wonde gehad. “Ek het gehoor hulle het nog nie die moordwapen gekry nie,” het Junior gesê. Hy het egter gesê dat dit definitief een of ander skerp voorwerp moes gewees het.

Die moordenaar het ná sy gru-daad die huis se voordeur agter hom toegetrek en die huis gesluit. Al wat van die moordtoneel vermis was, was tannie Marthie se handsak, haar selfoon en haar bakkie.

Van meet af aan was daar net een verdagte gewees – die 27-jarige Trevor Gumbu, ‘n Zimbabwiese burger. Hy het vir die Pauers in hul tuin op hul plaas en by tannie Marthie se huis in die dorp gewerk. Hulle het egter sy dienste beëindig, nadat hulle hom gevang steel het. Hiervoor het tannie Marthie hom laat aankla, ‘n klag waarvoor hy gearresteer is en in die hof verskyn het, waar hy op R1 000 borg vrygelaat is. Dit was so ‘n maand-en-‘n-half gelede.

Gumbu het daarna klaarblyklik uit woede met ‘n terreurveldtog teen die Pauers begin. Junior het vertel dat sowat ‘n week nadat Gumbu op borg vrygelaat is, hy en sy ma een aand in die plaashuis gesit het. Skielik was daar ‘n klop aan die deur en toe Junior oopmaak, het Gumbu hom na bewering met ‘n byl oor die kop gekap en gevlug. Wonderbaarlik het Junior oorleef. Sowat drie weke gelede is Gumbu in ‘n buitetoilet betrap waar hy by tannie Marthie se huis weggekruip het. Weer het hy egter arrestasie ontglip.

Tannie Marthie se bakkie sou egter uiteindelik Gumbu se lot verseël. Hy is Saterdag, 25 September, gearresteer nadat inligting ontvang is dat Gumbu blykbaar die bakkie probeer verkoop het. Hy is ná sy arrestasie na die polisieselle op Louis Trichardt gebring, waar hy Dinsdag in die hof verskyn het. Sy saak is uitgestel tot 4 Oktober vir verdere ondersoek. Tot dan sal Gumbu in aanhouding bly.

Junior is baie bitter oor die feit dat die hof aanvanklik vir Gumbu borg gegee het op die diefstalklag. “My groot vraag is: As ‘n Zimbabwiese burger, hoe kon hy borg gekry het? As hy nie borg gekry het nie, kon hy my nie op die plaas kom aanval het nie en ook nie my ma doodgemaak het nie. Neem hulle nie ander landsburgers se veiligheid in ag nie?” het Junior gesê.

Intussen moes Junior Dinsdag sy ma se liggaam gaan uitken by die lykshuis op Elim. “Ek het berusting. Sekere mense is net barbaars,” het Junior gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1914

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT