ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Alicia de Nysschen (23) met haar kenmerkende mooi glimlag. Op haar skoot sit haar een “kind” Tinkie. Foto verskaf.

Familie platgeslaan ná dood van sprankelende Alicia

Date: 12 November 2021 By: Andries van Zyl

Familie en vriende sukkel steeds om die skielike dood van die jong en lewenslustige Alicia Angelique de Nysschen (23) van Louis Trichardt in ‘n motorongeluk Saterdagaand, 6 November, te verwerk. Die ongeluk het omstreeks 23:00 op die Waterpoort/Alldays-pad plaasgevind.

Vir veral haar suster, Rika Erasmus, het die nuus van Alicia se dood as groot skok gekom. Ná hulle ma se dood in 2014 het Rika haar sussie vanaf die ouderdom van 16 jaar help grootmaak.

Die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, is tans onderhewig aan ‘n polisieondersoek. ‘n Erg bedroefde Rika het Dinsdag gesê dat haar sussie saam met verloofde, Morné Nel (36), gegaan het om ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing vir die naweek op te pas. Hulle het reeds vroeër die naweek op die plaas opgedaag en waarom hulle, saam met twee plaashulpe, so laat in die aand op die pad was, is onseker. Die voertuig, wat deur Morné bestuur is, het die pad verlaat en gerol. Alicia is klaarblyklik op slag dood, terwyl Morné en die twee plaashulpe net ligte beserings opgedoen het.

Alicia is ‘n oud-leerling van beide Laer- en Hoërskool Louis Trichardt. Tot en met haar dood was sy ‘n bekende gesig by Bearing Man op Louis Trichardt, waar sy vir etlike jare in die finansiële afdeling as krediteure klerk gewerk het.

“Sy was pragtig en het geborrel van spontaniteit.  ‘n Regte reënboogmens. Sy het altyd ‘n goeie woord gehad vir iemand wat ‘n afdag gehad het en altyd probeer om mense se gemoed op te helder … sy het so ‘n pragtige glimlag gehad,” het Rika gesê.

Rika onthou ook haar sussie as iemand wat baie lief was vir haar honde, Rover en Tinkie. “Dit was soos haar kinders gewees,” het Rika gesê. Buiten vir haar liefde vir honde was sy ook baie lief vir mense gewees. “Ons as familie was baie na aan mekaar gewees,” het Rika gesê.

‘n Roudiens vir wyle Alicia is vandag, 12 November, vanuit die Emmanuel Christelike Kerk op Louis Trichardt gehou. Sy word oorleef deur susters Rika en Marnel, broer Jean- Pierre, kleinniggies Joerika en Tanya en kleinneef Jean.

Rika het namens die familie hul opregte dank uitgespreek teenoor die personeel van Bearing Man, wat soos familie vir Alicia was, asook die Emmanuel Christelike Kerk vir hulle bystand en hulp. Hulle het ook El Shaddai Funerals bedank vir hulle uitstekende diens.

 “Ai, my ou Lish. Die lewe loop soms wrede draaie met mense. Nooit het ek geweet dat dit die laaste keer sal wees wat ek jou sou sien nie. Ons gaan jou beeldskone glimlag en jou vinnige goeie en mooi woorde vreeslik mis. My hart is stukkend. Rus sag, my liefde,” was Rika se afskeidswoorde aan haar sussie.

 

 
 
 

Viewed: 2415

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT