ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Attie Jonker (60). Foto verskaf.

Tragiese einde aan altyd-vriendelike Attie

Date: 13 November 2021 By: Andries van Zyl

‘n Fratsongeluk het die afgelope week die lewe geëis van die altyd-vriendelike Attie Jonker (60) van Louis Trichardt. Attie was welbekend omdat hy altyd almal gegroet het terwyl hy die dorp platgetrap het op sy fiets.

Die ongeluk wat Attie se lewe sou eis het Donderdag, 4 November, omstreeks 13:30 bykans reg voor die Louis Trichardt Gedenkhospitaal plaasgevind. Attie het ‘n pasiënt daar besoek en was met sy fiets op pad terug huis toe na sy woning in Munnikstraat.  

Een van die laaste persone wat Attie lewend gesien het, was ds. Robbie Novella van die St Mark’s Anglikaanse Kerk in Munnikstraat. Attie was goed bekend aan hom, omdat hulle skaars ‘n straatblok uitmekaar gebly het en mekaar gereeld gesien het.

“Attie het skuins voor my by die hospitaal se hek uitgery en ons het mekaar soos altyd vriendelik gegroet,” het Robbie gesê. Robbie, ‘n geesdriftige bergfietsryer, was in daardie stadium noordwaarts in Hospitaalstraat met sy fiets op pad berg toe, terwyl Attie suidwaarts gery het.

“Die volgende oomblik het ek ‘n slag gehoor en toe ek omkyk, sien ek vir Attie plat op sy rug in die pad lê. Teen die tyd wat ek by hom gekom het, was hy reeds bewusteloos,” het Robbie gesê.

Robbie het dadelik hulp probeer ontbied van die hospitaalpersoneel aangesien hy skaars 30 meter van die hospitaal se hoofhek geval het. Daar was egter nie ‘n draagbaar beskikbaar nie en hulle kon nie vir Attie in ‘n rolstoel sit nie, want hy was bewusteloos. In ‘n stadium het ‘n jong vroutjie met haar kar by Attie gestop en sy en Robbie het vir Attie ingelaai. “Toe ons hom optel kon ek sien daar is bloed aan sy agterkop, nie baie nie, maar daar was bloed. Ek het dit aan sy val toegeskryf, omdat hy nie ‘n valhelm gedra het nie,” het Robbie gesê.

Attie is opgeneem in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal. Intussen het ‘n jong man vir Robbie gehelp om Attie se fiets huis toe te vat, waarna Robbie sy fietsrit voortgesit het. “Vrydagoggend het ‘n man van die hospitaal by my huis aangekom. Hy wou weet of ek weet wie Attie se naasbestaandes is? Ek het vir hom gesê ek het nie ‘n idee nie. Dit was toe dat hy vir my sê dat Attie oorgeplaas is na die provinsiale hospitaal in Polokwane waar hy dood is,” het Robbie gesê.

Johan Jonker, Attie se broer, vervat die storie. Sy vrou Anna-Marie, Attie se skoonsuster, was Donderdagmiddag net betyds om die ambulans te vang voordat dit vir Attie Polokwane toe sou neem. “My vrou het hom gesien in die ambulans hier by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal. Sy het gesien hy is rustig en haal rustig asem. Sy het toe met hom gepraat en vir hom ‘n gebed gedoen. Maar hy het nie reageer nie. Hulle dink hy was toe reeds in ‘n koma,” het Johan gesê. Hy het bevestig dat Attie vroeg Vrydagoggend oorlede is.

“Ja, hy het die wêreld vol gery met sy fiets. Sy gunsteling sê-ding was: Prys die Here!,” onthou Johan sy broer.

Min mense weet dit, maar Attie was eens ‘n soldaat in die ou Suid-Afrikaanse Weermag wat in die destydse Bosoorlog op die Angolese-grens geveg het. Dit was hier waar hy ‘n ernstige breinbesering opgedoen het tydens ‘n ontploffing toe ‘n stuk skrapnel hom in die kop getref het. “Maar hy het goed reggekom. Hulle het aanvanklik gedink hy gaan nie weer kan loop of skryf nie, maar hy kon later alles doen. En hy was nie onnosel nie. Hy kon dinge vir homself uitwerk,” het Johan gesê.

Wat begrafnisreëlings betref het Johan gesê sy broer se laaste wens was om veras te word. “Hy was ook nie iemand wat na ‘n spesifieke kerk toe gegaan het nie. Hy was sy eie kerk. Hy het kerk gehou saam met die plaaslike volk daar in die berg. Ons sal sy as by sy ma-hulle se graf in die begraafplaas hier op die dorp sit,” het Johan gesê.

Wyle Attie word oorleef deur sy seun Pieter en broer Johan.

* Aanvanklik is vermoed dat Attie moontlik ‘n hartaanval op die fiets gehad het. Sy familie het egter Dinsdag bevestig dat die outopsie gewys het dat hy weens bloeding op die brein weens die val, nie ‘n hartaanval nie, gesterf het.

 
 
 

Viewed: 2153

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT