ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jan “Slang” van Rooyen met die ietermagog wat hy met die hulp van die polisie se Bedreigde Spesies Eenheid verlede week van ‘n gewisse dood kon red. Jan sou later uitvind dat dit ‘n wyfie ietermagog is wat dragtig is. Foto verskaf.

Gierigheid land twee in selle

Date: 23 December 2021 By: Andries van Zyl

Twee mans van die Kutama/Sinthumule area het Vrydag (17de) uitgevind hoe dit voel om teen jou wil aangehou te word, nadat hulle in ‘n polisie lokval gearresteer is toe hulle probeer het om ‘n ietermagog aan ‘n lid van die publiek te verkoop. Die arrestasie van die mans is direk te danke aan bekende slangvanger Jan “Slang” van Rooyen en Big Five Sekuriteit.

Van Rooyen het Maandag aan die Zoutpansberger die gebeure verduidelik wat gelei het tot die mans se arrestasie. Alles het verlede Woensdag begin ontvou.

Volgens Jan, wat vir Big Five Sekuriteit werksaam is, het hy uit die bloute ‘n oproep van ‘n man ontvang wat hy een keer tevore ontmoet het toe hy per geleentheid wagte op ‘n plaas in die Kutama/Sinthumule area gaan aflaai het. Terwyl hy daar staan en wag het, het hy vir ‘n paar omstanders van die slange op sy selfoon gewys wat hy al gevang het. “Ek het toe vir hulle gesê as hulle enige iets kry wat seergekry het of ‘n slang wat verwyder moet word, moet hulle my bel,” het Jan gesê.

En toe bel die man. “Die ou het my gebel en gevra soek ek ‘n ietermagog? Toe sê ek ja, natuurlik!” het Jan gesê. Dit was op 15 Desember. Die man, wat as middelman opgetree het, het egter vir Jan gesê dat die verkoper geld wil hê. “Ek het vir hom gevra hoeveel soek die verkoper vir die dier,” het Jan gesê.

Die verkoper se aanvanklike prys was R300 000. “Ek het vir hom gesê R300 000 is bietjie woes. Ons sou later ooreenkom op ‘n prys van R250 000,” het Jan gesê. Wat dalk belangrik is om hier te noem is dat R300 000 nie ‘n belaglike prys is om op die swartmark vir ‘n ietermagog te betaal nie. Volgens Jan kan hulle tot R500 000 kos vir kopers uit onder meer Sjina, wat die dier vir allerhande “medisynes” gebruik. “Hulle gebruik die skubbe en die kloue,” het Jan gesê.

In stede daarvan dat Jan ná die oproep verlede week begin het om geld bymekaar te maak, het hy dadelik ‘n lid van natuurbewaring geskakel. “Ek het besef ons moet die dier probeer red,” het Jan gesê. Natuurbewaring het egter niks weer van hulle laat hoor nie en Jan het toe ‘n vriend van hom by die Makhado SAPD geskakel vir hulp. Dié het hom verwys na die polisie se Bedreigde Spesies Eenheid in Musina, wat dadelik opgetree het. Die eenheid het onmiddellik begin het om saam met Jan en Big Five Sekuriteit ‘n plan te beraam om die verkoper en sy middelman vas te trek.

Jan het toe weer met die middelman kontak gemaak. “Ek het hom laat weet dat dit ‘n groot hoeveelheid geld is en dat ons eers Vrydag bank toe moet gaan om die geld te trek. Ons het toe ooreengekom om mekaar daarna weer op die plaas te ontmoet,” het Jan gesê. Nodeloos om te sê, met die middelman en verkoper se aankoms op die plaas het die polisie vir hulle gewag.

Die polisie het op die toneel beslag gelê op die ietermagog. “Die dier is dadelik na ‘n veearts in Polokwane geneem wat spesialiseer in ietermagogs. Die dier is daarna oorgeplaas na ‘n rehabilitasie sentrum in Gauteng. Sondag het ‘n lid van die rehabilitasiesentrum my geskakel en gesê dat dit ‘n wyfie ietermagog is en dat sy dragtig is,” het Jan gesê. Dit het die redding van die dier soveel meer spesiaal vir Jan gemaak. “As jy enige dier kan red, is dit ‘n wen!” het Jan gesê.

Jan het gesê dat onkunde of opportunisme gewis geensins ‘n rol in die twee mans se aksies gespeel het nie. “Dit is absolute gierigheid! As dit onkunde was, sou hulle nie geweet het wat is die pryse waarvoor hierdie diere gaan nie,” het Jan gesê.

Teen druktyd was die uitslag van die twee mans se eerste hofverskyning Dinsdag nog nie bekend nie, derhalwe kan die koerant nie hulle identiteite bekend maak nie.

 

 
 
 

Viewed: 1518

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT