ADVERTISEMENT:

 

 
 

Prieur se erg beseerde linkerhand, nadat die krokodil hom daaraan gegryp het. Foto verskaf.

Student ontsnap uit krok se kake

Date: 14 January 2022 By: Karla van Zyl

Inwoners van die Musina-omgewing is al gewoond aan die snikhete somermaand temperature en vind dit nie vreemd om vinnig in ‘n plaasdam te gaan afkoel nie. Die 25-jarige Prieur Ueckerman het presies hierdie idee gehad, maar sy besluit om te gaan afkoel en bietjie te ontspan het vinnig in vrees verander en byna sy lewe gekos.

Te midde van ‘n snikhete dag het Prieur op Maandag, 27 Desember, besluit om sommer bietjie in hul plaasdam op hul plaas in die Weipe-omgewing te gaan afkoel. Hy was omtrent borshoogte in die dam, toe hy voel iets gryp hom aan die linkerarm. Tot sy ontsteltenis was sy aanvaller ‘n krokodil.

Prieur, wat alleen was, het besef hy was in die moeilikheid en het met alle mag en mening probeer om die krokodil [van bykans twee meter lank] se kaak oop te forseer met sy regterhand. Hy het egter gou besef hy voer ‘n verlore stryd. Al wat gebeur het was dat hy die vingers aan sy regterhand teen die krokodil se tande stukkend gesny het.

Gelukkig het Prieur kop gehou. Hy het besef dat hy ‘n beter kans op oorlewing sou hê in vlakker water. Hy het die krokodil om die lyf gevat, styf teen sy lyf vasgedruk en na vlakker water geneem. Met die besef dat hy nie die krokodil se kake sou kon oop forseer nie, het hy sy regterduim in die krokodil se oog gedruk. Met dié het die krokodil sy greep op Prieur se linkerarm gelos. Haastig het Prieur hande-viervoet uit die water probeer klouter, maar die krokodil het hom weer van agter probeer gryp. Die krokodil het hom skrams raakgebyt, maar kon gelukkig nie ‘n goeie greep kry nie en Prieur kon die veiligheid van die oewer bereik.

Prieur was erg beseer, met bytwonde aan sy linkerarm en -hand, lae rug en boud, asook snywonde aan sy regterhand. Hy het besef dat hy dringend mediese hulp nodig het. Bebloed het hy dit terug gemaak tot by sy Toyota Land Cruiser, waarna hy in tweede rat huis toe gekruie het.

By die huis aangekom het Prieur se pa, Francois, hom dadelik deurgejaag na dr. Richard Schmidt op Musina. Dr. Schmidt het ná behandeling van die bytwonde aanbeveel dat Prieur so gou as moontlik by ‘n spesialis moes uitkom vir verdere behandeling. Hulle is dus dringend Tzaneen toe, waar hulle uitstekende diens ontvang het van beide Dr. Van der Merwe en Dr. Molepo. Infeksie van die wonde was hul grootste vrees en dié is deeglik skoongemaak in die teater, nog dieselfde aand ná die aanval. Twee dae later, op Woensdag 29 Desember, is die beskadigde senings in sy linkerhand suksesvol geheg, met die prognose van ‘n volkome herstel. ‘n Dag later (30 Desember) is Prieur uit die hospitaal ontslaan.

Volgens Prieur se ma, Marianne, is haar seun baie dankbaar dat hy nog lewe en steeds volle gebruik van sy hand het, aangesien hy ‘n argitektuurstudent is. Wat die krokodil betref, dié swem steeds in die dam rond. Die familie vermoed die reptiel het sy weg na die dam gevind ná afloop van die goeie reënneerslae oor die gebied die afgelope tyd. Die dam het nooit voorheen ‘n krokodil of krokodille daarin gehad nie, en hierdie is die eerste keer dat so iets op die plaas gebeur het.

 

 
 
 

Viewed: 1754

 

 
 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT