ADVERTISEMENT:

 

 
 

Van der Walt se voertuig (regs) waar dit op die sypaadjie tot stilstand gekom het, nadat die bestuurder van die voertuig links hom teen hoë spoed getref het. Inals: Die 61-jarige dr. Len van der Walt. Foto verskaf.

Bekende arbeidman breek ses ribbes in ongeluk

Date: 22 October 2021 By: Andries van Zyl

Dr Len van der Walt, ‘n bekende in plaaslike arbeidsaangeleenthede, is gelukkig om te leef ná ‘n redelike ernstige motorongeluk in Kroghstraat, Louis Trichardt, verlede Woensdagmiddag.

Die 61-jarige Van der Walt het vertel dat hy ná ‘n vergadering by die plaaslike Kommissie van Versoening Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) se kantore in ‘n noordelike rigting op pad na sy huis toe in Kroghstraat gery het. Die volgende oomblik het ‘n 23-jarige jong man, wat van oos na wes gery het, klaarblyklik die stopteken in Bredastraat, langs die Prognos Mediese Sentrum, verontagsaam en Van der Walt se voertuig op die bestuurderskant  getref.

Die geweld van die impak het Van der Walt se voertuig vanaf die regterbaan waarin hy op reis was, oor die linkerbaan geskuif tot op die sypaadjie, waar beide voertuie tot stilstand gekom het. Van der Walt was vir ‘n periode bewusteloos.

Dr. Casper Venter van die Prognos Mediese Sentrum het die slag van die botsing gehoor en dadelik uitgehardloop om te kyk of iemand mediese hulp nodig het - weliswaar iets wat Van der Walt dringend nodig gehad het, aangesien hy ernstige asemnood ervaar het ná hy weer bygekom het. Dr. Venter het nie tyd gemors nie en sommer vir Van der Walt in sy privaatmotor gelaai en hospitaal toe gejaag.

By die hospitaal aangekom, sou hulle vind dat, buiten vir beserings aan sy kop en regterskouer, Van der Walt ook ses ribbes in die ongeluk gebreek het. Die gebreekte ribbes het die asemnood veroorsaak. Van der Walt is oornag vir observasie gehou, waarna hy wonderbaarlik die volgende dag ontslaan is, wat egter nie beteken het dat hy nog erge pyn ervaar nie. Van der Walt het aan die koerant gesê dat hy deurlopend sterk pynstillers moet drink, met die ribbes wat ongeveer agt weke gaan neem om aan te groei.

Die ongeluk het Van der Walt woedend gelaat. “Louis Trichardt se bestuurders laat veel te wense oor. Dit is nie die eerste keer nie. Mense stop waar hulle wil en ry soos hulle wil. Ek meen, hierdie ou het my teen so ‘n hoë spoed geslaan dat ek op die sypaadjie beland het. Dit is tyd dat iets hieroor gedoen word,” het Van der Walt gesê. Sy voertuig is intussen afgeskryf.

Van der Walt het egter hoë lof gehad vir die mense wat hom op die ongelukstoneel bygestaan het. “Ek wil dit prominent noem. Dr. Casper Venter was ‘n ster! Ek meen, hy het uitgehardloop, my fisies uitgehaal uit my voertuig, my fisies in sy voertuig gesit en afgevoer hospitaal toe. Die aand, nadat hy in die teater was vir ‘n geval, het hy steeds teruggekom om te kyk hoe gaan dit met my. Ek is baie dank aan hom verskuldig,” het Van der Walt gesê.

Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het Dinsdag bevestig dat hulle ‘n saak van roekeloos of nalatige bestuur ondersoek. Sy het ook gesê dat gerugte dat die jong bestuurder van die ander voertuig nie ‘n geldige rybewys gehad het nie, onwaar is en dat hy wel ‘n geldige rybewys het. Verdere gerugte dat die jong bestuurder moontlik onder die invloed van alkohol kon gewees het, het ook die rondte gedoen. Radzilane het egter gesê dat sy nie daarop kon reageer nie, aangesien geen bloed getrek is nie. Volgens haar sou bloed volgens wet van beide partye getrek moes word, sou daar bewerings van moontlik dronkbestuur wees. Dit het nie gebeur nie.

 

 
 
 

Viewed: 1849

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT