ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tuba en Retha van der Walt van die plaas Ludwigslust, wat einde verlede jaar die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se gesogte Orde van die Berghaan-bewaringstoekenning ontvang het. Foto verskaf.

Gesogte bewaringstoekenning aan Musina-egpaar

Date: 15 January 2022 By: 

‘n Unieke eer het die welbekende Tuba en Retha van der Walt van die wild- en jagplaas Ludwigslust buite Musina te beurt geval toe hulle die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se gesogte Orde van die Berghaan-bewaringstoekenning ontvang het. Die toekenning is einde 2021 gemaak tydens die SAJWV se virtuele jaarlikse kongres.

Die Orde van die Berghaan is  ‘n eenmalige toekenning en word gemaak aan lede, nie-lede, takke en burgerlike organisasies wat ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die bewaring van die land se biodiversiteit of tot die versekering van die voortbestaan van die land se natuurlike habitat en natuurlewe. Individue wat genomineer word, word beoordeel volgens hul aktiewe deelname aan verskeie algemene bewaringsaksies; hul lidmaatskap van bewaringsorganisasies en deelname aan die liggame se bewaringsaksies; hul openbare beeld ten opsigte van bewaring; hul bevordering van bewaring in die media; en hul suksesvolle loodsing en voltooiing van bewaringsaksies.

In hulle motivering om die Orde van die Berghaan en Tuba en Retha toe te ken, het die SAJWV gesê dat die egpaar al vir 22 jaar die wild- en jagplase Ludwigslust  namens die Lordan-familie bestuur en dat Tuba ‘n lid is van SA Jagters. Tuba was voorheen hoof van Venda Natuurbewaring, waar hy verantwoordelik was vir die vestiging van verskeie reservate. Die bekendste van hierdie parke is waarskynlik Makuya, wat aanliggend tot die Krugerwildtuin is en steeds as park bestaan.

“Tuba en Retha het hulle nooit laat mislei toe die teel van kleurvariante van wild gewild geraak het nie en het deurentyd gewaarsku teen die teel en aanhou van kleurvariante wat Tuba dikwels as ‘n piramiedeskema beskryf het. Hulle het doodgewoon gehou by die beginsels van goeie ekstensiewe wildboerdery op groter oppervlaktes en het geen intensiewe wildboerderypraktye gevolg nie,” sê die SAJWV in hulle motivering.

Tuba is ook bekend vir sy humoristiese sketse geskryf vir die tydskrifte Wild en Jag en SA Jagter wat onder die naam Pensmis geskryf is. Hierdie reeks humoristiese sketse deur Tuba, waarin hy dikwels die draak steek met allerhande neigings en ook met individue in die wild- en jagbedryf, is later uitgegee as ‘n boekie met die titel Pensmis.

Verder het die SAJWV gesê dat die fokus van Ludwigslust Safaris oor al die jare steeds die plaaslike verbruiksjagter gebly het en jag deur verbruiksjagters vorm steeds die grootste deel van die wildbestuursprogram wat hulle volg. Hulle prysstruktuur het oor jare so gebly dat dit steeds moontlik is om vir vleis te gaan jag. Hiernaas word oorskot wild gevang en lewendig verkoop. Ludwigslust is steeds een van die wildplase in die Limpopo-vallei waar jagters te voet jag en wild tot so groot as buffels in die veld raakgeloop kan word op die plaas wat as eenheid sonder binneheinings bestuur word.

“Bo en behalwe hulle werk as bestuurders van Ludwigslust Safaris en die wildplase is Tuba en Retha ook beide natuurwetenskaplikes wat hulle waarnemings in die natuur doen en die moeite doen om dit te beskryf. Ludwigslust as hulle basis is geleë ongeveer 25 km Wes van Musina. Hulle werk as wetenskaplikes word grootliks gedoen in die ongeveer 150 km gebied langs die Limpoporivier wat strek van Malaladrif Oos van Musina tot by Mapungubwe Wes van Musina,” het die SAJWV gesê.

In 2009 is Retha se eerste veldgids gepubliseer met die titel Wild Flowers of the Limpopo Including Mapungubwe National Park. In hierdie boek van 394 bladsye word die blomme wat natuurlik in die Limpopo-vallei tussen Malaladrif en Mapungubwe voorkom beskryf. Die boek is saamgestel met die inligting uit Tuba en Retha se waarnemings oor verloop van ongeveer 10 jaar in die gedeelte van die Limpopo-vallei soos aangedui.

Die egpaar se tweede veldgids, Fungi and Lichens of the Limpopo Valley & Mapungubwe National Park, het einde 2020 verskyn. Hierdie is ‘n 362-bladsy veldgids met die fungi en ligene in dieselfde gedeelte van die Limpopo-vallei as fokus en is gebaseer op die laaste 11 jaar se waarneming en optekening van fungi en ligene in dieselfde streek. In hierdie geval is ‘n hele paar spesies vir die eerste keer beskryf en was die bestaan daarvan in die RSA geensins bekend voordat dit deur Retha in hierdie boek beskryf is nie. Meer onlangs, middel Desember verlede jaar, het die egpaar se derde veldgids 50 Grasse van die Limpopo-vallei verskyn (sien berig hieroor elders in hierdie uitgawe).  

Buiten Tuba en Retha se bydrae tot die volhoubare bestuur van Ludwigslust Safaris, wat steeds billike pryse en konserwatiewe jag te voet aanbied, en hulle bewaringsbydrae tot die wetenskap, het die SAJWV gesê dat die Orde van die Berghaan aan hulle gemaak is ook op grond van die bydrae wat hulle as bestuurslede gelewer het in die ontwikkeling en voortbestaan van die Musina Wildstudiegroep wat ekstensiewe wildboerdery in die Limpopo-vallei gevestig het.

 

 
 
 

Viewed: 1937

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT