ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen staan hier met ‘n Wipneus Kobra wat hy onlangs gevang het. Foto verskaf.

Slange tans baie bedrywig waarsku kenner

Date: 15 January 2022 By: Andries van Zyl

Die voorkoms van slange het die afgelope paar weke dramaties toegeneem en plaaslike slangvangers het letterlik hulle hande vol met klagte van “probleemslange” by wonings en besighede.

Volgens plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen is die toename in die voorkoms van slang te danke aan die mildelike reën en hoë temperature oor die streek die afgelope tyd. “Slange is nou meer aktief. Hulle is uit opsoek na prooi en kom gereeld met mense in aanraking wanneer hulle in huise, erwe, voëlhokke, ensovoorts ingaan opsoek na kos of skuiling,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen is ‘n groot kampvegter teen die doodmaak van slange, juis vanweë die belangrike rol wat hulle in die ekologie speel, byvoorbeeld ten opsigte van die beheer van plae soos muise en rotte. Sy raad is altyd om slange eerder alleen te los wanneer hulle in die natuur teëgekom word. Indien hulle in geboue of op erwe gevind word, is sy raad om eerder ‘n slangvanger te skakel om die slang te kom verwyder. Hy het inwoners gewaarsku om nooit self te probeer om ‘n slang te vang nie.

Van Rooyen het egter goeie raad gegee om inwoners te help om die teenwoordigheid van slange op hulle erwe en in hulle wonings te probeer beperk.

Ten eerste het hy gesê dat om goed teen mure te stapel nie raadsaam is nie. “Slange sal gewoonlik veel eerder teen ‘n muur af beweeg as oor die grond, aangesien hulle dan maklik gesien kan word deur roofdiere wat op hulle predateer. Om goed omtrent ‘n meter van die muur af te pak kan baie help, aangesien dit nie skuiling sal bied nie,” het Van Rooyen gesê.

Om jou erf altyd skoon te hou van enige tuinvullis is ook aan te beveel, aangesien dit ideale skuiling bied vir slange asook hulle prooi soos paddas, muise en rotte. “As slange nie iets kry om te eet nie, sal hulle aanbeweeg tot hulle kos kry,” het Van Rooyen gesê. Wat laasgenoemde betref, het Van Rooyen troeteldiereienaars aangeraai om hulle huisdiere se kos- en waterbakke op te lig, aangesien dit muise en rotte kan lok as dit buite staan. Die maklikste manier om slange uit ‘n huis te hou bly ook steeds om bloot venters en deure toe te hou waar moontlik.

“Moet asseblief nie snaakse goed om huise spuit nie. Dit werk regtig nie en sal jou plek net laat stink. ‘Snake repellant’ wat te koop is by verskillende plekke werk ook nie. Alles wat die ronde doen wat kastig slange weghou is reeds getoets. Dit werk nie,” het Van Rooyen gesê.

Indien iemand wel ‘n slang teëkom, is Van Rooyen se raad om nie die reptiel te konfronteer nie. “Slange sal reageer as hulle bedreig voel. Moet ook asseblief nie die slang probeer doodmaak nie; die meeste slangbyte vind plaas wanneer mense slange konfronteer en probeer doodmaak. Glo my, ‘n ernstige byt van ‘n giftige slang is nie die moeite werd nie. Dokters- en hospitaalkoste kan baie duisende rande beloop, wat onnodig is,” het Van Rooyen gesê.

Indien iemand wel ‘n slang teëkom, raai Van Rooyen mense aan om eerder die slang met vrede te laat en op ‘n veilige afstand dop te hou, terwyl met een van die dorp se slangvangers kontak gemaak word.  “Hou troeteldiere, veral honde, weg van slange af. Honde het ‘n baie groot beskermingsinstink en sal enige tyd ‘n slang aanvat om hulle mense te beskerm. Dit eindig gewoonlik sleg vir hond en slang. Belangrik om te onthou is dat slange nie gevaarlik is wanneer hulle met rus gelaat word nie. Slange is slegs gevaarlik wanneer hulle gekonfronteer word en genoodsaak is om hulself te verdedig,” het Van Rooyen gesê. Hy het mense bedank wat hulle eerder kontak voordat ‘n slang doodgemaak word.

Vir hulp met ‘n slang, skakel Van Rooyen by tel. 067 835 0816 of Frikkie Venter by 082 058 7601. “Ons vra nie geld nie, maar sal dankbaar wees vir ‘n donasie as ons uitgaan. Ons het steeds onkoste en ons stel ons lewens in gevaar,” het Van Rooyen gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1051

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT