ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Staat se saak teen sewe jongmense neem nuwe wending

Date: 14 October 2021 By: Andries van Zyl

Die Staat se saak teen ‘n groep van sewe van Louis Trichardt se jongmense wat vroeër vanjaar gearresteer is op ‘n reeks klagte wat gewissel het van die onwettige besit van ‘n vuurwapen, huisbraak, en veediefstal tot die besit van vermoedelik gesteelde goedere het die afgelope week ‘n nuwe wending geneem.

Al sewe die verdagtes is ná twee polisie klopjagte by twee privaatwonings op 7 April vanjaar gearresteer. Hulle was die 27-jarige Richard Petrus Jacobus (Koos) Duvenhage, die 25-jarige Neil Duvenhage, die 30-jarige Zandroux Hibbert, die 29-jarige Christine Labuschagne, die 20-jarige Marvelique van der Merwe, die 26-jarige Wonder Jere en die 36-jarige Francois Vermeulen.

Van der Merwe, wat aangekla is vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen, se saak is van die ander geskei, omdat sy nie met die ander oortredings verbind kon word nie. Die ander ses beskuldigdes staan tereg op vyf klagte van huisbraak, een klag van veediefstal en twee klagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Van der Merwe was die eerste om borg (R1 500) toegestaan te word ná die groep se eerste verskyning in die hof op 9 April. Kort daarna is Jere R1 000 borg toegestaan, terwyl al die ander later R5 000 borg gekry het.

Van der Merwe se saak het op Donderdag, 30 September, weer voorgekom. Haar saak is egter tydelik van die hofrol geskrap om die polisie kans te gee om hulle ondersoek af te handel en omdat die uitslag van die ballistiese toetse wat gedoen is op die vuurwapen wat in haar besit gevind is nog nie ontvang is nie. Indien genoegsame bewyse in haar saak na vore kom, kan dit weer teruggeplaas word op die hofrol.

Die twee Duvenhages, Vermeulen, Hibbert, Labuschagne, en Jere se saak het op 4 Oktober weer voorgekom. Tydens hulle hofverskyning is alle klagte teen hulle voorlopig teruggetrek, nadat die hof geweier het om verdere uitstel te gee vir die polisie om hulle ondersoek af te handel. Wanneer die polisieondersoek afgehandel is, sal die saak weer na ‘n Staatsaanklaer verwys word. Al die beskuldigdes in die saak se borg is aan hulle terugbetaal.

 

 
 
 

Viewed: 1302

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT